Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 9

7

Оглавление

Donderdag 21 Junie 2018 – Manila, Filippyne

Carl Bester druk twee vingers tussen die blindings in en trek dit versigtig weg om beter te kan sien. Die mans het pas uit die motor geklim en staan helder verlig onder ’n straatlamp. Hy was reg, die passasier ís ’n Westerling. Die bestuurder, ’n Filippyn, beduie in die rigting van Carl se woonstelblok.

Hy was op die balkonnetjie toe hy die kar tien minute gelede skuins oorkant die straat dubbel geparkeer sien staan, flikkerlig aan. Duidelik het die bestuurder gewag vir ’n parkeerplek om oop te gaan. ’n Aankomende voertuig se ligte het op die kar se voorruit geskyn en Carl kon sweer die passasier is ’n Westerling, wat hom dadelik op sy hoede gestel het. Wit mense is skaarser as hoendertande in hierdie deel van Manila.

Carl weet Interpol gebruik deesdae ook privaat speurders om hulle vuilwerk te doen, en in uitsonderlike gevalle selfs huurmoordenaars om van “probleemgevalle” ontslae te raak. Die sirene in sy kop het skril gelui en hy’t kamer toe gehardloop om aan te trek. Nie eens die moeite gedoen om die meisie in sy bed wakker te maak nie. Kezia … of is dit Loyza? Hy’s nie seker nie, hy raak deurmekaar met die twee kelnerinne. Of is Kezia die assistent in die koffiekroeg? Dit maak in elk geval nie saak nie, hulle ken nie een sy regte naam nie.

Hy’t die rugsak met sy vyf paspoorte, skootrekenaar en ander noodsaaklikhede vir ’n noodgeval uit die kas se boonste rak gepluk. En nou, met die twee mans wat wag vir ’n gaping in die stroom verkeer om oor die straat te stap, verspil hy nie tyd nie. Dalk jaag hy spoke op, maar hy gaan nie kanse waag nie. Hy sal die woonstelblok op ’n afstand dophou en as die ligte in sy plek aangeskakel word, sal hy weet hulle soek na hom.

Hy kyk terug na die bed. Die meisie slaap nog vas ná sy haar vroeër vergryp het aan die goedkoop wyn wat hy aanhou. Hy gooi die rugsak oor sy skouers en trek die voordeur agter hom toe, hardloop holderstebolder die twee stelle trappe af.

By die uitgang kyk hy vlugtig na die oorkant van die pad, maar ’n bus versper sy sig. Sonder om om te kyk, kies hy koers in die teenoorgestelde rigting as waar die mans vandaan sal kom. Hy vleg vinnig en gebukkend op die sypaadjie tussen die horde voetgangers deur.

Dan hoor hy die uitroep agter hom.

“Bester!”

Vir ’n oomblik vries hy in sy spore.

Dit slaan hom soos ’n bliksemstraal tussen die oë. Hulle weet wie hy is en hulle het hom gesien!

Hy skud die gevoel van verlammende paniek af en hardloop, druk mense uit sy pad, struikel toe hy ’n paar kissies groente by ’n straatstalletjie met sy heup omstamp, behou sy balans en beur verbete vorentoe. Verontwaardigde uitroepe van omstanders klink op.

Sy bene pomp reëlmatig, sy oë soekend na ’n geskikte ontsnaproete.

Hy hoor die voetval van sy agtervolgers duidelik op die sypaadjie. Hulle skree iets, maar dit word uitgedoof deur die stad se geluide en die gezoem van stemme. Mense spring verskrik opsy om uit sy pad te kom, wat hom ’n maklike teiken maak om te agtervolg.

Elke sening en spier in sy lyf is gespan, maar dit voel of hy lood in sy skoene het – asof hy op een plek watertrap.

Hy sien die steeg tien meter voor hom. Soms lei die stegies in Manila na ander straatblokke, soms loop dit dood.

Hy besluit om die kans te waag.

