Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 17

15

Оглавление

Donderdag 8 Julie 2004 – DRK

Nie Baako óf sy luitenante het hulle sien kom nie. Hulle was nog besig om register te neem van die werkers toe die swaar gewapende soldate geluidloos uit die bosse verskyn.

Baako eien hulle dadelik aan die kentekens op hul uniforms as soldate van die FDLR – Forces démocratiques de libération du Rwanda.

Hy en die vier luitenante word beveel om plat op die grond voor die groot tent te gaan sit. Die soldate praat nie, hou net hulle wapens op Baako-hulle en die werkers gerig.

Pêrels sweet slaan op Baako se voorkop uit. Hierdie is nie goeie nuus nie. Awax, sy baas, het genoem dat die FDLR deesdae hier in die ooste van die Kongo bedrywig is, maar hy’t nie gedink dit hou ’n bedreiging vir hulle myn in nie. Volgens hom is daar baie groter myne in Suid-Kivu waarop die FDLR sal toeslaan.

Boonop het Awax die steun en beskerming van die Rwandan Patriotic Army, die militêre vleuel van die Tutsi’s. In ruil daarvoor moet hy amper dertig persent van die myn se wins aan hulle afstaan.

Maar Baako het gerugte gehoor dat die Hutu’s van die FDLR die oorhand kry oor die Rwandan Patriotic Army. Dié twee groepe het bly voortveg ná die Tweede Kongolese Oorlog verlede jaar beëindig is. Die feit dat ’n mens nooit meer die Rwandan Patriotic Army se soldate in die dorp of omgewing sien nie, moet beteken dat die gerugte waar is. En blykbaar steun Joseph Kabila, die DRK se president, self lankal die FDLR.

Awax was aan die verkeerde groep lojaal.

En nou gaan Baako die prys daarvoor betaal.

Hy kan sien die soldate wag op iemand, want hulle kyk gereeld in die stofpad se rigting.

Ná ’n ruk hoor hulle die dreuning van ’n voertuig aankom. Dis ’n Land Rover met drie insittendes.

Die viertrek stop langs die groot boom. Twee wit mans klim uit, albei met blou kortmouhemde, maar met dieselfde kamoefleerbroeke as die soldate. Daar hang ’n rewolwer aan die een se sy. Hy is fors gebou. Die ander wit man is skraler en ouer, hy loop voor en lyk soos die leier. Hy word gevolg deur ’n offisier van die FDLR met ’n AK-47 oor sy skouer.

’n Soldaat loop die drie tegemoet en beduie na waar Baako en die luitenante sit.

Die ouer man kom nader en vra op Frans of Baako in beheer van die myn is.

“Ja,” sê hy, voeg dan vinnig by: “Maar ek werk vir ’n baas, Awax Makidi. Hy bly in die dorp.”

Die ouer man glimlag, maar sê niks.

Die offisier agter hom praat: “Makidi wás jou baas. Hy’s vanoggend in sy bed doodgeskiet.”

Baako se lyf begin onbeheers bewe. Gaan dit ook sý lot wees?

Die drie mans praat fluisterend met mekaar. Dan tree die fors kêrel vorentoe. Hy kom staan voor Baako en die luitenante, sy hoekige gesig uitdrukkingloos. Baako staar beangs na die letsel wat van onder sy oog tot op sy ken loop.

Die man trek sy rewolwer stadig uit die holster en rig dit op die luitenant op die verste punt van Baako.

Sy vinger krul om die sneller.

Die luitenant begin histeries skree.

’n Skoot klap.

Baako voel die bloedspatsels teen sy wang. Hy kyk met verstarde oë hoe die luitenant omkantel en die grond met ’n dowwe slag tref.

Die volgende luitenant hou sy hande voor sy gesig, maar hy val soos ’n afgekapte boom agteroor toe die skoot klap. Ook die volgende een word sonder seremonie in die voorkop geskiet, sy bloedstollende kreet halfpad gesmoor.

Warm urine loop teen Baako se bene af. Hier word hy vandag soos ’n hond doodgeskiet. En daar is geen uitkomkans nie. Nie eens sy voorvadergeeste sal hom kan red nie.

Langs hom maak Akva fyn kermgeluidjies toe die man die rewolwer op hom rig.

Dan roep ’n stem hard op Frans: “Ék wil hom skiet!”

Die man met die rewolwer draai in die rigting van die stem.

Baako sien die roering tussen die stilgeskrikte werkers. Tot sy verbasing is dit Imani wat na vore tree.

“En wie’s jy nogal om so ’n verwaande versoek te rig?” vra die offisier smalend.

“Imani Mutsinzi,” sê die seun met die lang, lenige lyf. “My pa was ’n onverskrokke Hutu-kryger wat sy lewe verloor het in die Eerste Kongolese Oorlog.”

Die offisier rig sy AK-47 op Imani, wat nie terugdeins nie. Sonder ’n sweempie vrees gluur hy terug.

Die offisier laat sak die geweer. “Hy’s nie ’n bang een nie,” lag hy.

Die ouer man wys na Akva. “Hoekom wil jy hóm juis skiet?”

“Want hy’s ’n lafaard,” spoeg Imani die woorde uit. “Hy het sy mag as luitenant misbruik om ons te mishandel. Kyk hoe sit hy nou daar en kerm. Hy’s g’n ware man nie.”

“Gee hom die rewolwer, Richter,” beveel die ouer man.

Imani neem die wapen. Daar is haat in sy oë toe hy die loop op Akva rig.

Dié smeek met ’n hoë stem om genade.

Die seun vuur drie skote af – een tref Akva in die voorkop, die ander deurboor sy bors.

Die ouer man beduie na Baako. “Maak sommer met hierdie een ook klaar.”

Maar die seun skud sy kop en gee die rewolwer terug. “Julle sal dom wees om hom dood te maak. Hy ken hierdie myn beter as enigiemand anders. En hy het ’n goeie hart.”

Vloek

Подняться наверх