Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 8

Оглавление

4 Januarie – Volhard in gebed

4 JANUARIE

Lees: Romeine 12:9–18

Volhard in gebed

Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. – Romeine 12:11–12

Dit is nie altyd so maklik om te bid nie. Elke mens het verskillende behoeftes en bid verskillend. Soms mag jy dalk moedeloos word wanneer jy dit nie kan regkry om jou gevoelens in woorde uit te druk wanneer jy met God wil praat nie. En dis in orde – God weet wat in jou hart aangaan. Jy hóéf ook nie soos ander mense te bid nie. Om die waarheid te sê hóéf gebed glad nie eens woorde te hê nie. Wanneer jy stil word en in aanbidding voor God kniel, is jy dalk besig om die heel beste soort gebed te bid wat daar is, dié soort gebed waarin God die meeste plesier vind. Dit is juis wanneer jy soos ’n kind met jou hemelse Vader kommunikeer dat Hy van jou liefde en omgee weet.

Wanneer jy die slag régtig vashaak met jou gebede, kan jy gerus die Psalms of ander dele uit die Bybel verpersoonlik en dit dan as gebede gebruik. Wat Jesus ons omtrent gebed leer, kan in drie punte saamgevat word, skryf Philip Yancey: “Keep it honest, keep it simple and keep it up.”* Dit is allerbelangrik dat jy sal aanhou bid, ook in dié tye wanneer dit vir jou voel asof God nie na jou luister nie. Moenie dat omstandighede, ’n vol program of teleurstellings jou ooit daarvan weerhou om te bid nie. Volhard in gebed met die vaste wete dat God jou sal hoor en antwoord.

Here, ek loof U dat ek mag weet dat U altyd na my gebede luister en hulle sal verhoor. Amen.

* P Yancey, Prayer, p 191

'n Uur van lig

Подняться наверх