Читать книгу Boomkastele - Schalk Schoombie - Страница 17

12

Оглавление

Twee dae nadat die wit moerbeiboom en witstinkhoutboom afgesaag is, die boomgille nog helder in sy gemoed, het die navorser na ’n kwekery buite die dorp gery en ’n jong witstinkhoutboompie uitgesoek. Dit was skaars meer as ’n bleekgroen lat, ’n kleuter, maar reeds meer as ’n meter lank, met kwassies blare.

Daar was geen wit moerbeiboompies te koop nie, volgens die vrou by die kwekery ’n seldsame boom en haas onverkrygbaar. Die navorser het gevra watter bome groei die vinnigste. Sy het hom gelei na ’n klein omheinde woudjie en gewys na ’n soepel loot met welige blare.

“Hierdie een word binne twee jaar ’n koelteboom. Maar pasop, dit neem alles oor.”

Die navorser het die sterkste een gekies wat in sy motor sou pas, haastig betaal en teruggery met sy twee boomkinders wat by die karvensters uitsteek, punt in die wind, trillend en klappend teen die dak. Die wind het die blare met kil vingers afgestroop.

In sy agtertuin, nie ver van waar die vermoorde bome in die buurman se tuin gestaan het nie, het hy self met pik en graaf twee diep gate gegrou, verder uitmekaar as die voorgangers, minstens vyf meter, om hul takke en wortels ruimte te gee. Hy het die boompies met bewende hande ingedruk en die wortels met nat kluite toegepak. Sy dogter het hom gehelp om die stamme regop te druk teen die swelling van die aarde.

Sy asem het gejaag van die inspanning. ’n Daad van verset. ’n Daad van wraak en rou. Die boomreuse was weg. Hulle kon nie in dertig, veertig jaar vervang word nie. Of kon hulle?

Sy vrou het vir hom ’n glas enkelmoutwhisky gebring, skoon met twee blokkies ys, teruggestaan en woorde geprewel wat hy nie kon uitmaak nie. Dalk ’n skietgebed.

Hy het die bome gedoop met ’n whiskyvinger teen elke stam: Sfinks en Oorwinnaar. “Groei vir my,” het hy gefluister. “Groei en word groot voor ek my laaste asem uitblaas. Groei en oorwin!”

Begrippe soos “buurmanskap” en “vergifnis” het vir altyd vir hom vertroebel, begrippe wat skynbaar ook die teendeel kon bevat: “onbuurmanskap” en “onvergifnis”. Sluit elke absolute begrip nie reeds sy teenoorgestelde in nie? het hy gewonder. Soos ’n mens altyd in helder lig ’n skadu werp, en in die duister self skadu word wat muurlangs vroetel vir die skakelaar.

Hy was sy gewone ou self, het hy homself oortuig. Vriendelik by die werk, noukeurig in sy wit jas, liefdevol met sy vrou en dogter, hoflik in die verkeer, afstandelik en professioneel met sy sekretaresse, oënskynlik ’n redelike, gawe man, die produk van eeue se beskawing. Hy het geen bewustelike verskuiwing in sy denke gemaak oor medemenslikheid nie (doen aan andere . . . en so voort). Hy het steeds meer as sy tiende gegee. Hy het mense nie meer of minder gewantrou as voorheen nie.

En tog het die betonmure om sy huis hom met ongemak en ’n vreemde aggressie gevul. Die mure was nie daar om hom teen indringers te beskerm nie, maar om sy bure uit te hou, om hom heeltyd te herinner aan die gesiglose en naamlose ongevoeligheid, selfs boosheid, van sy medemens. Tye het verander. Bure was beslis nie meer soos in sy geliefde ouma se tyd nie. Om na die grys betonmuur in sy agterplaas te kyk, het sy hartklop outomaties tot galoppie versnel.

Die nuwe boompies was ’n skraal troos, letterlik en figuurlik, onvoltooide lyntekeninge van verlies, en in sy gedagtes het die verlore bome donker in die stormwind gewieg, spookbome. Hy kon die verlies eenvoudig nie verwerk nie, nee, hy wóú nie. Iets wat goed en suiwer en onskuldig in sy lewe was, was onherroeplik verbrysel. In sy gedagtes het hy twee rou boomstompe met rooi jaarringe gesien, bevlek met taai boombloed. Lelike knoetse, kankers in sy siel.

Sy vrou het geweet hy broei onnatuurlik lank oor die bome. Dit raak nou afgesaag, het hy homself bitter gespot – al was hy versigtig om die onderwerp aan tafel en in die bed te vermy.

Om alles te vererger, het die Punch and Judy-buurman se nuwe woonstelgebou vinnig verrys. ’n Lelike faux Toskaanse baksteengebou met trappe na die eerste verdieping, ’n balkongang en rooi teëldak. Die inwoners, het hy gou besef, gaan gedurig afkyk op sy werf, deur sy vensters tot in sy eetkamer, kombuis en badkamer. Sy privaatheid was saam met die twee boomreuse vir altyd verlore, geskend, sy ablusie-afsondering wat hy daagliks gekoester het en as vanselfsprekend aanvaar het, binnegedring. Hy kon nie meer in die tuin gaan water afslaan sonder dat ’n snotneuskind hom aangaap nie. Hy en sy gesin was nou allemansbesit.

