Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 15

Оглавление

11 Januarie – Gebed verander jou

11 JANUARIE

Lees: Jakobus 4:1–10

Gebed verander jou

Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars … Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog. – Jakobus 4:8,10

Kort na sy huwelik met die Amerikaner Joy Davidson Gresham, het CS Lewis ontdek dat sy terminale beenkanker het. Elke been in haar liggaam was reeds van die kanker deurtrek, en dokters het haar net ’n paar weke gegee om te lewe. Lewis het begin om lang tye in gebed deur te bring. Hy het God gesmeek om Joy gesond te maak. Een van sy kollegas het opgemerk dat hierdie aanhoudende gebede God sekerlik van plan sou laat verander. Hierop het Lewis geantwoord: “Ek bid omdat ék gebed nodig het. Gebed verander nie vir God nie, maar dit verander mý.”* Joy se siekte is deur ’n wonder gestuit en sy en Lewis het nog drie gelukkige jare saam gehad.

Wanneer jy deur ernstige gebed aan God verbind is, sal dit jou ook verander. Omdat jy so naby aan God leef, neem jy nou jou besluite anders, lewe jy op ’n ander manier as voorheen.

In die vierde hoofstuk van sy brief beskryf Jakobus hoe mense lyk wat hulself en die wêreld liefhet. Hy vra gelowiges om eerder nader aan Gód te kom, en gee sy lesers die versekering dat wanneer hulle dit doen en hul sondes bely, God ook nader aan húlle sal kom. Wanneer jy tot God nader in gebed, kom God terselfdertyd nader aan jóú, leer ken jy Hom al hoe beter en verstaan jy ook algaande presies wat Hy van sy kinders verwag.

Hemelse Vader, ek ervaar self dat gebed menselewens verander. Verander mý en wys my wat U van my verwag. Amen.

* Aangehaal uit Shadowlands, die fliek oor Lewis se lewe

'n Uur van lig

Подняться наверх