Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 4

2

Оглавление

Donderdag 14 Junie 2018 – Kaapstad

Die man se stem smeek saam met sy oë. Sy pleitende uitroepe slaan vas teen die klankdigte mure van die hotelkamer en kaats terug na Richter. Hy beur met sy bolyf vorentoe op die stoel, maar die nylontou gee nie skiet nie.

Richter hou hom uitdrukkingloos dop waar hy oorkant die man sit. Die naakte vrees laat sy oë effe uit hul kasse peul. Daar is ’n sweetglans op sy voorkop. Sy goue voortand flits elke keer as hy sy mond oopmaak om oor sy vlesige lippe te lek. Sy rooi sydas sit skeef en twee hempsknope het in die slag gebly toe Richter hom vroeër oorrompel het.

Die vent moes iets vermoed het, daarom dat hy aangedring het hulle moet hom in sy hotelkamer kom sien. Het seker gedink hy sal veilig wees met al die veiligheidswagte en sekerheidskameras in die vyfsterhotel.

“Hy’s nie so naïef en goedgelowig soos die ander nie,” het die baas vooraf vir Richter gesê. “Die gebied waar hy vandaan kom, is van die gewelddadigste in Afrika. Sy oorlewingsinstink sou hom van kleins af geleer het om niemand te vertrou nie.”

Toe hy die deur vir Richter oopmaak, was hy verbaas omdat die baas nie by is nie. Maar voor hy dit kon bevraagteken, het Richter hom bespring en in ’n kopklem beetgekry. Hy’t hom grond toe gedwing en op sy rug gaan sit, die boeie om sy polse toegeklap en hom toe op die stoel vasgebind.

Die man dra ’n Rolex-polshorlosie, ’n ring met ’n knoetsige robyn aan sy linkerhand se middelvinger, blinkblou snyerspak, bruin krokodilleerskoene. Duidelik het die lewe hom goed behandel sedert hy destyds iewers in Oos-Afrika uit ’n pondok gekruip het, dink Richter.

Wat die man nie weet nie, is dat die baas reeds sy plaasvervanger aangestel het. “Ons tweede in bevel het ’n vertroueling in Gaboen wat kan oorneem as sektorhoof,” het die baas gesê.

“En as hy ook vraatsig raak?” het Richter gevra.

Die baas het gegrinnik. “Hy sal dit nie waag nie, want hy wéét wat ek met vrate doen. En die tweede in bevel sal hom goed dophou.”

Anders as met die eerste twee sektorhoofde, wil die baas by wees as Richter van hierdie een ontslae raak. Wat vreemd is, want die baas stel homself nie graag bloot aan risiko nie.

Richter glimlag. Nie dat daar werklik enige risiko is nie. Wanneer die baas persoonlik by ’n operasie betrokke is, is sy tydsberekening en voorsorgmaatreëls onberispelik – en meesterlik, soos met die meeste dinge wat hy aanpak. Die hotel is vir alle praktiese doeleindes lamgelê met die groot Duitse toergroep wat hier inbespreek is. Daar heers chaos in die voorportaal, sodat die baas ongemerk hierheen sal kan kom.

Soms staan Richter verstom oor die baas se skerp brein. Neem nou maar die situasie met die sektorhoofde. Hoe uitgeslape was hy nie om dieselfde finansiële raadgewer vir al ses van hulle aan te beveel nie? Op dié manier kon hy hulle gelyktydig en sonder moeite monitor. En omdat die sektorhoofde, met die uitsondering van een, nie van mekaar se bestaan geweet het nie, het hulle nooit onraad geruik nie.

Maar daar was iets wat die baas nooit kon voorsien het nie: die lekkasie van die sektorhoofde se bankinligting aan die intelligensiedienste van sekere lande. Dit het sy weldeurdagte plan om die gesteelde geld oor ’n tydperk uit hulle te wurg heeltemal omvergegooi.

Richter skud sy kop. Volgens die baas se berekeninge het die sektorhoofde tussen vyftien en twintig persent te veel geld in hul bankrekenings gehad, wat daarop dui dat hulle die moedermaatskappy deur die jare erg besteel het. Hulle het selfs die finansiële raadgewer ’n rat voor die oë gedraai. Die tweede in bevel was die enigste een wat lankal vermoed het wat aangaan.

