Читать книгу Boomkastele - Schalk Schoombie - Страница 15

10

Оглавление

As die ergste kan gebeur, sal dit. Wees voorbereid op die ergste en vat dit van daar af.

Só dikteer die wet van gemiddeldes, Murphy’s Law, tydskrifghoeroes, Oprah, verskeie lewensafrigters en motiveringsprekers en al die popleuses uit Ina Moerdyk se jeug. Hulle het haar ’n klomp vrese ingeprent, maar sy glo dit help haar om straatwys te wees.

Dis beter om die ergste te verwag, want die kans is goed dat jy dalk net tweede of derde slegste daarvan gaan afkom, en dan was jy ten minste voorbereid. Dan was jy baie, baie gelukkig.

Ina glo in The Worst Case Scenario. Sy verwag dit om elke hoek en draai, 24/7.

Dié oortuiging help jou superparaat lewe, soos haar pa haar geleer het. Sy het elke Dinsdag en Donderdag saam met haar neefs karate geneem en haar swart gordel (eerste dan, Shotokan) met trane en vasbyt ná dertien jaar verwerf. Sy het haar linkerbeen in ’n provinsiale geveg gebreek en ses maande geneem om te herstel. Sy weet hoe om te val-en-rol en sierlik op te staan. Sy het drie medaljes vir vlymskerp katas gewen.

As jy die ergste verwag, kan jy terugbaklei. As jy niks verwag nie, is jy verlore.

Soos haar vriendin Daniella wat ’n ou deur Facebook ontmoet het, ’n metroman met gejelde hare en gladgeskeerde bors wat hou van die Blou Bulle en chick flicks. Hulle het afgespreek om mekaar te ontmoet by ’n kroeg met polsende ligte oor die dansbaan en ’n DJ met ’n halfmasker soos die Phantom of the Opera.

In die vroeë ure het die kroegman Daniella in die manstoilette wakker geskud. Haar naels was gebreek, haar bloes geskeur en haar broekie om haar enkels gefrommel. Sy kon niks onthou nie, nie eens haar date se gesig nie. Die kroegman sê sy het net ’n Coke bestel. Hy’t haar na ’n kroegstoeltjie gehelp en gesê sy was bliksems gelukkig, sy kon iewers dood in ’n sloot gelê het. Ses weke later het sy die kit by die apteek gaan kry, lood in haar hart, en toe was dit ook so. Duiwelsaad. Besmet deur ’n sjarmante, gesiglose sluiper.

Hoe dom en onoplettend is dit? wou Ina sê. ’n Ope uitnodiging, die stereotiepe situasie. The Worst Case Scenario. As dit sý was, het die vark sy mangels vir sy knaters verruil.

Nie dat Ina haarself as ’n tawwe koekie beskou nie. Nooit gesien nie. Sy kan trane stort en aangaan met haar dag. Al kan sy skop soos ’n muil, hou sy net mooi niks van geweld nie. Geweld is die vervloekte uitvinding van mans.

Sy is nou presies twee jaar en twee maande misdaadverslaggewer, iets wat ’n tawwe koekie sou doen en waarop haar pa baie trots is. Maar sy droom onbeskaamd van die dag dat sy “bevorder” sal word na leefstyl.

Koerante beskou sy as ’n springplank na vrouetydskrifte, miskien selfs moderedakteur of kosredakteur of reisredakteur of enige posisie behalwe motorredakteur waar sy kan vergeet van elke dag se oordosis verkragting, moord en doodslag. Sy wil wegkom van die oneindige siklus van slegte nuus en foto’s van verminktes en fokus op die leksels goeie nuus. Sy is geen sentimentalis nie, maar wie kan eerlikwaar die mooi en fyner dinge in die lewe versmaai? Skoonheid is daar vir almal, selfs die armstes en siekstes kan ’n blom of ’n sonsondergang waardeer.

Daar’s soveel mooi as jy net jou oë oopmaak en kyk!

Dis hoekom die Sirkelman haar fassineer. Eintlik is sy heimlik verlief op hom, al sal sy dit nooit aan haar siniese kollegas erken nie, en beslis nie aan Daniella nie. Hoe is dit byvoorbeeld anders as die geval van die gesiglose sluiper?

Goed, die Sirkelman is nie ’n glibberige teenwoordigheid op Facebook nie. Hy is wel ewe gesigloos, ’n skim met rugsak en hoodie wat nog net deur ’n paar studente, boemelaars en woonstelbewoners op ’n afstand gesien is.

Gemiddelde lengte, so sê hulle, skraal maar sterk gebou, vermoedelik wit. Hy’s rats en vinnig en niemand het hom al vir langer as ’n paar sekondes geëien as die Sirkelman nie.

