Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 39

Оглавление

2 Februarie – Dimensies van die liefde

2 FEBRUARIE

Lees: Psalm 103:8–13

Dimensies van die liefde

… so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. – Psalm 103:11–12

God se liefde vir ons is eindeloos. Dit is so groot as die afstand tussen hemel en aarde. As bevestiging van hierdie liefde onderneem God om ons sondes van ons te verwyder so ver as wat die ooste van die weste is – weer eens ’n afstand wat nie gemeet kan word nie! Ons kan God se liefde nooit met ons menseverstand begryp nie, maar ons kán en behoort Hom te loof vir die onmeetlike dimensies van sy liefde vir ons. God se liefde vir ons is onbeperk, onvoorwaardelik en volmaak. Henri Nouwen skryf dat die volmaakte liefde van ons hemelse Vader die liefde van ’n pa en ma vir hul kinders oortref.* Ons kan aan die twee hande van God wat ons omhels, dink as ’n pa en ’n ma se hande: een vertroetel, vertroos en beur op; die ander ondersteun, moedig aan en bemagtig.

Gebruik gerus Nouwen se pragtige beeld van God se liefde wanneer jy Hom vir sy liefde vir jou loof. Loof Hom dat sy liefde vir jou jou in alle omstandighede sal vertroetel, vertroos en opbeur. Prys Hom dat sy liefde jou élke dag ondersteun, aanmoedig en bemagtig. Met só ’n allesomvattende liefde wat elke dag tot jou beskikking is, hoef jy nooit weer alleen te voel nie.

Hemelse Vader, ek loof U vir u onmeetlike liefde vir my – dankie dat u liefde my elke oomblik vertroos en opbeur, dat dit my aanmoedig en ondersteun elke keer as ek dit nodig mag hê. Amen.

* H Nouwen, The Way of the Heart

'n Uur van lig

Подняться наверх