Hulle sou die huis moes verkoop as die boompies nie vinnig grootword om as versperring te dien nie – ’n wrewelige gedagte. Hy het sy naels begin knibbel, sagte velletjies afgeskeur tot die bloed drup. Sy nekspiere wou nie ontspan nie, al knie sy vrou hom elke aand met haar sterk kneukels.

En dan was daar die lyke. Die bome s’n. Lang stompe waarvan die bas afgeskil is, soos die groen vel van kadawers wat tydens outopsie met studenteskalpels weggestroop word. Die doodsbleek, nakende stompe is in die buurman se tuin geplant, skynbaar as basis vir ’n boma met ’n grasdak waar daar vermoedelik gebraai en gekuier sou word. Of dalk ’n boomkasteeltjie vir snotneuse – dit sou die uiterste bespotting wees!

Die navorser kon net die boonste derdes van die twee stompe sien, ’n verfoeisel wat hom naar van woede gemaak het en hom altyd sou herinner aan die lewende bome in hul flikkerende groen praal. Hy was oortuig die buurman met die leepoog het die stompe gehou en moedswillig op so ’n opsigtelike plek geplant om hom te treiter. Hoekom anders? Die bliksem wou sy twee trofeë uitstal waar niemand dit kon fokken miskyk nie, en met elke braaisessie die sappige storie oorvertel van sy lastige ou buurman met die bloeiende hart vir bome, tree hugger, die ou poes.

Dit was niks minder as ’n oorlogverklaring nie. Goed, hy sou die uitdaging aanvaar. Hy sou verdomp nie hier verjaag word nie en hy sou die dood van die bome wreek, al neem dit jare, dekades. Iewers moet selfs ’n redelike, beskaafde man die streep trek. Sy wit jas uittrek.

Soos die kwekery se eienares belowe het, het die tipuana ’n besondere talent vir groei getoon. Hy het dit water gegee met die tuinslang, en Sfinks was ’n dorstige boom. Elke keer wat hy daarna kyk, kon hy sweer dis groter. Hy het dit gegoogle en opgewonde gelees dat Tipuana tipu, ook bekend as rooshout, ’n Suid-Amerikaanse koelteboom is wat tot 100 voet hoog en 60 voet wyd kan word, met klossies blare wat wissel in lengte van ’n halfduim tot drie duim. Die heldergeel blommetjies verskyn kortstondig een keer per jaar, laat November, vroeg Desember, en mors oorvloediglik. Dit laat ’n dik geel tapyt oor die grasperk en blombeddings en waai oral die huis in. Die vruggie het ’n beskeie saadjie aan die een kant. Verder is dit ’n bladwisselende boom wat laatwinter hope blare mors, ’n maand lank, asook groot helikopter-saadpakkies wat hoog en ver kan woer-woer. Als vooruitsigte waarvan die buurman salig onbewus was, tot die navorser se vreugde.

Tipuana het boonop ’n aggressiewe wortelstelsel wat sement en asfalt met gemak kan oplig en breek, het die navorser gefassineer verder gelees. Voorsorg moet liefs getref word waar dit naby geboue, heinings en swembaddens voorkom. Skade kan verhoed word deur ’n sloot van een meter diep langs die struktuur te grawe, dit op te vul met bourommel en die sloot dan met plastiekbekleding af te sper om die dik wortels te stuit. Die boomspesie is voedsel vir die spoeggogga of spittle bug (Ptyelus grossus), wat ’n spesifieke effek veroorsaak wat jou kan laat dink die boom huil. Maar huilboom is net ’n illusie. Dis allesbehalwe skoon boomtraantjies wat so op jou arms drup en in jou nek blerts. Grilleriger . . . dis die deurskynende slympies van insekte wat uitbroei. Goggakwyl.

Die boom, ook bekend as Pride of Bolivia, word eintlik as ’n indringerspesie beskou, ’n pes wat hope sade produseer en bestand is teen ekstreme weerstoestande van tot -4 °C, soutgrond en selfs droogtetoestande. Die boom suip water soos ’n hele trop beeste, groei blitsig en word net met groot moeite uitgewis. Saag hier ’n tak af en volgende jaar groei daar langsaan ’n sterker tak.

Alles inligting wat die navorser verwelkom het. Die boom was ’n soort bestiering, ’n wonderbaarlike regstelling. Die kwekeryvrou het hom gewaarsku die boom vat oor, maar hy was nie besorg daaroor nie. Hy was vaagweg in sy noppies, ’n plan wou-wou posvat. Dit kon maar groei en suip en mors en oorvat, solank dit ook by die buurman mors en oorvat.

