Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht - Страница 33

Klankverskynsels

Оглавление

Oorronding is wanneer klanke met oordrewe geronde lippe uitgespreek word. Byvoorbeeld: sewe – seuwe; pa – pô; neef – neuf. In sommige gevalle kan die oordrewe uitspraak die betekenis van die woord verander, byvoorbeeld: keer – keur; beer – beur.

Ontronding is wanneer geronde klanke met spleetvormige lippe uitgespreek word, byvoorbeeld: rusie – riesie. In sommige gevalle kan die woord se betekenis ook verander as gevolg van die plat uitspraak, byvoorbeeld: huis – hys; luis – lys; vuur – vier.

Assimilasie is wanneer ’n klank “weggelaat” word of wanneer dit die uitspraak van die vorige of daaropvolgende klank aanneem. Dit kan in een woord of twee opeenvolgende woorde voorkom. Byvoorbeeld:

Ek sit op die stoel. Ek sit oppie stoel.

Die kat kruip onder die tafel weg. Die kat kruip onner die tafel weg.

1. Wat sal die regte klankgreepverdeling wees vir “regisseuse”?

a. re/gi/seus/se

b. re/gi/seu/se

c. reg/i/seu/se

d. reg/i/seus/se

2. Wat sal die regte klankgreepverdeling wees vir “uitdrukking”?

a. ui/t/dru/king

b. uit/druk/king

c. uit/dru/king

d. uit/druk/ing

Drie van die volgende woorde is verkeerd in lettergrepe verdeel. Watter woord is reg verdeel?

3.

a. Aug/us/tus

b. hout/ki/ssie

c. be/kom/merd/e

d. oor/ron/ding

4.

a. woord/ver/kla/ring/s

b. re/gis/seu/se

c. souf/fleus/e

d. klank/in/ge/ni/eur

Lees die volgende sinne wat oor die draaiboekteks in Aktiwiteit 3 handel en beantwoord die vrae.

1. Dr. Edward is besig om kos te maak.

2. Die briewe wat vasgebind is, lê langs die houtkissie op die eettafel.

3. Wanneer Andrew inkom en sy hoed op die tafel neersit, sien hy die houtkissie en briewe wat op die tafel lê.

4. Dit is duidelik dat hy presies weet waaroor dit gaan.

5. Dr. Edward draai na die tafel met die borde in sy hand en sien die bekommerde uitdrukking op Andrew se gesig.

6. Die beligtingsoperateur keer die lig van die kamera weg.

5. In sin 2 kom twee voorbeelde voor waar assimilasie by twee opeenvolgende woorde kan voorkom. Skryf die woorde neer, asook hoe ons dit sal uitspreek as ons dit assimileer.

6. In sin 4 kom ’n woord voor wat ontrond kan word. Skryf hierdie woord en sy ontronde vorm neer.

7. Skryf ’n voorbeeld van ’n woord met ’n diftong in sin 5 neer.

8. In sin 6 kom twee woorde voor wat oorrond kan word.

a. Skryf hierdie woorde en hulle oorronde vorme neer.

b. Maak nou sinne om die verskil in betekenis tussen die oorspronklike woord en oorronde woord uit te wys.

9. Verdeel die volgende woorde volgens hulle spraakklanke.

Byvoorbeeld: briewe: K K V K V

a. mandjie

b. baadjie

c. tafel

d. briewe

Leer meer van afkortings.


Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal

Подняться наверх