Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 34

Оглавление

30 Januarie – Die krag van gebed

30 JANUARIE

Lees: Jakobus 5:13–20

Die krag van gebed

Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. – Jakobus 5:16

Jakobus moedig die lesers van sy brief aan om vir siekes te bid. Wanneer gelowiges bid, kom God se wonderwerkende krag in beweging en skenk Hy genesing en vergifnis. “Hoe groot is die mag van gebed! Dit is soos ’n koningin wat deurentyd vrye toegang tot die koning het, en alles verkry wat sy vra,” skryf Thérèse von Lisieux.* Indien jy ooit sou probeer om ’n afspraak by ’n aardse koning te kry (wat in elk geval baie onwaarskynlik is), sou dit ’n lang, ingewikkelde proses wees. Tog is dit die maklikste ding ter wêreld om ’n spreekbeurt by die Koning van die konings te kry. Hy is 24 uur van die dag óf nag vir jou beskikbaar; jy kan op enige plek met Hom praat en weet dat Hy daar sal wees vir jou en na jou sal luister. Jy mag ook weet dat daar by Hom vir jou altyd genade en vergifnis in oorvloed te vinde is.

Daar waar God se kinders saambid, is die krag van God Self aan die werk. Presies hoe groot hierdie krag is wat jou gebed ontsluit, kan jy in Efesiërs 1:19–20 gaan lees: “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het …” Jy het vandag God se opstandingskrag tot jou beskikking – al wat jy hoef te doen om dit te kry, is om daarvoor te bid!

Here Jesus, dis wonderlik om te weet dat ek enige plek van die dag of nag met U kan praat. Baie dankie dat u wonderwerkende krag in beweging kom deur my gebede. Amen.

* Aangehaal in J Smit, Gebed

'n Uur van lig

Подняться наверх