Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 10

8

Оглавление

Vrydag 22 Junie 2018 – Kaapstad

Sarah was nog selde so uit haar gemaksone soos nou.

Eerstens gaan sy in die komende weke onder leiding van ’n misdadiger werk. Hoe kon O’Reilly op só ’n karakter besluit? ’n Gesoekte op die Interpol-lys. Iemand wat homself aan miljoene rande se dwelmgeld gehelp het. Sy regverdiging vir die diefstal oortuig haar glad nie. Watter eerbare geregsdienaar steel geld om homself te beloon vir drie jaar se gevaarlike werk? Waarom het hy hom dan in die eerste plek as mol beskikbaar gestel? Gedink dit gaan ’n joyride wees?

Sy skud haar kop. Absoluut belaglik! Sy gee nie om hoe bekwaam Carl Bester was of is nie, sy sal hom nooit kan vertrou nie.

Die feit dat hy Interpol tien jaar lank “ontglip” het, soos O’Reilly dit glimlaggend gestel het, dui daarop dat hy geen berou oor sy daad het nie. Iemand met net ’n geringe mate van inbors sou hom lankal gaan oorgee het.

En dan is Bester nog ’n rokjagter ook.

Calvyn het vanoggend dié nuus smalend aan haar oorgedra. “Jy sal vir jou wickets moet keer, Sarah! Soos ek uit sy ou polisierekords kan aflei, was vroue die een swak plek in sy mondering. Hy’t hulle glo op strepe omgedop.”

’n Dief en ’n seksmaniak. Wat ’n vooruitsig!

“Geen wonder nie, want hy lyk op die foto’s meer soos ’n Durbanse surfer as ’n polisieman. Blonde, handsome en soos Atlas gebou. ’n Mens kan dink die girls val maklik vir hom,” het Calvyn voortborduur.

“Dit was lank gelede,” het sy teruggekap. “Die kans is goed hy’t nou ’n pankop en ’n boepmaag.” Calvyn se heldeverering vir hulle nuwe baas, wat hy nog nie eens ontmoet het nie, irriteer haar grensloos.

Maar dis nie haar enigste frustrasie nie.

Nou moet sy speurder-speurder speel. Pleks van om politieke ontledings te doen, moet sy haar spesialiskennis eenkant skuif om na vreemdelinge te soek op Google, Facebook, Twitter, Instagram, LinkedIn en ’n hele string obskure sosiale netwerke waarvan sy nie eens bewus was nie. En boonop is helfte van dié mense vermoor.

Dit slaan haar dronk dat almal by Mercurius so oortuig is daar skuil ’n internasionale cover-up agter die mans se moorde. Toegegee, hulle was almal skatryk, maar baie ander misdadigers is ook. Dit lyk vir haar eerder na een of ander Mafia-oorlog tussen misdaadsindikate.

“Hoe vorder jy met Peter Butler?” onderbreek Calvyn haar gedagtes.

“Al veertien verskillendes met sy naam opgespoor. Ses op Facebook, vyf op Google en drie op Twitter. Agt van hulle bly in Engeland, drie in Amerika en een elk in Australië, Jamaika en Suid-Afrika. Laasgenoemde is ’n boer in die Oos-Kaap en is volgens sy Facebook-geboortedatum vier-en-tagtig.”

Calvyn gee sy irriterende giggellaggie. “Vergeet maar van die oubaas. Konsentreer op die ander dertien.”

Sy hou hom dop waar hy oorkant haar sit. Buiten vir die laggie hou sy eintlik van hom. Altyd vriendelik en behulpsaam – anders as O’Reilly en Du Randt, wat voortdurend lyk of hulle die laste van ontelbare wêreldprobleme alleen op hul skouers dra.

Sy skat Calvyn in sy laat dertigs. Getroud, met twee kinders, lei sy af van die foto op sy lessenaar, hoewel hy nooit na sy gesin verwys nie. T-hemp en jeans is sy standaardkantoordrag. Wilde boskasie altyd ongekam. Koffieverslaafde. Weet nie veel van internasionale politiek nie, maar dis nie waarvoor hy aangestel is nie.

“Ek’s Mercurius se snuffelaar,” het hy op haar eerste dag hier verduidelik. “Ek snuffel ander mense se geheime uit, dissekteer hulle lewens, grou in hulle verlede, krap hulle geraamtes uit die kas, stroop die varnish van hulle af.”

So dís hoe O’Reilly haar lewensgeskiedenis so op die punte van sy vingers geken het tydens die onderhoud, het sy besef.

“En watse geraamtes het jy uit my kas gekrap?” wou sy weet.

Hy’t geglimlag. “Bokkerol. Jy’s so straight soos ’n arrow. Was jy nie, sou jy nie hierdie job gekry het nie, dit kan ek jou promise.”

Sy konsentreer weer op haar rekenaarskerm, sug dan.

“Calvyn, ek glo ek het nou ál die Peter Butlers op sosiale media opgespoor. Wat nou? Hoe gaan dit ons gróót en vernáme ondersoeker help?”

Weer die giggellaggie. “Jy’t Carl nog nie eens ontmoet nie en jy dislike hom al klaar.”

“Wel, dit wat ek van hom weet, beïndruk my nie.”

“Trust me, Wim O’Reilly sal nie ’n paloeka inkry nie. Wat die Peter Butlers betref: jy’t nou eers die eerste stap afgehandel. Die groot werk lê nog voor. Jy moet ’n verslag oor elkeen van hulle skryf, met ál die info wat jy het. Beroep, maatskappy se naam, gesin, enige vermeldings van oorsese reise, politieke affiliasie, sportklubs …”

Sy hou haar hand op. “Ek het die meeste van daardie inligting nié! Drie het byvoorbeeld geslote Facebookblaaie, twee het …”

“Skryf net alles neer wat jy oor elkeen het, al is die inligting skraps. Sodra jy klaar is, stuur jy die verslae aan ons Mercurius-takke in die lande waar die onderskeie Butlers bly. Die kantore daar sal kyk of hulle woon- en werkadresse kan opspoor en check vir kriminele oortredings. Maar moenie daaroor worry nie, hulle ken die ropes. Jy stuur net vir hulle die Butler-geraamtes en hulle sal die vleis vir ons invul. Al die takke is ingelig dat ons navrae topprioriteit moet geniet. Ons sal nie lank vir hulle feedback wag nie.”

Haar selfoon lui. Dewald, sien sy op die skerm.

Sy staan op en stap in die gang uit. Hoeveel keer moet sy hom nóg vra om haar nie gedurig te bel nie? Dit raak nou ’n verleentheid. Sy’t al opgemerk hoe snaaks Calvyn haar aankyk elke keer as haar foon lui.

“Hallo, Dewald.”

“Hoe gaan dit?”

“Niks het verander sedert jy ’n uur gelede gebel het nie. Ek’s toegegooi onder die werk, ek kan nie nou met jou gesels nie.”

Sy druk die foon dood en moet diep asemhaal om nie van frustrasie te skree nie. Sit dan die foon af. En dit sal af bly vir die res van die dag, besluit sy.

Sy stap terug in die nou gangetjie. Die plek is stowwerig en die donker houtmure en deure met geriffelde vensters laat dink haar aan die kantore van privaat speurders in flieks uit die 1960’s.

Sy steek vas by O’Reilly se kantoordeur wat op ’n skrefie oop is, hoor sy gedempte stem. Hy praat seker met iemand oor die foon.

Maar waarom altyd so fluisterend, asof hy ’n geheim deel?

Vloek

Подняться наверх