Читать книгу Boomkastele - Schalk Schoombie - Страница 19

14

Оглавление

Kruipende verkeer het sy voordele, weet Dawid. Vandat Johannesburg se paaie chronies herlei en verander word, deur vernouings, versperrings, padwerke waar bekende roetes omgedolwe word om plek te maak vir futuristiese busstasies op hoë middelmannetjies en die land se heel eerste moltrein in druppende ondergrondse tonnels, het hy die betekenis van wag leer ken. Die alfabet van kruie in eerste rat. Voet-innie-hoek se dae vir eers getel.

Die radio se nuus en advertensies en kletsprogramme kan hél irriterend raak, bladiebla, ’n dodelike aankarring en herhaling van gemeenplase en kakpraat. Almal het ’n vrot eiertjie te lê. Gelukkig het die motors met mense om hom ’n soort stokperdjie geword.

Almal kyk mekaar uit. Onderlangs of openlik. Soms ’n hoflike knik of ’n skaam groet, soms ’n glimlag of selfs ’n toegewing.

Dit help dat hy hoog en droog sit. Hier van sy uitkykpos in die Defender sien hy wat mense in die privaatheid van hul voertuie doen, watter soort gaskoeldrank of bier hulle tussen hul lieste vasknyp, wat alles binne vatafstand op passasiersitplekke lê, klere wat geskik word, gulpe wat oop is, toertjies met slimfone, neustoilet, mans wat skeer, grimeersessies ken omhoog in die truspieëltjie, kroontjies en kapsels waar haarwortels die regte kleur verraai, vingers wat op die stuurwiel trommel.

Dit gee hom ’n ander perspektief op verkeersknope, effens uit die hoogte; dit laat hom onaantasbaar voel. Hy’s ’n berede polisieman, geduldig, waardig, alsiende.

Die beste is die vroue. Hulle maak sy dag – ’n hele paar keer per dag.

Hy kan nie genoeg kry van vroulike bestuurders nie, veral dié wat alleen ry. ’n Oneindige verskeidenheid van vroulikheid, ’n nasie van vroue-in-karre, vroue-in-beheer, ’n modeparade van hare, oorbelle, grimering, ’n tentoonstelling van skrapsgeklede vlees: borste, dye, knieë, gladde bene.

’n Keur van cock-teasers.

Dankie, somer! Kaal arms, sweetvlekke in oksels. ’n Aanslag van kurwes wat sy verbeelding laat brand. Bekkenbene. Nie almal sy smaak nie, natuurlik (eintlik haal bra min daai kerf). Sagte plekkies, kameeltone. Hy verbeel hom watter is geskeer, gekam, gekleur, gepluis. Die aanbod is ryk en lekker, eksentriek, eksoties, lagwekkend, grof of afstootlik. Die volle spektrum: oud en jonk, van goed versorg en petite tot slordig, vet, vuil en fugly (skooltydse woord wat hy behou het: fuckin’ ugly).

Hy ken al byna outomaties ’n punt uit 10 aan elkeen van die gewaardeerde spesie toe – 1 vir die mins indrukwekkende en 10 vir Pure Brulplesier.

Hy sien kans as hulle kans sien. Hy sien kans vir almal, streng gesproke, solank hulle hom eer as die bron van lekkerkry.

Die oulike jakkalsie wat by die mediasentrum se uitgang wag om in die stroom te kom, is Dawid se soort. Definitief ’n 9 of ’n 10. Sodra hy beter kan sien, sal hy sy punt toeken.

Hy beduie galant: Kom gerus voor my in.

Sy glimlag, raak aan haar sonbril, stoot die rathefboom na eerste, swaai haar gatjie voor hom in. Nou kan hy niks van haar sien nie, net die dak wat sonlig in sy oë kaats.

Haar hazards flikker saaklik.

Hy grinnik. “My plesier, soetlief.”

’n Silwer Honda Jazz. Wat maak so ’n slick chick in dié oumenskarretjie? wonder hy. Sy sal beter pas in ’n Porsche.

Op 5FM gooi Beyoncé ’n lang noot wat klink of sy ’n orgasme nader, sy runnik en kreun daar op die fyndraai. Dit maak sy ore seer. Hy soek verder, deur plassies R&B, ’n sedige gesprek oor “verlore waardes”, tot in die vaarwater van ’n Strauss-wals. Dit laat hom dink aan sy ma se koel hande toe hy in graad vier waterpokkies gehad het (dit het gelukkig nie kalbassies geword nie).

Die regterbaan beweeg vinniger en hy druk sy neus in, gee vet tot langs die jakkalsie. Sy hou haar nekkie aspris styf, maak of sy hom nie merk nie, maar hy staar haar tot sy begin glimlag en terugkyk. Waarderend.

Ongetwyfeld ’n ronde 10.

Klein en viets gebou. Kan nie haar bene onder die ligte langbroek uitmaak nie.

