Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 18
16
ОглавлениеDonderdag 28 Junie 2018 – Kaapstad
Sarah het nog nooit van buitengewoon aantreklike mans gehou nie. Eerstens vertrou sy hulle nie en tweedens is hulle ego’s gewoonlik hopeloos te groot. In die verlede het sy al ’n stel met een of twee van hulle afgetrap, wat haar oortuig het om dié spesie ten alle koste te vermy.
En Carl Bester val pens en pootjies in daardie kategorie.
Lank, breedgeskouer, gespierd – met priemende blou oë en ’n gesig wat Hollywood-materiaal is. ’n Blonde Keanu Reeves. Hy tiek presies ál die boksies af van haar idee van ’n no-go man: dief, seksmaniak, geweldenaar en nou ook nog uitermatig aantreklik.
Sy handdruk is ferm toe O’Reilly hom aan haar voorstel, maar sy merk hoe sy blik vlugtig oor haar lyf gly. Sulke gladde javels is almal dieselfde, dink sy, met net een ding op die brein.
Calvyn tree op soos ’n skoolseun wat sy rugbyheld vir die eerste keer ontmoet. Hy stamel oor stroperige vleitaal van “die groot voorreg … om … om skouers te kan skuur met so ’n gerekende speurder”.
Hy’t nagelaat om “uitgeslape dief” by te voeg, dink sy.
Bester gaan sit tussen O’Reilly en Du Randt en regoor Calvyn en Sarah by die tafel in die konferensielokaal.
Wat haar van Bester verras, is dat hy heelwat jonger lyk as wat sy voorsien het. Hy kan nie ’n jaar ouer as veertig wees nie, wat eenvoudig nie klop met haar somme nie. Volgens Calvyn het Bester hom in sy vyftien jaar by die polisie as ’n topspeurder gevestig, en daarna was hy tien jaar lank ’n voortvlugtige. Dalk is die man so selfgesentreerd dat hy met sy gesteelde geld ook nog plastiese chirurgie ondergaan het? Hoewel die kenmerkende tekens van ’n styfgespande vel nie op sy bruingebrande gesig wys nie.
Dit lyk nie of hy erg het aan die jongste modes nie. Die blou blazer is effe verbleik en die wit gholfhemp nie juis iets wat mens in ’n kantooromgewing sou dra nie. Sy grys broek moet uit ’n vorige dekade dateer, die pype heelwat wyer as vandag se mansbroeke. Seker nie prakties gewees om in nuwe klere te belê as jy heeltyd voor Interpol moet uitvlug nie.
O’Reilly en Du Randt lyk asof hulle die Lotto gewen het. Daai glimlagte het sy nog nooit voorheen ervaar nie. Maar hoe dan anders? Hulle Mercurius-god sit knus tussen hulle, hier om die gróót saak tjop-tjop op te los.
“Wie van julle gaan die woord voer?” O’Reilly kyk om die beurt na haar en Calvyn.
Calvyn trek die stapel dokumente voor hom nader. “Ek.”
“Hy doen Mercurius se snuffelwerk,” sê O’Reilly vir Bester. “Jy steek nie sommer iets vir hom weg nie.”
Calvyn onderdruk ’n giggellaggie.
“Sarah werk saam met hom aan die saak,” voeg O’Reilly as nagedagte by. “Sy was voorheen ’n senior lektor in internasionale politiek by Ikeys.”
Haar oë ontmoet Bester s’n, maar sy kyk vinnig weg. Die man het die soort deurborende blik wat haar ongemaklik stem.
