Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 20
Оглавление16 Januarie – Bid én glo
16 JANUARIE
Lees: Jakobus 1:2–8
Bid én glo
Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. – Jakobus 1:6
God nooi jou om te bid, Hy beloof om jou gebede te verhoor, maar daar is tog ’n voorwaarde wat Hy aan jou stel: wanneer jy bid, moet jy gelowig bid. “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwer-king,” skryf Jakobus aan die einde van sy brief (Jak 5:16).
Een van die belangrikste faktore wat verhinder dat God jou gebede verhoor, is ongeloof. Indien jy getrou bid, maar jy glo nie dat God jou gebedsversoeke sal toestaan nie, kan jy net sowel die biddery los. Iemand wat ongelowig bid, moenie dink dat hy iets van God sal ontvang nie, waarsku Jakobus in Jakobus 1:8.
Maar wanneer jy bid én glo, beloof God Self dat Hy hierdie gebede sal verhoor, mits dit in ooreenstemming met sy wil is. Vir Jakobus gaan geloof en dade altyd saam. Maak dus altyd seker dat die dinge wat jy vir God doen, jou geloof sal onderstreep – dan mag jy maar vra en God sal antwoord. Dit wil egter nog nie sê dat jy alles gaan kry wat jy in geloof van God vra nie! Net soos jy nie vir jou kinders alles gee wat hulle vra nie, gee God ook nie vir jou alles wat jý vra nie, maar Hy gee altyd vir jou die heel beste antwoord op jou gebed.
Here, ek kort nog soveel wysheid. Help my asseblief om gelowig te bid en te glo dat U my gebede sal verhoor en vir my dié dinge sal gee wat die heel beste vir my sal wees. Amen.