Читать книгу Vloek - Rudie van Rensburg - Страница 15

13

Оглавление

Woensdag 27 Junie 2018 – Kaapstad

Een van die eerste lesse wat Richter as sluipmoordenaar by die baas geleer het, is dat jy jou pistool en patrone kry by ’n bron wat wapens onder die tafel deur verskaf. Die wapen moet nooit na hom of jou teruggespoor kan word nie. En ná ’n moord raak jy dadelik ontslae daarvan.

Daarom gebruik Richter nooit sy eie Heckler & Koch vir werkdoeleindes nie, maar koop sy skietgoed by ’n Nigeriër in die agterstrate van Woodstock. Dié is al jare lank sy verskaffer en het ’n vlekkelose rekord as dit kom by onnaspeurbare wapens.

Waar Richter nou die Star Starfire 30MI-9 mm skoonmaak, is hy tevrede met die toestand daarvan. Nie nuut nie, maar goed opgepas. Die vierkantige kolf is ook na genoeg aan die Heckler & Koch se ontwerp om gemaklik in sy hand te voel. Hy bestudeer die pistool en knik goedkeurend. Silwerskoon. Hy druk die twee patrone in die magasyn en skuif die vierkantige stafie aan die onderkant van die kolf in, sit dit in die plastieksak, seël die sak en bêre dit onder die los vloerplank in sy slaapkamer.

Hy trek die latekshandskoene uit, stap kombuis toe en gooi hulle in die vullisdrommetjie. By die tuimeldroër buk hy en haal die wit hemp uit. Dis darem al droog.

Hy beskou die hemp noukeurig, frons. Die verdomde bloedvlekke op die kraag het nie heeltemal uitgewas nie. Altyd maar ’n risiko as jy iemand met ’n mes takel, want al werk jy hoe klinies, bly daar van die slagoffer se bloed op jou klere agter. Hy sal die hemp moet verbrand. Gelukkig het sy jas skoon teruggekom van die droogskoonmakers af. Die paar donker vlekke op die bors is weg.

Aan die baas, wat môre van Engeland terugkeer, sal hy ’n mondelinge verslag moet lewer. Die moord op die kuberkraker het glad verloop. Daar was geen ander verkeer in die mistroostige weer op die pad na die kleinhoewe waar die kuberkraker woon nie. Dus geen ooggetuies van Richter se teenwoordigheid in daardie omgewing nie.

Al die koerantberigte gee dieselfde weergawe: Dit was ’n inbraak – die venster wat Richter ná die moord gebreek het, was duidelik oortuigend genoeg vir die polisie. Die jong man is met sy eie slagtersmes vermoor en daar is na raming derduisende rande se rekenaartoerusting gesteel.

Dié het Richter al die volgende dag vernietig en op ’n munisipale stortingsterrein gaan weggooi.

Beter kon die opdrag nie verloop het nie. Hy het selde simpatie met sy slagoffers, maar hy kon nie help om die kuberkraker effens jammer te kry nie. ’n Lewenslustige jong man met ’n mooi glimlag en goeie maniere.

Hy skud sy kop stadig. Nie dat sy daad hom slapelose nagte sal besorg nie. Dis deel van sy werkbeskrywing om mense te verwyder wat ’n bedreiging vir hulle sakeonderneming inhou. Of soos die baas dit gestel het toe hy Richter destyds in die Afrika-bos gewerf het: “Ek gee jou ’n lisensie om te moor. Jou dade sal selde oor wraak of persoonlike griewe gaan, bloot oor die beskerming van ons bates. As jy dit in daardie lig beskou, sal jou gewete jou nooit ry nie. Voer jou take emosieloos uit, soos ’n tandarts wat ’n pasiënt se tand trek. Beskou dit as ’n hoogs gespesialiseerde maar ietwat onkonvensionele beroep.”

Richter se gedagtes is vinnig by sy volgende opdrag.

Die vierde sektorhoof kom oor ’n paar dae hier aan. Richter het gister in die Skiereiland rondgery om te bepaal waar hy hom kan skiet. Hy is tevrede dat hy ’n afgesonderde terrein geïdentifiseer het, met genoeg lawaai in die omgewing om ’n skoot veilig af te trek.

Tog is daar iets oor dié spesifieke man wat hom hinder. Maar dit help nie hy noem dit môre vir die baas nie, want hy verpes dit om met sulke soort probleme gekonfronteer te word. Hy sal verwag dat Richter klaar ’n oplossing het. “Dis waarvoor ek jou betaal,” sê hy altyd.

Dié man is die enigste van die ses sektorhoofde wat ’n standvastige verhouding met ’n vrou het. Volgens sy lêer is hy al twintig jaar met haar getroud en het hulle twee kinders van onderskeidelik sestien en veertien jaar oud. Die ander sektorhoofde is of was geskei en hulle verhoudings met vroue was nooit ernstig nie. Die baas keur juis sy personeel op grond daarvan, en gesinsmense is allermins geskik. Maar in dié geval het hy ’n uitsondering gemaak, want die man se profiel was destyds pasklaar vir die onderneming se behoeftes.

En hoewel die baas sy streng voorskrif van algehele geheimhouding indril by almal wat vir hom werk, wonder Richter of hierdie sektorhoof nie dalk die goue reël verontagsaam het nie. Dis tog onmoontlik om vir twintig jaar met iemand getroud te wees sonder om iets te laat val oor jou werkgewer en die aard van jou werk. Trouens, dit sou heel onnatuurlik wees. En die baas het geen waarborg dat die vrou sal stilbly as die nuus oor haar man se moord bekend raak nie.

Hy stap peinsend met die wit hemp in sy hand na die sitkamer. Die kaggelvuur brand reeds hoog. Hy gooi die hemp in die vlamme en druk dit met ’n braaitang dieper in.

By die drankkabinet gooi hy vir hom ’n tweevingerdop en gaan sit in die gemakstoel voor die vuur. Hy neem ’n slukkie, rol eers die brandewyn in sy mond rond voor hy dit afsluk.

Daar is net één uitweg, besluit hy. Die tweede in bevel sal moet help.

Hy haal sy selfoon uit sy sak en bel.

Die tweede in bevel antwoord amper dadelik.

“Goed om van jou te hoor,” sê hy op Frans. “Wanneer kom kuier jy weer?”

Richter oorweeg dit vir ’n oomblik om Engels te praat, maar besluit dan op Frans. Sy verroeste Frans is beter as die tweede in bevel se Engels.

“Ek het nie kans vir kuier nie, die baas hou my besig. Maar ek bel om ’n guns te vra.”

“Vir jou doen ek enigiets.”

“Jy doen dit nie vir my nie, maar vir die baas.”

“So dis eintlik ’n opdrag?”

“Sien dit in daardie lig, ja.”

“Nou laat ek hoor?”

“Ek wil hê jy moet oor ’n paar dae Angola toe gaan. Kilamba.”

“Gaan dit oor die man wat na julle toe kom?”

“Ja. Hy’t ’n vrou en twee kinders in Kilamba.”

“En hulle moet … ophou asemhaal?”

“Korrek. Ek sal jou bel wanneer jy dit moet doen. Wees net gereed. En tref al die voorsorgmaatreëls soos ek jou geleer het.”

Vloek

Подняться наверх