Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 32
Оглавление28 Januarie – In God se teenwoordigheid
28 JANUARIE
Lees: Deuteronomium 4:1–8
In God se teenwoordigheid
Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wat ek vandag vir julle gee?” – Deuteronomium 4:7–8
In Moses se “afskeidspreek” vertel hy die Israeliete dat hul God met hulle sal saamgaan wanneer hulle die beloofde land intrek en hulle sal lei soos wat Hy dit in die woestyn gedoen het. Hy druk dit vir hulle op die hart dat hulle God moet gehoorsaam omdat daar geen ander nasie is met ’n God wat by hulle is elke keer as hulle tot hom bid nie. Daar is ook nie nog ’n god met sulke billike voorskrifte en bepalings soos Israel se Verbondsgod nie.
Ons lewe duisende jare ná Moses. Maar ons aanbid dieselfde God van Israel. En ons God is steeds naby wanneer ons bid. Jy hoef maar net jou oë toe te maak en met Hom te praat om sy teenwoordigheid by jou te ervaar. Die Engelse vertaling van vandag se kernvers lui: “What other nation is so great as to have their gods near them the way the Lord our God is near us whenever we pray to him?” (New International Version).
“Gebed hoef nie altyd mooi woorde te hê nie. Gebed is ’n lewens-wyse. Gebed is om in alle omstandighede bewus te wees van God se teenwoordigheid en om te weet: God is vir my,” skryf Ferdinand Deist.* Wanneer jy bid, mag jy weet dat God na jou luister, dat Hyself daar by jou teenwoordig is, dat die Skepper van die heelal by jóú is!
Here God, dit laat my verstand duisel dat U by my teenwoordig is elke keer as ek bid, dat U Self na my luister. Help my om aan U gehoorsaam te wees. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed