Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 23

Оглавление

19 Januarie – Bid soos God vra

19 JANUARIE

Lees: Lukas 22:39–46

Bid soos God vra

Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” – Lukas 22:41–42

Catherine Marshall skryf: “Die doel van gebed is om God se wil te vind en dan sy wil ons gebed te maak.”* Terwyl Hy op aarde was, was dit vir Jesus ’n prioriteit om in álles die wil van sy Vader te doen. Alhoewel Hy God Self was, was Hy ook volkome mens, sodat Hy baie bang was vir die lyding wat Hy moes deurstaan. Tog deins Hy nie daarvan terug om God se wil uit te voer nie. Selfs in Getsemane, as Hy so benoud is dat sy sweet soos bloeddruppels word wat op die grond val, bid Hy steeds dat nie sy wil nie, maar Gód se wil sal geskied. Eienaardig genoeg is God se wil hier juis nié dat Jesus se lydensbeker van Hom weggeneem sal word nie. Jesus berus in die wil van sy Vader, en Lukas vertel dat ’n engel uit die hemel hierna aan Jesus verskyn en Hom versterk het. Ná hierdie gebed waarin Hy die wil van God vooropstel, is Jesus gereed om die lydensbeker te drink, sodat óns sonde vergewe kan word.

Wanneer óns bid, is dit gewoonlik om die dinge wat ons wil hê van God te vra. Indien jy jou gebedsversoeke in die vervolg so sal inkleur dat dit om God se wil sal gaan, volg jy die voorbeeld van Jesus. Dan sal jy ook krag van God ontvang om sy wil te kan doen.

Here, wys my wat u wil vir my is, sodat u wil my gebed sal word. Amen.

* Aangehaal in J Smit, Gebed

'n Uur van lig

Подняться наверх