“Reg, ek gaan eers op die drie vermoordes fokus,” sê Calvyn. “Agt-en-twintig dae gelede het Cleveland Whitelock van Parys af in Kaapstad geland. Die volgende oggend is sy lyk deur ’n fietsryer ontdek tussen bosse langs die Melkbosstrandpad. Volgens die patoloog se verslag was die oorsaak van dood ’n kopbesering met geweldige bloedverlies weens die trauma wat deur ’n skerp voorwerp toegedien is. Sy Franse paspoort is ’n dag later in ’n gehawende toestand net duskant Melkbos tussen die bosse gekry. Dis tesame met sy kredietkaarte en ander reisdokumente verbrand, maar sy paspoortnommer was nog sigbaar. Navrae by die lughawe het niks opgelewer oor wie hom daar ontmoet het nie. Hy het ook geen taxidiens gebruik nie. Hoewel hy al tien jaar lank ’n Franse burger was, kon ons Mercurius-tak in Parys nie sy woonplek of enige naasbestaandes opspoor nie. Sy adresbesonderhede by hulle Binnelandse Sake was verouderd. Wat ons wel van hom weet, is dat hy baie gereis het. Hy’t China en Afrika gereeld besoek, veral Rwanda en Uganda. Ook Zimbabwe een keer. Op Google en sosiale media is daar egter geen spoor van ’n Cleveland Whitelock nie.”
Bester leun vorentoe. “Ek neem aan die polisie het geen leidrade op die moordtoneel gekry nie?”
“Niks. Zilch. Dis ’n kenmerk van al die moorde,” spring O’Reilly in.
“Die tweede man is een-en-twintig dae gelede vermoor,” sê Calvyn. “Althaus Schmidt, ’n Duitser van geboorte wat die afgelope vyftien jaar in Oostenryk bly. Sy lyk is vyf kilometer duskant Caledon in ’n murasie deur plaaswerkers ontdek. Blote toeval, want hulle het juis op daardie dag die murasie begin afbreek. Hy is met ’n stuk draad om sy nek aan ’n dakbalk opgehang. Die polisie het geen dokumente by hom gekry nie, maar in sy broek se agtersak was ’n instapkaartjie van die vorige dag se vlug van Londen af, dus kon hulle sy identiteit trace. Soos met Whitelock kon ons Oostenrykse Mercurius-tak geen adresbesonderhede of naasbestaandes van Schmidt opspoor nie. Hy het ook baie gereis, hoofsaaklik na Londen en Rwanda, maar ook vier keer China toe. En hoewel daar tientalle Althaus Schmidts op Google en die sosiale media is, woon nie een in Oostenryk nie.”
“Ons het darem gemene delers: Rwanda en China,” sê Bester.
Calvyn knik oordrewe. “Ja, die derde vermoorde het óók in Rwanda geboer, tot vyf keer ’n jaar. Prince Kazadi, ’n Belgiese burger wat op grond van sy naam ’n boorling van die Kongo kan wees, was ook dikwels in die DRK. Én hy het China gereeld besoek. Kazadi het verreweg die meeste geld in sy geheime Switserse bankrekening gehad – amper dubbel soveel as die ander vyf en nommer sestien op die tophonderdlys. Hy is twee weke gelede in ’n vyfsterhotel hier in die middestad …”
Sarah luister nie meer nie, die besonderhede van Kazadi se gifmoord nog vars in haar geheue. Sy vra haarself heeltyd af wat de donner sy hier soek? Sy het die werk gevat om van Dewald se alomteenwoordigheid te ontsnap – dis die bottom line. Sy het nooit gedink sy sal haar werk by die universiteit so baie mis nie. Om navorsingsartikels vir akademiese publikasies te skryf, om haar kennis met studente te deel, en ja, al moet sy dit effens teensinnig erken, om met gesag voor die TV-kameras oor haar gunstelingvakgebied te praat. Nou is sy vasgevang tussen moorde van onbekende mans en ’n dolle en tevergeefse soektog na meer gegewens oor hulle. Speurwerk 101. Haar doktorsgraad en kennis van internasionale politiek ’n totale vermorsing …
“Reg, nou die drie wat nog leef,” sê Calvyn. “Peter Butler, Sün Chang en Ian McMeeken.”
Haar aandag keer terug na die verrigtinge. Dis die deel waar sy ’n bydrae probeer maak het.
