Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 7
5
ОглавлениеWoensdag 13 Maart 2002 – DRK
Imani kreun toe hy die swaar sak op sy rug tel. Die wonde van die sambokhoue is nog rou, al smeer sy ma soggens voor werk sy rug met salf in.
Sy bene wankel terwyl hy met die steil, modderige voetpaadjie ondertoe loop. Hy moet op sy tande byt om die konstante brandpyn te verduur. Sy ma het gesê hy’s nog nie reg om weer te werk nie, maar hy het al eergister begin. Sonder die dollar ’n dag wat hy hier verdien, is daar beswaarlik geld vir kos. Die paar dollar wat sy ma in ’n week by die mark kry, kan hulle nie aan die lewe hou nie. Vandat die skooltjie gesluit het, moet sy haar handgemaakte krale by die mark probeer verkoop vir ’n inkomste.
Hy konsentreer om nie in die modder te gly nie. Die jong seun wat voor hom stap, nog nie eens tien jaar oud nie, se dun beentjies swik onder die gewig van die sak wat hy dra. Die seun struikel, gly en val. Akva, wat op hierdie deel van die roete toesighouer is, is soos blits op hom. Hy skree op die seun om op te staan, skop hom terselfdertyd in die ribbes. Die huilende kind probeer met sy hande keer, maar Akva hou aan skop.
Imani stap verby sonder om na hulle te kyk. Op hierdie plek steur jy jou nie aan die lot van ander nie. Jy sorg net vir jouself. Dis al hoe jy oorleef.
Die seun se krete weerklink steeds in Imani se ore. Hy skud sy kop. Akva is die wreedste luitenant van almal. Imani het op ’n keer gesien hoe hy ’n ou man van ’n krans af stamp toe dié nie vinnig genoeg na sy sin werk nie. Die man het hom doodgeval. Akva het gelag asof hy pas van ’n lastige vlieg ontslae geraak het.
Wanneer iemand gestraf word, hanteer Akva altyd die sambok. En die glinstering in sy oë wys hy geniet elke oomblik daarvan.
Imani wonder hoeveel houe hy sou gekry het as hulle die twaalf sakke onder die seil in die hoenderhok ontdek het. Sy ma wil nou hê hy moet dié sakke snags stuk-stuk terugbring. Sy sê hulle sal hom doodslaan as hulle die versteekte sakke kry.
Maar hy gaan dit nie doen nie. Sy vriend anderkant die berg het hom twintig dollar op die plek belowe as hy vir hom twintig sakke aflewer. Met soveel geld kan Imani ’n hele klomp hoenders koop, dalk nog geld oorhê vir ’n ou paar skoene. Hy sal net in die toekoms slimmer werk as hy weer begin steel.
Hy weet hoe die base uitgevind het van sy diefstal. Net Rishi het gesien hoe hy eendag ’n sak in die kloof tussen die bosse wegsteek. Eers toe Imani agter die bosse uitkom, het hy besef Rishi móés hom gewaar het. Rishi het vinnig weggekyk en sommer anderkant toe begin loop. Imani het die sak op ’n ander plek gaan wegsteek en maar net gehoop Rishi bly stil.
Maar Rishi wil ’n luitenant word, weet Imani. Hy’s in sy twintigs en werk al van die begin af hier. Hy voel seker hy verdien dit om die werk te kry, daarom het hy Imani verraai om in Baako se goeie boekies te kom.
“’n Verraaier is laer as slangkak,” mompel Imani toe hy in die oopte kom waar hy in ’n lang ry agter die ander moet inval.
Baako sit op die verste punt op ’n seilstoel in net ’n kortbroek en sandale, sy vet pens glinsterend van die sweet. Soos hulle die sakke aflewer, maak Baako ’n regmerkie agter elkeen se naam op die skryfbord op sy skoot. ’n Werker moet vyftig regmerkies hê om ’n dollar vir die dag te verdien. Om dit reg te kry, moet jy twaalf uur lank voluit werk.
Die erts word op ’n hoop uitgeskud, waarna dit deur ’n span werkers gesif word. Die grys stof van die kalksteen hang soos ’n donker wolk oor die oopte.
Toe Imani sy sak afgelewer het, hardloop hy eers vinnig na die spruit om water te drink. Sy ma sê altyd hy moenie daar water drink nie, want hulle gooi die mynafval daarin. “Maar die hele dorp kry hulle water van die groot meer af en die spruit se water loop ook daarin uit,” sê hy dan. Sy antwoord hom nooit nie, want sy weet hy’s reg.
Die pad terug is opdraand na waar hy vandag teen die oostelike hang van die berg werk. Die grys walm hang swaar in die lug en hy kan die ander werkers eers sien toe hy twintig meter van hulle af is. Die wind waai strepe stof teen sy beswete gesig vas en hy moet sy oë toeknyp. Korreltjies sand kraak tussen sy tande. As hy hom saans by die huis was, is die water binne sekondes grysbruin. En sy ma kla sy kry nooit sy klere skoon nie.
Hy tel die pik op en swaai dit behendig. Een, twee, drie, vier keer. Dan los hy die pik en grawe die los stukke met sy hande uit, skud dit, breek die sagte kalksteen oop en gooi die swart klippies in die sak. Hy tel weer die pik op, onthou meteens hoe sy hande aan die begin gebloei het. Hy was maar nege toe hy hier begin het, sy hande toe nog so sag soos ’n baba s’n. Nou, ses jaar later, is die eelte kliphard en lê hulle soos riwwe oor sy palms en vingers. Taaier as ’n krokodilvel, sê sy ma altyd.
Die sweet brand in sy ooghoeke en ’n nuwe vlaag wind laat hom omdraai om te keer dat die stof in sy oë kom.
Hy sien Rishi werk ’n paar meter agter hom. Hulle oë ontmoet vir ’n oomblik, dan draai Rishi sy kop vinnig weg.
Skuldig soos die hel, dink Imani.
Hy hou Rishi onderlangs dop. ’n Bonkige klong, breedgeskouer, rug effens gekrom. Niemand soek ooit skoor met hom nie. Tot die luitenante is lugtig vir hom.
Imani spoeg op die grond. Hy’s nie bang vir verraaiers nie. Hy sal hom terugkry.
Hy dink aan die storie wat sy ma kleintyd vir hom vertel het, van Wittand die olifantbul wat die hiëna met sy voorpoot vergruis het nadat dié hom verraai het. Wittand het die hiëna se kop platgetrap terwyl twee ander olifante hom met hulle slurpe op die grond vasgepen het. Die hiëna se kopbeen het soos glas onder Wittand se swaar voet gekraak en toe in stukke gebreek, terwyl sy oë uit hulle kasse peul.
Imani pers sy lippe op mekaar.
Hy sal die olifantbul wees. Die hiëna sal nooit die voorreg smaak om ’n luitenant te word nie.