Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 12

10

Оглавление

Maandag 25 Junie 2018 – Internasionale lugruim

Die sagte ruising van die vliegtuig het Du Randt, wat langs Carl sit, in ’n diepe slaap weggevoer. Sy mond hang effe oop en sy kop het skuins gesak op sy skouer.

Vir Carl voel als nog soos ’n droom: Mercurius se aanbod; die dokument wat bevestig dat hy nie meer deur Interpol gesoek word nie; ’n splinternuwe paspoort in sy geboortenaam, uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake via die ambassade in Manila; ’n gestempelde afskrif van die SAPD-hoof se brief wat onomwonde verklaar dat hy nie meer vervolg sal word nie.

Hy is weer Carl Bester, maal dit voortdurend deur sy gedagtes, sy ander aliasse vir goed begrawe.

Die afgelope paar dae was onwerklik. Hy’s soos ’n VIP rondgekarwei deur die plaaslike Mercurius-tak: na die ambassade, die Filippynse polisiehoofkantoor en die verskillende banke om sy vervalste rekeninge te sluit en die geld oor te dra na ’n rekening in sy eie naam. Du Randt was heeltyd aan sy sy, gereed om enige administratiewe struikelblok met ’n vinnige oproep uit te sorteer. Dit was indrukwekkend hoe die banke en ambassadepersoneel nauurs en oor die naweek beskikbaar was om te help.

Carl se bannelingstatus is stuk-stuk begrawe en uitgewis. Elke kluit op daardie kis was ’n tree nader aan die lewe wat hy die afgelope dekade geglo het hy nooit weer gaan terugkry nie.

Hy is nou ’n vry man.

Een wat teruggaan na sy geboorteland – die plek waarna sy hele wese hunker en wat hy tien jaar lank net in sy drome kon besoek.

Onwillekeurig borrel geesdrif in hom op by die vooruitsig om oor ’n paar uur sy voete op Suid-Afrikaanse bodem te plant.

“Knersvlakte, Skurweberg, Hantam, Bosveld, Matjiesfontein, bobotie, krummelpap, smoorsnoek, blatjang …”

Die woorde rol gedemp oor sy lippe. Eg Suid-Afrikaanse plekke en geure wat spontaan in sy gedagtes opkom en hom hier in sy vliegtuigsitplek ’n warm gloed in sy binneste gee.

Hy weet die harde werklikhede van die land gaan hom dalk ontnugter. Hy het deur die jare op die internet gesien hoe misdaad toeneem, hoe korrupte politici staatsgeld steel, hoe dit ’n vernietigende impak op die demokrasie, ekonomie en politieke kultuur het, hoe werkloosheid toeneem, hoe die nate van ’n eens optimistiese reënboognasie lostorring, hoe rassehaat gedy, hoe vlae van pessimisme neerslag vind in die murg en been van gewone Suid-Afrikaners.

Maar die probleme in die lande waarin hy hom in ballingskap bevind het, laat bogenoemde amper normaal lyk. Mexiko, Venezuela en Bolivia, waar dwelmbase die septer swaai en bloedige oorloë tussen die staat en sindikate heers. Daarna in Oos-Asië, waar die Filippyne se onstabiele leier, Rodrigo Duterte, al duisende laat doodmaak het omdat hy hulle kwansuis van dwelmhandel verdink, maar in die meeste gevalle word mense sonder enige grondige bewyse afgemaai, insluitend sy politieke teenstanders.

Carl skud sy kop. Hy konfronteer eerder die probleme in sy geboorteland as om in daardie hole sin uit die lewe te probeer maak. Destyds het hy geen ander keuse gehad nie, want dit was die enigste lande waar jy die lang arm van die gereg maklik kon ontduik, met jou vryheid van beweging in ’n mate gewaarborg.

Waaroor hy twyfel, is of hy ooit die skuldgevoel oor sy onbesonne diefstal gaan afskud. Met daardie daad in ’n dwelmstoor in Worcester in 2008 het hy die meeste van sy edel drome eiehandig vernietig. In die vreemde was hy nooit desperaat vir geld nie, want hy kon ’n paar miljoen rand destyds betyds uit die land smokkel. Maar die diefstal het hom bly ry.