Een van die baas se betroubaarste bronne het hom van die lekkasie laat weet en hom gemaan om vinnig op te tree. Maar die baas was bereid om die geld af te skryf. Dis veel belangriker dat geen spoor ooit na hom mag lei nie.

Want dis die baas se leuse: Bly gesigloos én naamloos. Hy sê gereeld dis sy enigste behoud in hierdie skemerwêreld waarin hy opereer.

“S’il vous plaît!” pleit die swetende man op die stoel.

Richter ignoreer hom. Hy wens die baas wil kom sodat hulle die takie kan afhandel.

Dan is drie van die sektorhoofde gebêre. Nog drie om te gaan.

Nommer vier en vyf sal hulle ook Kaapstad toe laat kom. Die sesde een vlieg nie. Richter sal vir hom in Europa moet gaan kuier.

’n Ligte klop laat hom uit sy stoel opstaan. Hy stap hinkend deur toe, kyk deur die loergaatjie en maak dan oop.

Die baas kom in. Sy pet is laag oor sy oë getrek, ’n wolserp verberg die onderkant van sy gesig. Sy skraal gestalte lyk heelwat forser in die dik jas. Nes Richter het hy handskoene aan.

Die baas haal sy pet en serp af en gooi dit op die bed neer. Dan draai hy na die sektorhoof.

Dié se pleitkreet kry ’n ondertoon van histerie. “Ne me faites pas cela! Je vous ai bien servi!”

Richter se Frans is verroes, maar hy verstaan die bedoeling. “Wees my genadig! Ek het jou nog altyd goed gedien!”

Die baas skud sy kop stadig. Daar is net ’n sweem van ’n grynslag op sy bleek gesig. Hy trek sy vingers vlugtig deur sy grys hare en leun vorentoe, sy gesig enkele sentimeters van die sektorhoof s’n. Dan praat hy sag, amper fluisterend, in sy perfekte Frans.

Richter kan nie alles hoor nie, maar die sektorhoof se reaksie wys dis ’n verdoemende boodskap. Sy liggaam rittel in die stoel, sy oë staan stokstyf.

Toe die baas stilbly, begin die man weer pleit. Sy angstige krete kom rukkerig deur sy neus. Hy belowe die baas groot geld, kan Richter uit die koorsige gebabbel aflei.

“Dis te laat, Prince,” sê die baas bars op Frans.

Hy wys Richter moet oorneem. Gaan sit met gevoude arms en uitgestrekte bene op die stoel oorkant die sektorhoof, soos ’n belangstellende toeskouer.

Richter haal die 500 ml-koeldrankbottel uit sy drasak. Hy skud die inhoud goed voor hy die prop afskroef.

“’n Melkdrankie om jou keel mee nat te maak, Prince,” fluister die baas met sy skor stem.

Die klank daarvan laat ’n rilling langs Richter se rug af gly. Hy stap na die man en beduie hy moet sy mond oopmaak.

Die sektorhoof klem sy kake op mekaar, lippe saamgepers, sy oë wyd van vrees.

Richter boor die middelvinger en duim van sy linkerhand diep in die man se wange in, forseer sy kake oop terwyl hy die ken boontoe druk. Hy sit die bek van die bottel in sy mond en lig dit op.

Die man het geen ander keuse as om te sluk nie. Sy adamsappel beweeg ritmies op en af. Hy verstik roggelend en wit strepe loop by sy neusgate uit, maar Richter dwing hom om klaar te drink.

Toe die bottel leeg is, gooi Richter dit op die vloer. Hy hou sy gehandskoende hand oor die man se mond terwyl hy sy kop verder agteroor druk. Netnou kots die bliksem alles uit.

Ná ongeveer ’n kwartier begin die man reageer op die drankie. Aanvanklik net spiertrekkings in sy ooglede en wange, maar dan ruk konvulsies deur sy liggaam. Oplaas bene wat wriemel en styf skop.

Die baas hou alles met ’n fyn glimlag dop.

Richter hou die man se kop agteroor tot sy liggaam verslap. ’n Laaste konvulsie rimpel liggies deur sy lyf. Eers toe die oë glasig na die plafon staar, los hy die sektorhoof se kop.

Vloek

Подняться наверх