Читать книгу Boomkastele - Schalk Schoombie - Страница 8

3

Оглавление

Sirkelman maak rektor, stadsbase boos

Ina Moerdyk

Versiering, of ’n balk in die oog?

Praat met die studente en rektor van die Johannesburgse stadsuniversiteit, en jy kry uiteenlopende menings oor die Sirkelman wat die afgelope paar weke oral in die middestad en ook in sekere voorstede teen mure en geboue opduik.

“Dis niks anders as ’n vorm van aftakeling en vandalisme nie, om stadsgeboue met spuitverf te bevlek,” stel dr. Muni Voosa dit onomwonde. Hy waarsku dat sulke gedrag nie van die instelling se studente geduld sal word nie.

“Al neig dit na ’n soort Middeleeuse kunsvorm – herkenbaar Eurosentries – eerder as die meer bekende uitdrukkings van graffiti, is die doel beslis om te ontwrig en op te sweep. Dít sonder die nodige toestemming of magtiging van stadsvaders, vakbonde en selfs studentebeheerliggame.

“As dit ’n student is soos ons vermoed, heel waarskynlik in ’n kunsrigting, sal hy of sy wel gevang word en dan sal die swaarste dissiplinêre strafmaatreëls opgelê word. Skorsing is nie uitgesluit nie,” het Voosa gister tydens ’n perskonferensie gewaarsku.

Studente van alle dissiplines meen egter die straatkuns is cool.

“Waaroor die bohaai?” vra Lindi Mkiwe, ’n geologiestudent wat saam met ’n vriendin elke nuwe sighting van die Sirkelman gaan opsoek. “Meer, asseblief!

“Ons voorouers het grottekeninge gemaak om te wys hulle was daar. Dit was ’n manier om hulle turf te merk en die begin van omgewingskuns. Die Sirkelman wys ons ons plek in die Nuwe Suid-Afrika. Wit, swart, blou, rooi, ons is almal besig met ons eie balanseertoertjie.”

“Die visuele ontwerp is awesome, dis beter as baie advertensies in die media,” meen Stanley Wallis, ’n fotografiestudent wat as sy finalejaarprojek al die plekke dokumenteer waar die Sirkelman verskyn, voor hy deur skoonmakers verwyder word.

Wallis beplan ’n fotografiese uitstalling later vanjaar om die skim se graffiti te vier, met die voorlopige titel Sirkels in die siel.

Sirkelman, soos die ontwykende kunstenaar in die media bekend staan, werk onder die dekmantel van die nag, en dis veral grafiese kunstenaars soos Joe Haddock Jones wat glo dis bloot “donkerwerk as skadelose, estetiese konkelwerk”.

“Moenie te veel daarin probeer lees nie. Mooi miskien, maar pure oppervlak, lekkergoed vir die oog. Dit flous die kyker met ’n suggestie van betekenis. Blote misleiding. Dis tog maar wat die meeste graffiti is, red herrings, ja, stoute rooi harinkies wat die aandag weglei van die ware misdade van korrupsie en wanbesteding, eerder as om juis die aandag daarop te vestig.”

Haddock Jones meen dit kan selfs “suiwer kommersieel” wees, deel van ’n reklamemaatskappy se inisiatief om een of ander banale produk bekend te stel. “Soos oumanspilletjies.”

Die Sirkelman se kunswerke (altyd rooi op blou) word gespuitskilder in verskillende groottes teen onbewaakte mure in die voorstede en middestad, selfs teen polisiekantore, op stasiemure, bouvalle en pakhuise. Ook hoog teen wolkekrabbers waar dit met groot moeite en onkoste afgeskuur moet word (buffing). Hy gebruik vermoedelik ligte, sterk, opvoubare stensils om sy kunswerke vinnig en skerp aan te bring.

“Hy moet ’n akrobaat of klouterdief wees om dit so hoog teen geboue te waag en dan boonop sy lyf Leonardo da Vinci te hou! Ek meen, halló, wie kan hom dit nadoen?” meen kransklimmer Gerrit Viljoen, wat glad nie van plan is om die spuitskilder se toertjies na te boots nie. “Vrek, nee, dis net te blerrie gevaarlik, geboue is glad.”

Kaptein Floriswa Nguni, woordvoerder van die middestadpolisie, is optimisties dat die “ontwrigting” binnekort tot ’n einde sal kom.

“Ons het sekere leidrade wat opgevolg word, ons het ’n goeie idee van die skuldige, en ja, ’n deurbraak is net ’n kwessie van tyd,” belowe sy.

Watter klagte kan teen die oortreder ingebring word?

“Vandalisme, openbare onsedelikheid. Die man in die sirkel is kaal, en daar is baie mense en kulture in hierdie land wat aanstoot neem om sulke snaakse goed te aanskou. Dis blatant. En dis baie, baie lelik.”

Boomkastele

Подняться наверх