Hoeveel keer het hy nie in die afgelope tien jaar oorweeg om homself te gaan oorgee nie? Want sy gewete het hom voortdurend aangekla en die skuld het aan sy binneste bly knaag. Keer op keer het hy egter die lafhartige opsie gekies en aanhou vlug – met die vae hoop dat hy eendag daarmee vrede sal maak.

Nou weet hy dis onmoontlik.

Hy wonder vir die soveelste keer wat sy werk by Mercurius werklik gaan behels. Du Randt was baie geheimsinnig oor sy opdrag en het net gesê dit handel oor onopgeloste moorde. Maar dit het Carl met ’n gevoel van déjà-vu gelaat.

Sy gedagtes gaan terug na meer as tien jaar gelede toe Wessels, sy eksbaas by die polisie, ’n verrassingsbesoek aan sy Klein-Karoo-plaas gebring het. “My aanbod is die volgende,” het Wessels gesê. “Jy hou jou geld, jou plaas. In ruil vir my stilswye oor jou diefstal doen jy een laaste taak. Ek het ’n mol nodig vir ’n ernstige aangeleentheid. Die CIA was al by my daaroor. Die druk is kwaai op ons om die ding op te los, want dit het wêreldwye implikasies. Ons gaan dit nie regkry deur die gewone strukture nie. Ons kort iemand met jou talente om hom in te grawe, soos jy met die dwelmsindikate gedoen het.”

En vier dae gelede Du Randt se woorde: “Dit handel oor moorde wat ons glo internasionale implikasies het. Die CIA en ander inteldienste wat kennis geneem het van die saak, stem saam dat Mercurius die aangewese organisasie is om dit te hanteer. My baas het jou as die hoofondersoeker voorgestel, want hy glo jy sal die saak suksesvol kan uitpluis. In ruil vir jou algehele vrywaring van vervolging, glo ons jy sal bereid wees om hierdie saak vir Mercurius te hanteer.”

Carl glimlag wrang. Weer het hy nie ’n keuse gehad nie.

Ons vergeet van jou sondes in ruil vir ’n teenprestasie.

Du Randt het dit nie in soveel woorde gesê nie, maar as Carl sou weier om saam te werk, is hy seker sy vryheidstatus sou ook outomaties verval.

Benade, wie se regte naam blykbaar Wim O’Reilly is, het glo net die hoogste lof vir Carl se “uitsonderlike vermoëns”, soos Du Randt dit stel.

Carl wens hy kan daardie selfde vertroue in sy vermoëns hê. Hy is al tien jaar lank nie meer ’n speurder nie. Toe hy die Kaapse dwelmnes ontbloot het, en vroeër opspraakwekkende sake opgelos het – die Ridders van ThuKlan-sameswering, die harpoenmoord, die boomsaagmoorde, die Milnerton-bankrowe en die reeksverkragtersaak in die Tuine – was hy speurfiks, vaardig en honger vir sukses. Sy speurinstinkte het so natuurlik na hom gekom soos om asem te haal.

Bygesê, daardie vaardighede het in sy laaste drie polisiejare as mol in die dwelmsaak al effens begin afslyt. Hy was toe verskans agter die masker van ’n dwelmhandelaar, sy baard, lang hare en tangerige voorkoms ligjare verwyder van sy beeld as skoongeskeerde en onkreukbare geregsdienaar. Hoeveel keer was hy nie aan die voorpunt van dwelmtransaksies nie? Hoeveel keer het hy nie meegedoen aan martelsessies nie? Alles in belang van die groter saak, het die einste Benade hom bly gerusstel.

Maar soms het die skeidslyn tussen sy twee rolle vervaag. Dan het die opwinding van sy rol as skurk sy adrenalienvlakke hoër laat styg as met enige polisie-operasie. En tydens sy volgehoue ontduiking van Interpol was hy wéér mnr. Hyde en nie dr. Jekyll nie. Sy noue ontkomings in Bolivia en Mexiko, sy jaagtog in Venezuela om van die gereg weg te kom, sy vals paspoorte en bankrekeninge …

Hy sal die jare lange denkwyse van ’n skurk moet onderdruk, sy skadukant finaal moet afskud om weer soos ’n volbloedspeurder te dink.

Net die tyd sal leer of hy suksesvol gaan wees.

Vloek

Подняться наверх