Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 14

12

Оглавление

Woensdag 27 Junie 2018 – Kaapstad

Hulle eet vanaand op hul skote voor die TV. Sarah was te moeg om kosmaak te oorweeg en het sommer op pad woonstel toe by McDonald’s wegneemetes gekry.

Sy en Dewald eet in stilte en kyk na ’n aktualiteitsprogram oor grondhervorming in die land.

“Suid-Afrika se grond behoort aan swart mense!” sê ’n radikale politieke leier vurig. “Die wittes het geen grond saam met hulle uit Nederland, Frankryk of Engeland gebring nie. Hulle is niks anders as parasiete nie!”

Dewald skud sy kop. “Scary, nè? En as mens mooi daaroor nadink, is hy nog bleddiewil reg ook.”

“Nee, hy’s verkeerd!” sê Sarah. “Swart mense het ook nie grond uit Oos- en Sentraal-Afrika saamgebring nie. Volgens daai redenasie het net die Khoi-San aanspraak op grond in hierdie land. Die probleem met sy soort radikales is dat daar in hulle koppe geen plek is vir die konsep van ’n wit Afrikaan nie. Daardie belaglike siening sou ook ’n streep trek deur die bestaansreg van swart Franse, Engelse en Amerikaners. En wit Australiërs en Amerikaners en swart Karibiërs en Brasiliane tot ewige vreemdelingstatus verdoem. Selfs die Noorweërs en Swede sou hul grond aan die Laplanders moes teruggee.”

Hy kyk skerp na haar. “Hel, maar jy’s driftig! Ek het nie bedoel jy moet my ’n lésing daaroor gee of my kop afbyt nie.”

“Moet dan nie sulke stupid stellings maak nie.”

Hy sit die halfgeëete hamburger terug in sy bord, leun vorentoe in die stoel. Die keep op sy voorkop is diep. “Wat gaan deesdae met jou aan, Sarah?”

“Wat bedoel jy?”

“Jy’s uitermatig bitchy met my. Ons liefdeslewe bestaan nie meer nie. Ek mag jou nie by jou werk bel nie. Jy praat nie met my oor wat jy daar doen nie …”

“Ek het jou van die begin af gesê ek kan nie oor Mercurius se werk praat nie, Dewald. Dis vertroulik.”

Hy rol sy oë. “Dis duidelik nie net vertroulik nie. Dit het ook ’n helse impak op ons verhouding.”

Sy antwoord hom nie.

Hy staan op. “Skoon my eetlus verloor,” sê hy toe hy uitstap.

Sy wil hom terugroep om jammer te sê, maar keer haarself. Sy’t vanaand eenvoudig nie die krag om deur hom gekruisondervra te word oor hulle verhouding nie. Dit kan vir ’n ander dag wag. En sy’t ook nie regtig antwoorde op sy beskuldigings nie.

Sy is verlig toe sy hoor hy vroetel in die spaarkamer, wat beteken hy gaan daar werk.

Haar gedagtes is gou terug by Mercurius. Môre is haar eerste ontmoeting met die famous ondersoeker. Hoewel hy al Maandag hier geland het, was hy nog nie op kantoor nie. Volgens O’Reilly moes hy eers ’n klomp goed afhandel voor hy amptelik kan inval. Du Randt het hom gister en vandag gehelp om te settle in die woonstel wat Mercurius vir hom huur, hy moes sy bestuurslisensie gaan hernu en ook ’n paar draaie by die polisie maak om sy vrywaring van vervolging in Suid-Afrika formeel te bevestig.

Sarah was met weersin gevul toe O’Reilly hulle vertel van Du Randt se onderonsie met Bester in Manila. “Hy was op die punt om Len se nek te breek,” het O’Reilly gelag asof dit ’n helse grap is. “Len sê hy’t lanklaas in sy lewe só geskrik.”

Buiten ’n dief en ’n seksmaniak is Bester nog ’n geweldenaar ook, het Sarah gedink. Een met ’n sterkmansindroom wat dinge eerder regbliksem as regpraat – presiés die soort man wat sy nie voor haar oë kan verdra nie.

En van môre af is hy haar baas.

Of sy en Calvyn enige bruikbare inligting het wat verband hou met die vermoorde mans, betwyfel sy ook sterk. Sedert hulle ses dae gelede begin delf het, lyk die inligting oor moontlike medewerkers maar karig. Hoewel Calvyn haar heeltyd verseker dat Bester goeie afleidings sal kan maak uit wat hulle reeds weet.

“Superman se bubble gaan by Mercurius bars. Mark my words,” mompel sy. Dis asof hulle ’n naïewe geloof in die man se “bonatuurlike vermoëns” het. Amper soos die gebreinspoelde volgelinge van ’n sekteleier.

Sy snork. Dis eintlik om van te lag. Calvyn ken Bester van g’n kant nie, behalwe dat hy vlugtig deur sy ou polisierekords gesnuffel het en uitgevind het dat hy ’n string vroue “omgedop” het. Maar omdat O’Reilly vir Bester gewerf het, is Calvyn oortuig hy gaan net sy towerstaffie swaai om die sake op te los. Sy kan Calvyn waarborg dat hy net so min soos die res van hulle by Mercurius gaan uitrig. Sy weet dis nie baie lojaal van haar nie, maar sy hoop heimlik Bester se mislukking is skouspelagtig.

Sy staan op en stap met haar bord kombuis toe, sit dit in die wasbak neer. Dis nog nie agtuur nie, maar sy gaan nou in die bed klim. Was al vanoggend vieruur op om vyfuur by die werk te wees. Sy weet nie hoe sy hierdie ure gaan volhou nie, maar O’Reilly het gesê hulle sal in die volgende paar weke maar vir lief moet neem met lang skofte.

Op pad kamer toe stop sy by die spaarkamer se deur. Sulking Dewald sit agter sy lessenaar en staar in die niet.

“Ek gaan inklim, vrek lang dag gehad. En môreoggend moet ek weer vyfuur daar wees.”

Hy kyk nie na haar nie, knik net.

Praat dan agter haar aan: “Ek vlieg môremiddag Johannesburg toe vir ’n wiskundekongres en kom eers Maandag terug. Net sodat jy nie dink ek het jou verlaat as jy môreaand by die huis kom nie.”

Sy hoor die bytende toon, maar steur haar nie daaraan nie. Daar spoel eerder verligting deur haar, wat haar dadelik skuldig laat voel. Hoekom is sy so bly dat hy ’n paar dae uit haar hare gaan wees?

In die badkamer kom sy tot ’n besluit: Sy en Dewald sal ernstig moet gesels oor hulle toekoms sodra hy terug is.

Sy kan dit nie langer uitstel nie.

Vloek

Подняться наверх