Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 21

Оглавление

17 Januarie – Bid as jy hartseer is

17 JANUARIE

Lees: Psalm 39:8–14

Bid as jy hartseer is

Hoor tog my gebed, Here, luister na my hulpgeroep; moet tog nie koud staan teenoor my trane nie, want ek is net op u beskerming aangewese; U alleen sorg vir my … – Psalm 39:13

In hartseertye spandeer ons gewoonlik veel meer tyd aan gebed as wanneer dit baie goed met ons gaan. Wanneer ons in die Bybel van “gebede van trane” lees, gaan dit meestal oor die bidder se hartseer oor sy sonde. Hierdie tipe gebed maak God se hart bly omdat dit die egtheid van jou berou oor jou sonde onderstreep. Maar gebede van trane kan ook hartseer wees oor jou negatiewe fisiese omstandighede. Die tye wanneer jy baie swaar kry en dit só sleg met jou gaan dat jy soos Dawid van ouds kan getuig: “Ek is uitgeput van verdriet, ek huil die hele nag deur, ek deurweek my bed met trane” (Psalm 6:7), of soos Job kan kla: “Al wat vir my oorbly, is ’n treurlied op die lier, ’n lied van trane op die fluit” (Job 30:31).

Jy mag in jou eie hartseertye doodseker daarvan wees dat God nooit onbetrokke is wanneer jy hartseer is nie. Hy treur sáám met jou; Hy huil saam soos by die graf van sy vriend Lasarus. En as jy God liefhet, het jy mos reeds tevore ervaar dat Hy weer jou trane sal afdroog; dat jou droefheid van die oomblik nie vir altyd sal aanhou nie, want, so beloof die digter van Psalm 30:6: “… sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.”

Here, baie dankie dat ek in hierdie hartseertyd seker mag wees dat U saam met my hartseer is, en uiteindelik weer my hartseer in vreugde sal verander. Amen.

'n Uur van lig

Подняться наверх