Die steeg is donker en smal, maar omdat daar nie voetgangers in sy pad is nie, kan hy voluit hardloop.

Daar is skielik harde voetstappe agter hom. Hulle het hom die steeg sien vat, besef hy. Paniek klop opnuut in sy slape.

Hy hardloop om ’n blinde hoek, en steek vas. Die steeg verdeel na links en regs. Hy swenk dadelik links. Dis ’n kronkelpaadjie, wat beteken hulle gaan hom moeilik op ’n afstand kan sien.

Hy hoor hulle stemme dofweg opklink. Hulle moet nou by die plek wees waar die steeg verdeel. Hy trek sy skoene uit en hou dit teen sy bors vas terwyl hy in sy sokkies verder hardloop.

Die paadjie maak ’n skerp draai na regs en hy kom in ’n klein vierkant uit, wat hom verwilderd laat vassteek.

Doodlooppad.

Sy blik skeer angstig oor die omgewing. Hoë kantoorgeboue omring hom. Diefwering voor die vensters. Geen pype om teen op te klim nie.

Dan sien hy die inham. En daar’s ’n deur. Hy haas hom soontoe.

Hy stamp die deur hard met sy skouer. Dit beweeg nie ’n duim nie. Hy probeer ’n tweede keer, stormloop die deur met sy volle gewig, maar die soliede houtpaneel maak nie eens ’n kraakgeluid nie.

Naderende voetstappe. Hy verstar. Klink soos net een mens.

Hy pluk die rugsak af en gooi sy skoene op die grond. Tas naarstig in die donker inham rond, sy hande soekend na iets soos ’n bottel wat as wapen kan dien.

Niks.

Hy gaan staan met sy rug styf teen die muur gedruk, gereed om die agtervolger te oorrompel. In ademlose afwagting luister hy na die naderende voetstappe.

Die donker silhoeët van ’n man beweeg verby hom.

Hy wag tot die man se rug heeltemal na hom gekeer is voor hy beweeg. Slaan sy regterarm om die man se bors sodat hy ook sy arms vaspen en gryp sy ken met sy linkerhand vas. Net ’n harde pluk na enige kant en hy breek die ou se nek morsaf.

Maar die man skree benoud voor hy tot aksie kan oorgaan.

“Fok, Bester, ek’s nie hier om jou in hegtenis te neem nie!”

Die woorde tref hom soos ’n emmer yskoue water in die gesig.

Afrikaans! Die man praat Afrikaans!

Sy greep verslap.

Dis die eerste keer in tien jaar dat iemand in sy moedertaal met hom praat. Dit voel soos ’n buiteruimtelike ervaring.

Hy stamp die man vorentoe.

“Sit jou hande teen die muur en sprei jou bene,” beveel hy.

Die man gehoorsaam. Carl se hande gly behendig oor sy liggaam.

Geen wapen nie.

“Reg, jy kan maar omdraai.”

In die newelagtige lig is dit moeilik om die man se gelaatstrekke te sien, maar hy’s skraal en van gemiddelde lengte.

Die man vryf oor sy gesig. “Bliksem,” prewel hy.

“Hoekom soek jy my?” vra Carl.

“Ek het ’n boodskap vir jou … van Benade.”

Carl kan sy ore nie glo nie. Benade? ’n Skim uit sy dwelmdae? Onmoontlik!

Asof die man sy gedagtes kan lees, sê hy: “Jou polisiekontak toe jy die dwelmmol in Kaapstad was.”

“En wat is sy boodskap?”

“Dis baie goeie nuus vir jou …” Die man gee ’n onseker tree nader aan Carl. “Kan ons nie in jou woonstel gaan gesels nie? Ek het ’n klomp dokumente waarna jy sal wil kyk.”

Hy steek sy hand na Carl uit. “Ek’s Len du Randt.” Hy gee ’n droë laggie. “Of sal ek sê, amper wyle Len du Randt.”

Vloek

Подняться наверх