Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 28

Оглавление

24 Januarie – Jesus en gebed

24 JANUARIE

Lees: Markus 1:32–39

Jesus en gebed

Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan … en daar gebid. – Markus 1:35

Hoe beter jy vir God ken, hoe makliker is dit om te bid. Jesus, wat baie naby sy hemelse Vader geleef het, was dus ’n meester van gebed. Sy dissipels het gesien dat Hy dikwels na ’n eensame plek gegaan het en daar tyd gemaak het om met sy Vader te kommunikeer. Geen wonder nie dat hulle Hom vra om hulle óók te leer om te bid. Jesus vertel hulle dat hulle wanneer hulle bid, nie ’n stortvloed woorde hoef te gebruik soos die heidene doen nie, omdat God reeds hul behoeftes ken. Dan leer Hy hulle die Ons Vader: ’n eenvoudige, kort gebed waarin al die elemente van ware gebed vasgelê word.

Jesus wil steeds hê dat jy op ’n gereelde wyse en op ’n plek waar jy alleen is, met Hom sal praat en Hom sal vertel dat jy Hom liefhet. Jy hoef ook nie bekommerd te wees as jy nie so “mooi” of sulke lang gebede soos van jou vriende kan bid nie. Al wat nodig is, is dat jy voor God stil sal word en dié dinge wat in jou hart is, met Hom sal deel. Hy weet alreeds presies wat jy nodig het, nog voordat jy dit van Hom kan vra. Jy kan nou sommer saam met Fénelon bid: “O Vader, gee aan u kind wat hy self nie weet hoe hy dit van U moet bid nie. Ek waag nie om te vra nie, ek bring maar net my hart na U en maak dit oop voor U.”*

Hemelse Vader, U weet reeds presies wat ek nodig het, daarom wil ek net weer vir U kom sê hoe lief ek U het. Amen.

* Aangehaal in J Smit, Gebed

'n Uur van lig

Подняться наверх