Hy is ook ’n terroris wat die bestaande orde wil ondermyn – moderne kuns is op ’n vreemde manier verwant aan terrorisme – maar hy val nie vroue aan nie. Sy aanslag is nie immoreel of ontstellend nie, dis ’n vorm van vreedsame verset, behalwe as jy sulke kleurryke simbole as vandalisme beskou, die skending van private eiendom. Hy’s geheimsinnig, ontwykend, onvaspenbaar. Wat hom soveel aantrekliker maak.

Wat wil hy met sy gespalkte, naakte man in ’n sirkel sê?

Sy het dit gaan google en weet dis Leonardo da Vinci se ikoniese tekening Vitruviaanse Man, oftewel Le proporzioni del corpo umano secondo Vitruvio, circa 1490, met begeleidende notas deur Da Vinci gebaseer op die werk van die argitek Vitruvius. Dit word bewaar in die Gabinetto dei disegni e stampe van die Gallerie dell’Accademia in Venesië, Italië, verwysingsnommer 228, en word selde aan die publiek vertoon.

Die tekening, ink op papier, beeld ’n manlike figuur uit in twee gesuperponeerde posisies, sy arms en bene wyd uitmekaar gespalk, beide gegraveer in ’n sirkel en ’n reghoek. Dit word soms die “Kanon van proporsies” genoem, minder dikwels “Proporsies van die mens”, en verteenwoordig die ideaal van menslike meetkundige proporsies volgens die Romeinse argitek Vitruvius in Boek III van sy verhandeling De Architectura. Daarin beskryf hy die menslike liggaam as die hoofbron van proporsies in die Klassieke argitektuur.

Volgens Vitruvius was die ideale liggaam agt koppe hoog:

Die lengte van die uitgespreide arms is gelyk aan die hoogte van ’n man.

Die maksimum breedte van die skouers is ’n kwart van die hoogte van ’n man.

Die lengte van die hand is een tiende van die hoogte van ’n man.

Die voet is een sewende van die hoogte van ’n man.

Die wortel van die penis is by die helfte van die hoogte van ’n man.

Van onder die voet tot onder die knie is ’n kwart van die hoogte van ’n man.

Van onder die knie tot die wortel van die penis is ’n kwart van die hoogte van ’n man.

(Ina moes wonder of Vitruvius en Da Vinci soortgelyke afmetings op vroue toegepas het, en of hulle enigsins besorg was oor die ideaal van volmaaktheid in ’n vrou.)

Die skets word dikwels gebruik as ’n vanselfsprekende simbool van die wesenlike simmetrie van die menslike liggaam, en ook van die ganse heelal. Wat kan dit vandag beteken as kleurryke graffiti teen ’n stadsmuur? Ons moet onsself bestudeer? Onsself kruisig? Ons simmetrie van volmaaktheid en die stand van die mensdom circa 2015 herwaardeer? In hierdie tyd van ongekende vooruitgang, verval en onvolmaaktheid.

Ina het foto’s geneem van al die Sirkelman se graffiti wat sy kon opspoor, maar daar is altyd iewers ’n vars een waarvan sy lees op die webwerf www.spotthecircle.co.za. Vir ’n paar maande nou al is hy almal ’n kortkoppie voor: die polisie, die media, sy portuurgroep van graffiti-avonturiers, sy eie aanhangers.

Soos dit hoort, meen Ina.

Dis nie soseer dat sy verlief is op hom as wat sy op sy konsép verlief is nie. Die idee van iemand wat ’n man in ’n sirkel dwarsdeur die stad spuitskilder. Die waagmoed wat dit verg. Die feit dat hy nie munt slaan daaruit nie, homself nie op ’n goedkoop manier bevorder nie.

Tussen die gewone krabbelgang van ander graffiti, sinlose simbole, lelike internasionale abstraksies, barbaarse name in krullende barokskrif wat vir die ongeoefende oog van die oningewyde onleesbaar bly (dis seker die hele idee), rebelse gesigte en tollende hip-hoppers, is dit verfrissend anders. Koel en klassiek en gewoon mooi, en daarom dalk juis meer ondermynend. Sekuur in lyn en kleur, onbeskaamd Eurosentries, geen geurtjie van Afrika nie. Muurskilderye met ’n sober intellektuele inhoud, graffiti met gravitas.

ROOI: lewe, bloed, passie, wellus, woede, revolusie, oorlog, fascisme, gevaar, stopteken.

BLOU: kalmte, koelte, koue, water, hemel, ruimte, asem, oopte, dynserigheid, grensloos.

