Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 8

6

Оглавление

Donderdag 21 Junie 2018 – Kaapstad

Richter druk die twee skyfvormige gewigte aan weerskante van die stang in. Saam weeg dit honderd kilogram.

Hy blaas nog effens ná sy sessie met die slaansak, maar maak dadelik gereed vir die volgende sarsie oefeninge. Gewigoptel is nie net belangrik vir sy spiere nie, dit verhoog ook beendigtheid en help om sy liggaamsvet te verminder.

Hy plant sy voete wyd uitmekaar. Haal eers diep asem voor hy afbuk en die stang met albei hande vasvat. Hy pluk dit steunend op tot teen sy bors en stoot dit blasend bo sy kop uit. Die spiere in sy boarms pyn en hy voel hoe die are op sy voorkop bult. Hy staan vir ’n volle minuut só voor hy die apparaat afbring na sy bors en dit dan met ’n dowwe slag op die dik oefenmat laat val.

Terwyl hy asemskep, val sy blik op sy nuutste aankoop: die oefenfiets. Hy was ’n halfuur op dié voor hy die slaansakke gepak het. Hierdie kamer in sy huis lyk nou ál meer na ’n klein gimnasium. Drie slaansakke hang van die dak af, sy vier pare bokshandskoene is in ’n mandjie langs die oefenfiets en die tien handgewigte is in ’n ry teen die oorkantste muur voor die rekstok uitgepak.

Hy maak gereed om die oefening te herhaal toe sy selfoon begin lui. Hy loop swetsend na die stoel in die hoek en tel die foon op.

Die baas.

“Ek’s op pad Engeland toe vir ’n paar dae, maar wil gou met jou gesels voor ek vertrek. Ek is nou op kantoor.”

“Sien jou oor tien minute.”

Richter druk die foon dood. Daar gaan nie tyd wees om vinnig te stort nie. Hy trek sy sweetpaktop oor sy kaal bolyf aan en besluit om net so met kortbroek en tekkies te gaan. Hy vryf sy natgeswete kop met ’n handdoek droog en stap kort daarna met die smal paadjie deur die oorgroeide tuin tot in die straat.

Ondanks sy hinkstappie is hy binne agt minute in Langstraat. Die smal drieverdieping-gebou staan ingedruk tussen ’n backpackers en ’n Marokkaanse restaurant. Die goue letters AMCPA op die naambord bo die ingang het mettertyd verdof en die klein swart letters onderaan, African Minerals Consumer Protection Agency, is amper onleesbaar.

Hy ry met die ratelende hyser tot op die boonste verdieping en klim in die ruim ontvangsarea uit. Die sekretaresse wys hy kan instap. Hy maak die baas se kantoordeur agter hom toe en gaan sit ongenooid oorkant die lessenaar.

Nie die kantoor wat ’n mens van ’n miljardêr sal verwag nie, dink hy vir die soveelste keer. Geen skilderye of indrukwekkende boekrakke nie. Die dofgroen mat is verweer en plek-plek uitgetrap, die geblomde gordyne voor die groot venster vaal gebrand deur die son, die lessenaar klein en onindrukwekkend. Twee grys staalkabinette uit die vorige eeu staan in die hoek.

Die baas se oë broei oor ’n dokument voor hom, sy kop vooroor geboë, nie ’n haartjie van sy grys dos uit plek nie.

Toe hy opkyk, val sy uitdrukkinglose gesig Richter weer op. Dit lyk altyd of sy gedagtes op ’n ander, baie ver plek is.

Hy streel met sy duim en wysvinger oor sy spits ken, praat dan met ’n fluisterende, skor stem: “Ek moet Randmetal Resources en London-Katanga Mining in Londen gaan sien. Vir hulle ’n paar sertifikate vat om hulle gewete te sus en hulle van nuwe skietgoed voorsien vir die media se lastige navrae.”

Dis asof hy met homself praat, want sy oë kyk verby Richter. Die fyn netwerk plooie wat kruis en dwars oor sy bleek voorkop en wange loop, lyk soos ’n argitek se rowwe lyntekeninge.

Die baas vroetel eers aan die knoop van sy ouderwetse breë das voordat hy Richter vol in die oë kyk. “Die vierde man kom binnekort hierheen. Ek wil hê jy moet solank voorberei vir sy koms. Lig my in wat jy vir hom beplan sodra ek terug is van Londen.”

Richter knik. Hy’t dit verwag.

Dan vra hy: “Wil jy by wees?”

“Nie dié keer nie. Sorg net weer dat dit verskil van die ander gevalle.”

Die baas kug. “Daar is nog ’n takie … dit pla my heeltyd. Ek vertrou nie die kuberkraker nie, dalk het hy ’n los mond. En hy weet hoe jy lyk. Dis beter dat jy van hom ook ontslae raak. En van sy rekenaartoerusting.”

“Ek maak so.”

Die baas glimlag onverwags. “Die tweede in bevel stuur groete vir jou. Ek het vanoggend met hom oor die foon gepraat.”

“Cope hy nog sonder die ander sektorhoofde?”

“Ja, maar hy sal nie lank so op sy eie kan aangaan nie. Ek sal vir hulle ook opvolgers moet kry soos vir Kazadi. Ons wil nie hê die tweede in bevel moet onder die buitewêreld se vergrootglas kom nie. Dit sal nie goed wees vir ons besigheid nie.”

Richter wil nog ’n kans vat en aanbied om die tweede in bevel vir ’n tydjie te gaan uithelp, maar die baas het reeds sy foon se gehoorstuk opgetel.

“Kry vir my Kenny Matthews van Mawason Mining op sy huisfoon,” hoor Richter sy opdrag aan die sekretaresse toe hy by die kantoor uitstap.

Mawason Mining is ’n Kanadese maatskappy, weet Richter. Hy’t in sy jonger dae dikwels met hulle te doen gekry.

Hy neem die trappe ondertoe, sy gedagtes by die tweede in bevel.

“Ek mis die Afrika-bos,” prewel hy toe hy by die gebou uitstap en die Kaapse motreën teen sy vel voel. Wat sal hy nie gee om weer daar ontplooi te word nie! Die tropiese klimaat, mistige mere, lowergroen woude, berggorillas, ’n bord kassawe met vis, ’n yskoue Primus-bier om dit mee af te sluk …

Hy’t die baas al daaroor gepols, maar dié wil niks weet nie. “Jy besef tog seker ek het juis hier ’n vertroueling nodig? Iemand wat my opdragte doeltreffend kan uitvoer.”

Daarmee was die saak afgehandel. Richter het geweet hy hoef nie weer te probeer nie.

Sy gedagtes draai na sy nuwe opdragte. Die kuberkraker sal nie ’n probleem wees nie. Hy bly op ’n afgesonderde plek.

Aan die vierde sektorhoof se moord sal hy deegliker moet beplan. Hy het die man al dikwels op die lughawe gaan haal, want anders as die res vereis sy sektorbedrywighede dat hy die baas gereeld in Kaapstad moet kom sien.

Dis ’n groot, lywige kêrel. Sal nie maklik wees om hom te oorrompel nie.

Dalk kan hy hom vol lood pomp, want hy’t nog nie daardie opsie uitgeoefen nie.

Die vraag is net, wáár doen hy dit?

Vloek

Подняться наверх