Читать книгу Boomkastele - Schalk Schoombie - Страница 12

7

Оглавление

Dit het begin met ’n wit moerbeiboom en ’n witstinkhoutboom. Hartvormige blaar en blinkgroen dunblaar. Morus alba en Celtis africana. Twee reuse wat drie meter uitmekaar geplant is en met verloop van dekades inmekaar gewroet het. Takke verstrengel soos minnaars wat intiem mekaar se leefruimte binnedring. Liefkosend, betastend.

Al het die moerbeiboom in die agterste bure se tuin gestaan, het die stam digby die betonheining geleun, met takke wat wyd uitsprei oor die grys muur. Dwarsdeur die somer het dit welkome koelte en hope wit moerbeie oor sowat ’n derde van die navorser se agterplaas gestrooi.

Die witstinkhout was ’n gedeelde boom – as ’t ware ’n grensgeval – en geplant presies op die grenslyn tussen die twee erwe. Die heining is só opgerig dat dit ’n soort beskermende hokkie om die boom vorm aan die buurman se kant, met die mure wat vierkantig in die navorser se tuin inhap.

Beide bome was streng gesproke die buurman s’n, al het die navorser ook die voordele daarvan geniet: die koelte, die vrugte, die ruising van blare soos ’n groen oseaan.

Mettertyd het hy die bome as sy eie beskou. Hy het ’n wit plastiekemmertjie gekoop en moerbeie gepluk en opgetel wat sy vrou dan met suiker en ’n knippie vanielje in ’n swaarboompot laat prut het tot ’n klewerige, soet, pienkwit konfyt wat hy soggens spaarsaam op sy roosterbrood gesmeer het. Die vars moerbeie was nie juis soet nie, moes hy toegee, ’n seldsame soort amper soet, amper wrang bessiesmaak wat hy met niks anders kon vergelyk nie.

Hy het altyd uitgesien na moerbeityd, wanneer die blare dig en ondeurdringbaar oor sy agterplaas wieg en ruis. Daar was twee takke wat hy net-net kon bykom as hy op sy tone staan en dit aftrek om die vruggies af te stroop in die plastiekemmertjie. Onder sy tuinskoene het daar altyd ’n paar groen moerbeie geknars, seker deur haelkorrels afgeslaan tydens ’n Hoëveldstorm. Toe sy dogter nog ’n piekie was, het hy haar op sy skouers getel om te help met die plukwerk. “Soontoe, daarso, daai vet enetjie!” Sy’t gemik en gepluk, louwarm boudjies skuiwend op sy blaaie.

Een van die hoofredes wat hom en sy vrou jare gelede oortuig het om die huis te koop, was juis hierdie hemelse bome, wit moerbei en witstinkhout. Al was dit nie op hulle eiendom nie, het hy homself sien aftree hier onder die swaar takke van die vriendelike bome. Hy kon voor sy geestesoog die wortels van die bome diep ondergronds inmekaar sien strengel nes die takke bokant sy kop.

Met sulke bome in die agtertuin het jy nie vriende nodig nie, het hy geredeneer. Hulle beskut teen wind, hulle staan bankvas, hulle bied kos en skuiling vir die voëls van die hemel. Hulle het die hele buurt leefbaar gemaak. In elke seisoen het hy die takke in sy bewussyn voel roer. Strak in die winter, oordadig vol blare en bessies in die somer. Sy dogter se maatjies het moerbeiblare vir hulle sywurms kom bedel en hande vol gepluk sonder om ’n gaping in die blaremassa te maak.

Hy het geraai die bome is so dertig, veertig jaar oud, dalk selfs ouer, maar in sy drome was hulle baie ouer, antiek, onsterflik en mooi. Lewende fossiele wat jou daagliks herinner aan die onstuitbare natuur, oergode in die hart van die voorstad. Wanneer hy ná werk tuis gekom het van die laboratorium af, natgesweet en gestres, dankbaar vir ontsnapping van verkeersknope en irriterende nuusbulletins en radiobekgevegte, met sy kop wat blaas soos ’n oorverhitte enjin, het hy vir ’n paar minute onder die witstinkhout kom staan en stadig afgerat. Diep asemgehaal. Opgekyk. Heilsaam, heerlik.

Die bome was vir hom ’n simbool van iets groters, iets wat hy nie kon begryp nie, iets net buite bereik van sy verstarde intellek.