“Sarah het dertien Peter Butlers op Google en sosiale media opgespoor. Ons takke in Brittanje, Amerika en Australië het teruggekom met inligting oor die Peter Butlers wat hulle kon naspeur. Nie een lyk of hy ’n paar miljoen dollar in ’n Switserse bankrekening kan hê nie. Daar is ’n onderwyser, ’n klerk, skoenmaker, eienaar van ’n skubaduikskool, tandarts, polisieman, lektor en so meer. Ons takke het ook na hulle reisbesonderhede gekyk. Nie een het die afgelope vyf jaar China of Afrika besoek nie.”
“Bleddie algemene naam, moeilik,” brom O’Reilly.
“Dis nog nie ’n patch teen Sün Chang nie,” sê Calvyn. “Letterlik honderde Changs op die internet. Maar omdat ons tweemankantoor in China nie ondersteunende inligting kan bekom sonder om die Chinese owerhede se aandag te trek nie, is dit soos om ’n naald in ’n hooimied te soek. Onmoontlik.”
O’Reilly sug. “So ons het bokkerol oor Butler of Chang?”
“Korrek,” sê Calvyn. “En ek’s bevrees Ian McMeeken het ook nie resultate opgelewer nie. Dis ’n Iers-Skotse van wat met daardie spesifieke spelling nie meer algemeen voorkom nie. Ons Britse tak kon besonderhede van drie McMeekens kry: ’n afgetrede boer, ’n kafee-eienaar en sy seun wat saam met hom werk. En dis al.”
“Dis darem nie al nie,” sê Sarah vinnig. Hoewel Calvyn gesê het sy gryp na ’n strooihalm, glo sy tog daar kan iets in steek.
“Ek het ’n Mary McMeeken op Facebook opgespoor,” gaan sy voort. “Sy bly in Kilamba, Angola – dis skynbaar ’n redelik nuwe behuisingsprojek teenaan Luanda. In een van haar posts verwys sy na haar man. Ongelukkig nie op sy voornaam nie, en ook nie besonderhede wat ons kan help nie, maar uit foto’s van die huis kan ’n mens aflei dis baie weelderig.”
“Maar hulle het twee kinders,” onderbreek Calvyn haar vererg, “wat nie strook met die vermoordes van wie geen naasbestaandes opgespoor kon word nie. Ons het ook in Luanda se telefoongids gekyk en daar is geen McMeeken gelys nie. Buitendien glo ek nie ’n ryk ou gaan in ’n behuisingsprojek huis opsit nie. Vir my is dit ’n doodloopstraat.”
“Shit,” brom O’Reilly weer.
“Maar nes die drie vermoordes bly hy nie in Europa nie,” sê Bester. “Kan ons nie by ’n kontak in Angola uitvind wie die man is nie?”
O’Reilly skud sy kop. “Dis ons bleddie probleem. Ons het geen Mercurius-tak in die hele ooste van Afrika nie. En ons kan nie van hier af ’n amptelike navraag rig nie, want dalk maak dit slapende honde wakker … veral as die man later vermoor word.”
Bester peins ’n rukkie. “Dan doen ons dit nie-amptelik. Stuur aan die McMeeken-vrou ’n persoonlike boodskap op Facebook. Vra of haar man se naam Ian is en of hy dalk in die afsienbare toekoms Suid-Afrika gaan besoek. Die sender kan sê hy’t ’n Ian McMeeken in sy jong dae geken en sal hom graag weer wil sien as hy in dié geweste kom. As die man se naam nie Ian is nie, weet ons ten minste ons het die verkeerde ou beet.”
“Ek sal vir haar die boodskap stuur,” sê Du Randt uit die bloute.
O’Reilly lag. “Nie geweet jy’s ’n Facebooker nie, Len!”
Du Randt lyk effe verleë, vryf met sy hand oor sy borselkop. “Dis maar my manier om met die familie en vriende in Gauteng kontak te hou.”
“Raait, dit kan seker nie kwaad doen nie,” sê O’Reilly.
Sarah knik net, ontstig dat sy nie aan so ’n voor die hand liggende oplossing kon dink nie.