Blerrie goeie spiertonus (swem? draf? fiets?) en gesonde, ronde bultjies wat onder die wit kantbloesie groei. Lang nek, vol gesiggie maar geen poplap nie, ekspressiewe mond, suggestie van ligroos lipstiffie, steil donkerbruin hare.

Sy nies, lag vir haarself, leun ’n raps vorentoe met ’n ligte fronsie (konsentrasie? spanning?) asof sy die motors voor haar wil aanpor.

Wens hy kon die oë agter die donker lense uitmaak.

Vyf minute lank skuif hy al verder weg van haar in sy baan. Hy beloer haar in sy kantspieëltjie. Sy peuter freneties met haar foon en dan lyk dit . . . ja, wragtag, sy neem ’n foto van sy bakkie se agterkant.

O ja, die plakker. Gaan dit haar afsit? Gaan sy die foto op haar blog sit?

As sy ’n koerantvrou is, kan dit selfs die dagpers haal. As sy weet wie hy regtig is . .

Sy haal in en hulle land weer langs mekaar. Nou rol sy haar passasiersvenster af.

“Warm genoeg vir jou?” roep hy, beide sy vensters oop.

“Ek verkies altyd vuil lug bo air con,” lag sy.

Die verkeer staan. Hulle kan minute lank hier in die hitte sit.

“Dan moet ek jou tog Sasolburg toe vat.”

“Woon jy daar?”

“Ry daar verby op pad plaas toe.”

“Aaa! Wat maak ’n plaasseun in die stad?”

Beweging vorentoe, hulle moet ry voor hy kan antwoord.

Vyf meter verder: “Gee my jou nommer, dan vertel ek jou.”

“Aikona!”

“Hou jy van my sticker?”

Sy strek ’n skewe mond. “Nie juis nie. Al is jy dalk tóg ’n bedreigde spesie.”

Die verkeer raak losser en sy raak haastig. “Sien jou! Ek moet waai.”

Sy rol haar venster op en laat hom agter met ’n sexy vingerwuifie.

“Nie so haastig nie, soetlief.” Hy druk agter haar in en volg haar vir twee blokke voor sy wys sy gaan links afdraai. Op ’n skielike ingewing sit hy sy flikkerlig aan en gooi ’n roekelose links by die verkeerslig.

Nie die eerste keer wat hy agter ’n wildvreemde vroumens aanry nie. Sy afspraak met die rekenmeester kan wag.

Hy kyk om hom, dink aan die druppende tonnels diep onder hom, waar manne met helms en oorpakke kabels lê en stoomhamers in klip druk. Hier seil die trein soos ’n silwer slang vinnig oor sy dubbelspoor.

Die seksuele gedagte laat hom ril. Sy linkerhand val van die stuurwiel op sy broek. Hy knie homself binne sekondes hard en voel die lewe daar skop soos ’n jong kalf.

Sou sy oop wees vir so iets?

Het sy fantasieë oor mans, soos hy oor vroue het?

Droom vroue oor seks? Nie noodwendig oor al die tierlantyne van romanse nie, nie die wyn-kerse-blomme-ensovoorts nie. Hy verstaan blerrie goed dis wat die meeste vroue blykbaar verkies, die sagkense benadering, soos sy ma hom dit oor en oor ingeprent het.

Vroue wil eers ’n bietjie gepamperlang word, met mooi woorde, mooi gebare, goeie maniere, hoflikheid, geskeerde wange. Sterk en stemmig moet ’n man wees, maar nie noodwendig stil en op sy bek geval nie. ’n Vrou is sag en wil sag behandel word, wil saggemaak word. Jy’s ’n boerseun, jy’s hard, het sy ma met ewe sagte nugterheid beklemtoon. Jy werk elke dag met beeste en skape en ploeë en stropers en bakkies. Jy kan nie ’n vrou rondpluk soos ’n koei se spene of ’n skaap wat gedip word nie. Dis barbaars, dit sit vroue af. Jy moet sterk wees, maar sagkens vat. Skoon hande, skoon naels (vuil gedagtes).

Aan die begin moes sy ook sy pa leer om sagter te wees as dit by sulke binnekamerdinge kom. Só en nie só nie, Pappie, stadig oor die klippe! Het hom blykbaar na haar hand geleer.

Die plaasmeisies in sy omgewing lyk en klink en praat almal soos sy ma: goed gemanierd, Christelik-ordentlik, almal stewig van lyf soos gebakte vleisrol en tog so soet-verleidelik. Baasbaksters. Boervroue wat almal sagkens behandel wil word, met woordjies en drukkies en soentjies, dalk ’n knypie aan die boud. Voorspel en sjokolade met ’n rooi strik.

En tog (lei hy af van die internet en vuil tydskrifte) is daar ander soorte vroue wat nes mans wilde goed wil aanvang, hardhandig behandel wil word. ’n Pak slae waardeer. Aan pale slinger en op mans se skote bons en wriemel.