Hy het nooit geweet hoe sy buurman agter die lelike grys muur lyk nie. Die betonskeiding was te hoog om ’n glimp van die huis en sy mense te kry, al kon hy ’n blou staandak sien.

Van die kakofonie van ’n braai op ’n Saterdagaand kon hy aflei dis ’n man en vrou, dalk in hul vroeë dertigs, kinderloos, wat hul grootbek-werkspelle en huisvriende oornooi. Die vroue het skel gelag, die mans het gevloek en gebraai en gedrink. Hulle het grappe vertel (gewoonlik rassisties) waarvan hy nooit die kwinkslag kon uitmaak nie. Wanneer dit rugby was, het die makietie tot laat aangehou, maar genadiglik nie ná twaalf nie. Die res van die week was dit stil aan die ander kant van die grys muur. Soms die gesuis van ’n bossievreter, die mor van ’n elektriese grassnyer. Gelukkig geen blaffende honde nie.

Hy wou niks van hulle weet nie, beter so. Miskien omdat hy bang was hulle is aggressief, kru en dom, ongeletterde barbare, ongekultiveerd, sonder dat hulle enige agterstand besef of selfinsig kon kweek.

Die begrip “goeie buurmanskap” het in sy gedagtes gehuiwer soos ’n onvoltooide vraag, ’n vlinder met brose vlerke. Die geykte beskuldiging dat mense deesdae nie meer hul bure ken nie, nie omgee nie, elk die benepe koning van sy eie kasteeltjie. Anders as toe hy op die platteland grootgeword het en dit vanselfsprekend was dat jou bure ook jou beste vriende was. Buurmanskap. Iets edels.

Jy kan nie jou familie of jou bure kies nie: aan sy linkerkant ’n jappie paartjie (onlangs getroud) wat voor sonop ry en ná sononder terugkeer, ongesiens in die donker deur geluidlose elektriese hekke en motorhuisdeure seil. Dis twee aantreklike jonges, ’n geoktrooieerde rekenmeester en ’n skakelbeampte vir ’n platemaatskappy, elk met ’n eie duur motor. Hulle was elke naweek weg, wie weet waarheen – konferensies, restaurante, spanbou, whiskyproeë, partytjies, modeskoue. Hul jappie pelle se koetse was groot en blink – die hele buurt het op die stoep kom sit om hulle te vergaap as daar partytjie gehou word. Die tweetjies sal nie lank hier bly nie, het die navorser besluit. Met die volgende goeie verhoging trek hulle ver weg na groener weivelde en dubbelverdiepingwonings met dik ringmure.

Aan sy regterkant: die elektriese ingenieur en sy muiserige dwergvroutjie en hul twee spruite, ’n vlasblonde poppie en ’n kaalvoetknapie wat met ’n rugbybal rondhol. Langs die jappies was ’n verwaarloosde middelklashuisie wat ’n swart sakeman op ’n veiling opgeraap het. Agtien maande lank is dit gerestoureer tot ’n obsene faux Marokkaanse villa, kompleet met swembad, Afrikabeelde onder spreiligte en twee massiewe palmbome wat spesiaal per vragmotor van KwaZulu-Natal af hierheen gekarwei is.

Die navorser se vrou het ’n onheilige vrees ontwikkel dat die swart “tenderpreneur” die dak van sy villa gaan natmaak deur ’n koei op die grasperk te slag. Sy familie van Soweto sou ’n sjebeen in die agterplaas begin en dit sou lei tot moetiemoorde en kinderverdwynings in die buurt. Die navorser het in die Sondagkoerante gelees van sulke voorvalle in die noordelike voorstede, waar bappies hul nuutgevonde rykdom en status met groteske en bloedige rituele vier. En nou het dit naby hulle ook gekom, was sy vrou se asemrige oortuiging, een huis van hulle af, byna bure. Die teenoorgestelde van apartheid: integrasie.

Maar van koei slag het niks gekom nie, en al is daar gereeld moetiemoorde in die provinsie, was daar genadiglik nog niks van dié verfoeilike aard in hul buurt nie. Die swart sakeman se opgeknapte huis het al die jare leeg bly staan, ’n netjies afgewerkte oker-en-amber spookhuis waar daar soms laatnag ’n liggie in ’n venster flikker. Daaroor kon hulle eindeloos bespiegel – dalk ’n opsigter of familielid of wie weet ’n misdadiger wat wegkruip vir die gereg?

Boomkastele

Подняться наверх