SIRKEL: oneindigheid, ewigheid, sonder begin of einde, herhaling, geslote en dus eindeloos, reïnkarnasie, God.

Só het sy dit agter in haar notaboek probeer ontsyfer.

Die rooi mensie in sy naakte wellus, wildheid en woede gevang in ’n eindelose sirkeltronk op ’n blou uitspansel. Onbetwisbaar sensueel – al daai arms en bene! ’n Rebel met roeiende ledemate swewend in ’n matematiese heelal.

Sy weet nie of dit die Sirkelman se bedoeling is nie. Elkeen se vertolking sal seker verskil. Of is daar ’n meer spesifieke vertolking wat met die moderne mens praat, die arme depressiewe gatvol drommel?

Die graffiti voed haar. Dit pas by haar obsessie met The Worst Case Scenario, die ergste verwagting, die hele ou eksistensiële dilemma. Die mens gevang in tyd-ruimte soos ’n vlieg onder ’n omgekeerde glas.

’n Jaar of twee gelede het sy ’n dokumentêre fliek gesien, Exit Through the Gift Shop, oor die Britse graffiti-kunstenaar bloot bekend as Banksy. Ook hy is ’n skim wat sy satiriese stensilkunswerke as bytende kommentaar teen mure en brûe in verskeie wêreldstede los. So beroemd het hy geraak dat sy straatkuns gereeld opgeveil word aan die hoogste bieër – en die probleem om die kunswerk te verwyder, word gewoon aan die suksesvolle koper oorgelaat.

Probeer Sirkelman ’n Suid-Afrikaanse Banksy wees, met anonimiteit as foefie om berug te raak?

Haar selfoon begin Pachelbel se kanon rinkel, kristalklanke wat ’n paar joernaliste in die kantien geïrriteerd laat opkyk.

Dis Gys, die nuusredakteur. Droë drel. Slegte vel en graf-asem. Sy skor stem (te veel Marlboro’s en Klippies) laat haar die selfoon van haar oor af weghou, asof sy hom kan ruik.

Gyselaardrama: ’n Pa hou sy twee kleuters met ’n haelgeweer aan in ’n noordelike voorstad. Bure het die polisie ingeroep en die koerant se nuuswenknommer gebel. Ouers geskei, kinders langnaweke en Desembervakansies by die pa. Hy het breekpunt bereik. Slegte nuus is goeie nuus, Ina. Nog nie ’n ekstreme geval nie, maar potensieel Voorblad.

Sy gooi haar leë blikkie Coke Zero in die verbygaan in die asblik by die kantien se uitgang, klaar op ’n draffie deur die groot portale wat herinner aan die onpersoonlike sale van ’n lughawe.

Haar motor staan op ’n plek sonder skadu, aanduiding van lae rang. Bakoond op wiele. Sy sit haar sonbril op, rol vensters af om bedompigheid uit te laat, maar nie voordat die vol middagson haar onkeerbaar laat nies nie. Kan mens allergies wees vir lig?

Die verkeer voor die gebou staan al weer; ’n waterpyp het gebars en een baan is afgesper. Murphy’s law, want sy’s mos haastig en daar’s nuus wat iewers breek.

’n Roomkleurige Land Rover Defender flits vir haar ligte, laat haar toe om in die stroom in te kruip.

Sy bestudeer die bestuurder in haar truspieëltjie: ’n man met donker hare, bruingebrand, hoekige kaak, donkerbril. Sy venster is oop, wat beteken hy het nie air con nie of dit werk nie in hierdie hittegolf nie. Sy klik dankie met haar noodliggies en hy knik, sy lippe beweeg.

Hulle kruie so aan vir drie minute voor sy in tweede rat kom, maar sy ry stadig genoeg dat hy kan verbyskiet. Sy hou haar nek styf om nie te kyk nie, maar nuuskierigheid kry die oorhand. Aantrekliker van naby af. Hy sit hoog, kop byna teen die plafon, sy raai 1.87 meter (of ’n outydse ses voet twee in sy sokkies), kyk af op haar en glimlag. Sy sê weer dankie.

Op die bakkie se agterkant is stofstrepe en ’n plakker: Fuck the Rhino. Save the white O.

Sy neem ’n foto daarvan met haar BlackBerry. Weet sy behoort nie daarvan te hou nie.

Tog, dis nes graffiti, politiek inkorrek, oop en bloot, nie gekrabbel agterop ’n toiletdeur nie.

Is hy ’n wit ekstremis of rassis – of albei?

Of net ’n rustige boer met ’n rebelse streep en ’n sin vir humor wat reaksie probeer uitlok?

Rebel, besluit sy. Potensieel nice.

Boomkastele

Подняться наверх