Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 20

18

Оглавление

Vrydag 29 Junie 2018 – Kaapstad

“Afrika en China?” vra O’Reilly fronsend. “Brei uit, Carl.”

“Ek dink ons moet die antwoord daar soek, en ek sal jou sê hoekom. Die vermoorde mans se reisgeskiedenis …”

O’Reilly se foon lui. “Sorry, maar dit gaan net ’n oomblik wees,” sê hy verskonend en tel die gehoorbuis op.

Carl luister nie na O’Reilly se gesprek nie, sy gedagtes by die saak. Hy het gisteraand by die woonstel weer deur Calvyn en Sarah se verslae gelees en tot die gevolgtrekking gekom dat die drie vermoordes se reisgeskiedenis in hierdie stadium die enigste leidraad verskaf oor hoe hulle moontlik aan hulle miljoene gekom het. Gedurende sy jare in die vreemde het hy ’n belangstelling in die internasionale politiek ontwikkel en daagliks in sy ledige ure op die internet daaroor opgelees.

O’Reilly lui af. “Jy’t gepraat van hulle reisgeskiedenis? Dit het my ook laat dink daar is ’n verband, maar ek luister graag na jou gevolgtrekking.”

“Soos ons almal weet, het China lankal sy oog op Afrika as deel van sy beleid om sy ekonomiese teenwoordigheid oral in die wêreld te vestig. Afrika is deurspek met Chinese projekte – kragstasies, spoorverbindings, winkelsentrums, noem maar op. Die Chinese se sogenaamde nuwe syroete, wat vyf-en-sestig lande oor land en see van Beijing tot Rotterdam en Madrid sal verbind, se tentakels strek ook verder af, tot in die suidweste en ooste van Afrika.”

O’Reilly hou sy hand op. “En dan moet jy nie vergeet van China se planne om ’n vlootbasis in Djiboeti aan die Horing van Afrika te bou nie. Dit bewys dat hulle ook hulle militêre voetspoor op die vasteland wil vergroot. Die CIA is juis nervous daaroor.”

“Hulle het rede,” sê Carl. “Omdat Amerika se internasionale invloed vinnig aan die taan is onder Trump deurdat hy van sy tradisionele Westerse bondgenote vervreem het met onder meer die onttrekking aan die Paryse klimaatsverdrag en die Verenigde Nasies se Menseregteraad, het daar ’n lugleegte van mag in die internasionale politiek ontstaan. En China is vinnig besig om dit te vul.”

O’Reilly knik. “Terwyl Afrika die Chinese met ope arms inwag. Maar onder die dekmantel van infrastruktuurontwikkeling het China eintlik Afrika se oorvloedige minerale rykdom in sy visier.”

“Presies. En dis juis dié verband tussen China en Afrika wat ek glo die leidraad verskaf. Een van die gelyste mans is immers ’n Chinees, terwyl die vermoordes se gereelde besoeke aan China en Afrika duidelik aandui dat daar ’n verband is. Die feit dat hulle juis Rwanda gereeld besoek het, vertroebel egter my teorie. Sover ek weet, is Rwanda nie geseën met die minerale rykdom van die meeste van sy buurlande nie. Maar smokkelroetes is seker nie uitgesluit nie, veral wanneer die produkte nie in tonnemaat vervoer hoef te word nie. Soos byvoorbeeld diamante.”

O’Reilly klap met sy plathand op die tafel. “Shit, daaraan het ek nooit gedink nie!”

Carl trek sy skouers op. “Dalk loop ek dinge vooruit. Die inligting is nét te skraps om vaste afleidings te maak. Maar ’n mens moet iewers begin.”

“Stem volmondig saam,” sê O’Reilly toe hy vlugtig op sy horlosie kyk. “Jy sal my moet verskoon. Die oproep vroeër was van my tandarts. My afspraak is vervroeg.”

Carl stap nadenkend terug na die kantoor wat hy met Len du Randt deel. Dié sit met ’n diep frons agter sy lessenaar en tokkel verwoed op sy rekenaar se toetsbord.

“En daai frons?” vra Carl.

Du Randt sug. “Die McMeeken-vrou het nog nie van haar laat hoor nie. Ek kon dit seker verwag het, want geoordeel na haar posts is sy nie vreeslik bedrywig op Facebook nie.”

“Ons moet maar geduldig bly,” sê Carl. “Ek neem aan jy het ’n vals Facebook-profiel geskep. Watter naam het jy gebruik?”

“Vals profiel?” vra Du Randt verbaas.

“Jy’t tog seker nie die boodskap onder jou eie naam vir haar gestuur nie?!”

“Shit, ek het!”

Carl skud sy kop. “Dis te laat om dit te probeer verander, want dan gaan dit éérs verdag lyk.”

Hy kan homself skop dat hy dit nie duidelik uitgespel het dat Du Randt ’n vals profiel moet gebruik nie. Maar hy het aangeneem dis net logies. Hierdie ouens roem hulle immers daarop dat hulle spioene is. Hy wou nie voorstel dat hy self die vrou kontak nie, juis omdat hy nie die indruk wou skep dat hy sy kollegas se vermoëns bevraagteken nie. Buitendien is hy nie vreeslik bedrewe met Facebook nie.