Goedkoop, wulpse flerries wat nie bang is om vir ’n kamera te poseer in al hul oop, pienk glorie nie. Vroue wat enigiets sal doen as die prys reg is, of sommer omdat hulle wil en kan en omdat dit blykbaar goed betaal. Omdat hulle weet waar hul magsbasis lê.

Omdat hulle dieselfde taai, vieslike drome as hy koester.

Sy ereksie maak hom nou seer, skaaf teen sy broek. Hy moet dit eenkant toe afdruk of dit maak die stuurwiel se hantering moeilik.

Koerantopskrif: Boer se dwars piel laat hom verongeluk.

Voor hom trap die jakkalsie skielik rem en hy moet pasop of hy stootskraap haar.

Sy gaan stilhou. Sy gaan uitklim. Komaan, koekie!

En hier sit hy haar nou hoog op sy hings en inwag, styf gespan. In ’n stillerige straat met groot bome en hoë mure om fortwonings.

Sy lyk behoorlik die wetter in, die glimlag skoonveld.

“Hei! Volg jy my?” Hand-op-heup, dimpel-in-wang.

“Hoe lyk dit?”

“Is jy ’n pervert of ’n stalker of iets? Dink jy ek skrik vir . . .”

“Hokaai, kalmeer!”

“Ek’s laat vir ’n blerrie crime scene, en nou voel ék soos ’n crime scene!”

Hy wil uitklim, maar onthou van die stywe hefboom in sy broek. “Jy’s ’n misdaadverslaggewer.”

“Ja, en ek hoop nie jy raak die onderwerp van my verslaggewing nie,” snou sy. Bloos skielik bloedrooi.

“Hoor hier, ek wou net . . . jou naam kry. Jou nommer.”

“Vra jy elke vrou met wie jy oogkontak maak in die verkeer vir haar naam en nommer?”

“Nee, nie elke vrou nie.” Liegbek.

Sy kom steeds nader, selfversekerd ten spyte van die blos. Hy’s bang hy brand ’n gat deur die metaaldeur tussen hulle.

“Wel, ek’s nie ’n arme, hulpelose poppie nie.”

“Ek het nie gedink jy is nie. Regtig, ek dink jy’s . . . jy’s . . .”

Sy haal haar donkerbril af. Bruin oë met roesvlekke.

“Kranig. Danig kranig,” vind hy weer sy slag met ’n lui glimlag.

“Wat de hel beteken dit?”

“Dat jy selfs beter van naby af is. En ver van ’n pushover. Niggie, jy’s ’n knockout.”

Sy kyk eers anderpad, dan op haar horlosie. ’n Berekende ratwisseling.

“Het ek jou al iewers gesien?” vra sy liefies.

“As jy bedoel: volg ek jou al vandat jy voor my ingedraai het?”

“Jy’s daai boer op TV.”

“Skuldig, edelagbare.”

Sy knik stadig sonder om op te kyk (teleurgesteld?), wat hom kans gee om haar goed te bestudeer. Sy ruik na sweet, soet kougom en duur parfuum.

“Die skaam boer wat vrou soek, die een met sulke goeie maniere wat nie sy mind kan opmaak nie. Jy maak die vroue mal. Jy kry berge briefies wat ruik na parfuum . . .”

“Weer skuldig. Ek kan nie kies nie. En die keuse is nie so vrek groot soos jy dink nie.”

“En sal dit nie ’n sappige storie maak as dit moet uitlek jy molesteer ’n arme, hulpelose joernalis in ’n stil straat nie?”

“Jy, hulpeloos? Komaan! Ek kon dadelik sien jy’s ’n avonturier. Jy skiet van die heup af, nes ek.”

“Kyk, ek het nie tyd vir slimpraatjies nie, Dawid Uys. Ek dink jy het iets, ek sal dit nie die X-faktor noem nie, maar ’n vonk . . . as ’n verdomde boertjie so iets kan hê. Jy’t uitgestaan tussen daai klomp bos-idiote wat nie behoorlik kan praat nie. Nie dat ek na sulke snert kyk nie, ek het ’n voorskou bygewoon saam met ’n vriendin. Maar miskien is jy nie reg om iemand te kies nie, Dawid. Jy’s nog bietjie rou.”

“Baie vroue hou van rou. Die ongeslypte diamant en so aan.”

“Ek’s nie een van hulle nie.”

“Jy ken my naam, maar ek ken nie joune nie.”

“Lees môre se koerant. Die storie oor die pa wat sy twee kleuters as gyselaars aanhou. My naam sal daarby staan – as ek nog ’n werk het!”

En sy draai kortom en trippel terug na die Honda, klouter in en trek weg met ’n gekrap van ratte en rokende bande.

“Ek lees nie koerant nie, soetlief!” roep hy agterna. “Net Landbouweekblad.”

Maar hy weet klaar hy gaan van nou af.

Boomkastele

Подняться наверх