Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 40

Оглавление

3 Februarie – God se liefde in jou hart

3 FEBRUARIE

Lees: Romeine 5:1–11

God se liefde in jou hart

… en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. – Romeine 5:5

God se liefde is nie maar net een van sy eienskappe waarvoor jy Hom behoort te loof nie. Hy wil dit ook aan jou gee. As jy in Jesus glo, ontvang jy die Heilige Gees. En saam met die Heilige Gees kom God se liefde jou lewe binne. Hierdie liefde maak dat jy algaande meer en meer soos Jesus word. Jy deel mos reeds in Jesus se heel belangrikste eienskap: sy liefde en deernis vir ander! Omdat God sy liefde deur sy Heilige Gees in jou hart uitgestort het, kan jy dit nou selfs regkry om bly te wees oor die swaarkrytye in jou lewe. Hierdie swaarkry kweek immers volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop, en hierdie hoop be-skaam nooit – juis ómdat jy met God se liefde in jou hart leef (vgl Romeine 5:3–5).

As jy aan God behoort, hét jy reeds sy liefde in jou hart. Hiervoor kan jy Hom nooit genoeg loof nie. Maar hierdie liefde mag jy nie vir jouself hou nie. Jy behoort jou bes te doen om God se liefde op elke terrein van jou lewe sigbaar te laat word en dit op elke moontlike manier aan ander mense deur te gee.

Loof God vir sy liefde in jou hart en vra Hom om jou te wys hoe jy hierdie liefde kan uitleef in alles wat jy doen.

Heilige Gees, ek loof U dat U reeds God se liefde in my hart uitgestort het. Wys my hoe ek moet leef sodat ek hierdie liefde kan deurgee na elke mens met wie ek in aanraking kom. Amen.

'n Uur van lig

Подняться наверх