Hy beskou Du Randt onderlangs. Skat hom in sy middelvyftigs, met die borselkop en streepsnorretjie wat sy ou weermagverbintenis verklap. Volgens O’Reilly het Len in sy jonger dae uitgeblink op die terrein van militêre intelligensie. Maar soos die man pas bewys het, is militêre intelligensie bleddie ver verwyder van hierdie werk.

Hy het eintlik ’n volbloedspeurder aan sy sy nodig, besef Carl. Tog, Du Randt lyk na ’n verbete bliksem wat nie maklik sal tou opgooi nie. En dis ’n eienskap wat belangrik is in ’n partner.

Wat meer is as wat Carl van sy navorsingspan kan sê. Calvyn se lofliedere oor sy sogenaamde speurvernuf stem hom ongemaklik. Die man is ’n tipiese people pleaser. Of sommer ’n gatkruiper, op goeie Afrikaans. En net die feit dat hy die McMeeken-vrou in Angola dadelik afgemaak het as ’n “doodloopstraat”, laat Carl twyfel of hy so ’n uitsonderlike snuffelaar is.

Sarah is moontlik die skerper mes van die twee, maar Carl kry die indruk sy’s nie hart en siel in die storie nie. Wat doen ’n akademikus met ’n doktorsgraad in elk geval in dié plek? Haar boekekennis gaan nie veel werd wees in hierdie situasie nie.

Onder ander omstandighede sou haar skoonheid sy belangstelling geprikkel het. Haar rokerige donkerbruin oë hou oneindige beloftes in. Laat hom dink aan sy gunstelingaktrise, Sandra Bullock. Haar lyf is net baie meer sexy as Bullock s’n. En O’Reilly het genoem sy’s ongetroud …

Maar Carl het hom op die vliegtuig reeds voorgeneem om hierdie keer nét op sy taak te fokus. Vroue kompliseer dinge – soos hy al soveel keer in die verlede ondervind het as hy met ’n groot saak besig was. Hy’t nie nou iemand nodig om sy aandag af te lei nie.

Buitendien het sy reputasie hom vooruit geloop. Gister tydens hulle ete het O’Reilly terloops gevra of hy nog “’n oog vir ’n mooi nooi” het. Carl weet sy polisiekollegas het destyds geskinder oor sy voorliefde vir die skoner geslag. En hy het hulle genoeg rede gegee deur verhoudings aan te knoop met elke aantreklike vrou wat sy pad kruis. Dit het hom nie net sy huwelik gekos nie, maar hy glo dit het ook sy bevorderingsmoontlikhede bedonner.

Hy glimlag wrang. O’Reilly het seker by Du Randt gehoor van die vrou in sy woonstel in Manila. Du Randt se oë het omtrent uit hulle kasse gepop toe Kezia (of was dit Loyza?) die voordeur in haar evasgewaad oopmaak.

Wat Du Randt gelukkig nie weet nie, is dat sy net een was van minstens honderd vroue wat tydens sy bannelingskap ’n bed met hom gedeel het. Toe Du Randt vra of hy kan reël dat Carl se vriendin saam met hom na Suid-Afrika kom, het hy amper uitgebars van die lag.

Sy verhoudings met vroue was nog altyd soos verbyflitsende stasies op ’n lang treinrit met ’n haastige masjinis aan die stuur. En soos die stasies kan hy die meeste vroue se name nie eens meer by hulle gesigte plaas nie. Buiten die vrou met wie hy getroud was, en die een met wie sy pad gekruis het toe hy aan die wapensmokkelsaak gewerk het, het hy nooit enige langtermynverbintenis in gedagte gehad nie.

Daar is ’n chemiese wanbalans in sy brein wat tot ’n oormatige seksdrang lei, het die polisie-psigiater op ’n keer vir hom gesê. “Ek vermoed jy gaan nooit in staat wees om ’n standvastige verhouding met een vrou aan te knoop nie,” was sy verdoemende uitspraak.

Carl dwing sy gedagtes met moeite terug na die saak. Sarah het hom nou op ’n syspoor gegooi, iets wat aantreklike vroue gereeld regkry.

Hy kyk weer vlugtig na die aantekeninge wat hy gisteraand by die woonstel gemaak het. Hy’t klaar vroegoggend vir Calvyn en Sarah gevra om al die Mercurius-takke in Europa te kontak. Dié moet by hulle plaaslike lugrederye uitvind of Butler, Chang of McMeeken dalk vlugte na Suid-Afrika bespreek het. En van nou af moet hulle dit daagliks monitor.

Calvyn was gou om te sê sulke spesifieke navrae na net drie mense kan maklik onder die aandag van die polisie in Europa kom. Die Mercurius-takke daar gaan huiwerig wees om dit te doen.

Wat net vir Carl bevestig het dat Calvyn se skeppende vermoëns as snuffelaar taamlik beperk is. Dit het hom opnuut laat besef dat hy hier die dinkwerk vir almal sal moet doen.

“Dit kan maklik omseil word,” het hy gesê. “Sluit hulle name in by ’n twintigstuks denkbeeldige name. Die Mercurius-takke kan sê dis ’n lys van mense wat hulle in die verlede aan moontlike menseregtevergrype in Suid-Afrika skuldig gemaak het, daarom dat hulle bewegings hierheen gemonitor word.”

Hoe hy so ’n ingewikkelde saak saam met ’n spul rookies gaan oplos, weet net die donner alleen.

Vloek

Подняться наверх