Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 33
Оглавление29 Januarie – Hou jou ore oop as jy bid …
29 JANUARIE
Lees: Jesaja 50:4–11
Hou jou ore oop as jy bid …
Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ’n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister … – Jesaja 50:4–5
“Gebed is ’n gesprek tussen twee persone wat mekaar liefhet,” skryf Rosalind Rinker,* die eerste persoon in wie se boeke ek ontdek het dat gebed nie net beteken om met God te práát nie, maar dat dit ook behels dat ons na Hom moet luister. Net soos ’n gesprek nie net deur één persoon gevoer kan word nie, kan ons ook nie werklik sinvol bid voordat ons geleer het om na God te luister nie.
Die teoloog Søren Kierkegaard stem saam met Rinker: “Hoe meer ek van gebed geleer het, hoe minder het ek te sê gehad. Tot ek uiteindelik stil geword het, heeltemal stil. Eers het ek gedink bid is praat; nou het ek geleer bid is nie net stilbly nie, dis luister. Bid is nie om jouself te hoor praat nie, bid is om stil te bly en te wag tot jy God se stem hoor,” is sy bydrae.**
Hoe lyk jou gebede? Is dit net jyself wat aan die woord is en ’n alleenspraak lewer waarna God moet luister, of het jy al Habakuk se geheim ontdek: “Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!” (Habakuk 2:20). Jy kan nie regtig na God luister voordat jy nie eers self stil is nie. Word dus stil voordat jy begin bid: só stil dat jy van jou eie wense en begeertes sal vergeet en net op God sal fokus. Daar in die stilte sal jy God se Stem helder kan hoor voordat jy met Hom begin praat.
Here, ek wil nou heeltemal stil word by U. Praat asseblief met my. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed
** Aangehaal in J Smit, Gebed