Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 25

Оглавление

21 Januarie – Wagtyd

21 JANUARIE

Lees: Psalm 130

Wagtyd

Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep … Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag … Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde … – Psalm 130:1–2, 6–7

In hierdie psalm ervaar die psalmdigter dat sy sonde hom van God vervreem het. Vir Hom voel God ver. Maar Hy vertrou steeds dat God hom uit sy vertwyfeling kan verlos. Hy roep dus “uit die dieptes” dat die Here hom moet help en vertrou dat God se belofte – dat Hy sy kinders sal verlos – vir hom persoonlik vervul sal word. Soos wat die wagte op die mure van Jerusalem op die môre gewag het, is die bidder hier bereid om op die Here se antwoord op sy gebede te wag.

Soms antwoord God dadelik jou gebede, maar ander kere verwag Hy van jou om gewillig te wees om op Hom te wag. Alhoewel wag vir die meeste mense moeilik is, veral wanneer ons soos die digter van Psalm 130 in benoudheid verkeer, vra God dat sy kinders bereid moet wees om op sy antwoord te wag wanneer ons bid.

Hy beskou sý tye wanneer hy sukkel om te bid as wagtye, skryf Philip Yancey in sy boek oor gebed.* Wanneer jy dus weer bid en dit vir jou voel asof God jou nie dadelik antwoord nie, wees bereid om op Hom te wag. Jou wagtyd op God se antwoord is altyd tot jou voordeel, omdat jy reeds seker is dat hierdie antwoord tot jou beswil sal wees.

Hemelse Vader, ek is jammer dat ek soms so ongeduldig met U is. Maak my bereid om geduldig op u antwoord op my gebede te wag. Amen.

* P Yancey, Prayer, p 205

'n Uur van lig

Подняться наверх