In die eerste jaar van sy vyfjaarplan het hy die agterplaas vermy. In sy vrye tyd, saans en oor naweke, het hy sy hope notas en knipsels in ’n swaar liasseerkabinet met drie laaie begin sorteer. Hy het e-posse en gemorspos uitgedruk en saamgebondel. Sy vrou het aangebied om te help, maar hy wou dit nie toelaat nie. Dit was sy domein, ’n Herkules-taak, hy moes dit alleen aanpak. Sy het hom bly aanmoedig in sy stowwerige ordeningsproses, dikwels ingeloer en whisky en happies aangedra. Dis beter as om tot satwordens te tob oor die bome, het sy gereken.

Hy het nooit die omvang van sy selfopgelegde taak besef nie. Soveel bokse vol papiertjies wat op die mat in sy studeerkamer uitpeul en dit oorstroom, byna soos dekades se opgegaarde belastingstrokies. ’n Warboel vergeelde beriggies, foto’s, uitgeskeurde artikels, pamflette, los tydskrifblaaie en notaboeke vol aantekeninge oor alles en nog wat. Só lyk die mikrobiologie van ons bestaan werklik, het hy gedink: oneindige beuselagtighede, rompslomp, rye syfers, grafieke, salarisstrokies.

Met die sorteer het hy afgekom op die eienaardigste goed. Esoteriese waarnemings van vreemde vlieënde voorwerpe oor die voorstede, die voorkoms van orkane en aardbewings in Afrika, die onsigbare plekke waar klein voëltjies en vlermuise sterf, olifantbegraafplase, die gewoontes van erdwurms, die wette van meerkatkolonies, die gevolgtrekkings oor honde wat hul base se liggaamstaal dophou vir leidrade om dan daaruit akkuraat te voorspel wat hul base volgende gaan doen.

Laatnag het sy gedagtes gedwaal terwyl hy deur fassinerende brokkies sif, asof hy brokstukke van homself ontdek en eien. Menings, feite, statistiek, onverklaarbaarhede en uitsonderings-op-die-reël waarmee hy hom kortstondig vereenselwig het. Was hy dan só divers? ’n Bondel onsamehangendhede? Is dit ’n aanduiding dat hy eksentriek is, selfs mal? Hoe kan hy tegelyk mal en rasioneel wees, ’n opgaarder en ’n navorser, ’n skynbaar redelike man? Is teenstrydigheid dan al wat oorbly op die afdraande? Hoe kan hy gelowig wees maar ook ’n wetenskaplike verwysingsraamwerk vir homself bou met honderde, duisende observasies van die reële?

Hy’t homself betrap dat hy geluidloos sit en tjank, daar op die mat, gestrand in ’n plas donkerte. Huil? Hy wat nooit ’n traan stort nie (behalwe vir bome), eerder woede en Calvinistiese skuldgevoelens die oorhand gee. Dis tog eerder snaaks as treurig: soveel teenstrydighede, soveel absurde en lagwekkende episodes!

Die ontwrigtende vrae het bly kabbel, in strome en watervalle, snelstrome van onbeantwoorde vrae, esoteriese vraagstukke wat vir ’n oomblik belangrik gevoel het, selfs essensieel, maar hy kon nie by een langer as ’n paar sekondes talm om dit te bepeins nie, omdat die volgende vrae al weer om die knoetse van sy bewussyn gestroom het, ’n kaskade van vraagtekens. Alles, álles onder die son het vrae aangewakker. Wat is die nut van soveel vrae? Is alle vrae uiteindelik één vraag? Waar pas hy met sy huis en vrou en dogter en groot drome en klein rituele in? Is alles ewe belangrik? Is niks belangrik nie?

Sy vrou het hom soms só gekry, leë whiskyglas in die hand, starend met betraande oë na die papierbesaaide studeerkamermat, hopies knipsels vergete, verdwaal in die labirint wat hy vir homself gebou het met onbeantwoordbare vrae. Hý was die doolhof. Dan het sy hom sagkens aan die hand gevat, hom teruggebring uit niemandsland, oor sy dun hare gevee, sy skouers met kragtige kneukels geknie.

Sy vrou was die laaste een wat die navorser se vrae kon beantwoord. Sy was vir hom eweneens ’n enigma, iemand met haar eie onbeantwoordbare vrae. Agter haar steeds mooi gesig was die jong meisie wat hy lank, lank gelede na ’n kunsfliek geneem het . . . The Unbearable Lightness of Being. Die eksplisiete sekstonele daarin het haar geskok. Naaktheid, geweld, ’n skrywer se sinnelose verset teen ’n onderdrukkende bestel.

Die buurman wat die bome laat afsaag het, was ’n simbool van iets. ’n Man sonder vrae, sonder scruples. Iemand wat nie homself of sy omgewing ondersoek nie, wat nooit sy eie handelinge bevraagteken nie. Hoe was dit moontlik dat die navorser so baie, oneindig baie vrae had, terwyl die buurman inherent ’n ondenkende wese was, ’n bodemlose put wat energie insluk? Was dit die teken van wye morele verval: die afwesigheid van mense wat vrae stel?

Die buurman het by die navorser gespook. Hy het in sy drome by die buurman gaan spook. ’n Wraakgees wat oor die grys muur klouter met gif in sy naels.

Boomkastele

Подняться наверх