Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 7
Оглавление3 Januarie – ’n Daaglikse dissipline
3 JANUARIE
Lees: Matteus 7:7–12
’n Daaglikse dissipline
Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word … – Matteus 7:7
Jesus leer sy dissipels dat hulle maar net moet vra, en God sal vir hulle gee. Maar gebed mag nooit nét ’n vrasessie wees waarin jy vir God al die dinge vra wat jý graag wil hê nie. Dit behoort ’n daaglikse dissipline te wees waarin jy God opsoek. Jy moet elke dag ’n spe-siale tyd vir gebed opsysit. En dit gaan nie so maklik wees nie, want die duiwel gaan sy bes probeer om jou te verhinder. Daar is niks op aarde waarvoor hy so bang is as vir ’n Christen wat bid nie. Heel waarskynlik gaan jy ontdek dat hy allerhande struikelblokke in jou pad gaan plaas sodra jy jou oë toemaak om te bid. Bid dan tot hy jou laat los!
Gister het jy gehoor dat God jou persoonlik uitnooi om te bid. ’n Gesprek met God vind altyd vanuit ’n verhouding plaas. ’n Mens kan immers nie met ’n vreemdeling ’n intieme gesprek aanknoop nie. Hoe beter jy egter iemand ken, hoe makliker word dit vir jou om jou hart vir hierdie persoon oop te maak. Voor jy begin bid, maak eers jou verhouding met God reg, vra Hom om jou sonde te vergewe en luister dan na sy Stem uit sy Woord. Kies God vanjaar as jou beste Vriend; deel jou vreugde, jou seerkry, jou bekommernisse en jou probleme met Hom. Nadat jy Hom geloof, geëer en gedank het vir Wie Hy is en vir wat Hy vir jou doen, mag jy maar vra – en jy sal kry!
Here Jesus, vergewe asseblief my sonde en gee vir my die regte woorde waarmee ek met U kan praat. Amen.