Читать книгу Boomkastele - Schalk Schoombie - Страница 10

5

Оглавление

Sissende sirkels.

Met wye, ontspanne sirkelbewegings spuit die man met die hoodie sy blou wolkies teen ’n kafeemuur. Hy is amper klaar, kleur ’n gaping in waar die baksteen deurskyn.

KEBLOEI.

’n Loeigeluidjie laat hom omkyk. ’n Polisiemotor kom suutjies om die hoek, die blou draailig ’n knipperende oog.

Hy gooi die halfleë kannetjie eenkant en bokspring weg in een seepgladde beweging. Doodloopstraat met palissade-heining en bondels geroeste doringdraad bo-op. Dubbel gedwarsboom, maar hy swenk al klaar sigsag, intuïtief na ’n gebreekte venster regs wat lyk soos Munch se swart skreeu. Dis op die grondvloer van ’n zombie-woonstelblok wat twee dekades gelede nog ’n spogplek was waar geliefde oudonderwysers kon aftree.

Hy swaai sy rugsak in ’n halwe boog deur die lug en slaan die wreedste glasskerwe uit die vensterraam. Spring ligvoets deur na die soel donkerte, skraap sy regterbeen op ’n oorblywende glastand, land katvoet. Hy hoor hoe word bevele iewers in die straat geblaf. Kardeure klap, oomblikke later ’n dringende gehamer teen ’n hol deur.

In die donker om hom die gedrup van water, ’n baba wat huil. Kan hier mense leef?

Hy koes en skouer deur twee vrot deure, skaats deur skemer gange wat ruik na urine, hoendervet en brand. Vyf trappe op ’n slag af aan die agterkant, stamp in die verbygaan teen ’n vet man met ’n rooi kopdoek wie se mond oopgaan – al weer Munch – skadu tussen skadu’s.

Hy bly vasberade kop omlaag sodat sy gesig onherkenbaar bly onder die hoodie. Wip soos ’n rubberbal oor ’n lae muurtjie tot in ’n binnehof vol swart vullissakke en ’n brandsiek hond wat lyk soos ’n kaalgeknaagde ribbekas op pote. Sy asem jaag nog nie eens nie. Hy skop ’n dor potplant uit die pad, glip oor ’n lendelam heining en geraamtes van geroeste stoele, ’n uitgebrande matras met swart draadvere en grys pluime. Bons en wawiel oor balkonne, parkour-kunstenaar, vry van gravitasie, hoogspring-en-vlieg, man-in-sirkel, ballet in die gekraakte dop van die binnestad.

Daar’s niemand wat hom sien nie. Hy’s onsigbaar, die skim van sirkels.

Die mistici beweer hul ekstase onthul aan hulle ’n sirkelkamer met ’n groot sirkelvormige boek waarvan die rugkant rondom strek en die volledige sirkel van die mure volg; maar hul getuienis is verdag, hul woorde obskuur. Die sikliese boek is God.

Só skryf Borges in die Sirkelman se voosgelese kopie van Labyrinths.

God trek ’n sirkel om stad, polisie, die dood in die spuitkan.

Hulle sal hom nooit vang nie. Hulle weet nie waar om hom te soek nie, hy’s die onsigbare man. Hy leef randlangs en ondergronds.

Die wind steek skielik op. Sy oë kry koud.

Hulle sal hom nooit vang nie, al drup daar bloed van sy been af, spikkelspoor in die puin.

Want hulle soek verkeerd.

Boomkastele

Подняться наверх