Читать книгу Boomkastele - Schalk Schoombie - Страница 5

Proloog

Оглавление

Uit die lug gesien: ’n buurt met baie bome in ’n dorp in die suide van Johannesburg. Dis wat jou opval, die bome. Kenmerkend van ’n ouer, meer gevestigde buurt.

Jy sien ’n netjiese kaart afgebaken met nederige erwe waarop eenvoudige, reghoekige huise rus, die meeste in die 1940’s en 1950’s gebou, met staandakke, sierstene, sonstoepe, komvensters, baksteenskoorstene, afsonderlike motorhuise, waskamers en bediendekamers. Nie te veel dubbelverdiepings nie. Onderverdeelde erwe, swembaddens in skakerings van blou, ’n dosyn boorgate, visdammetjies, buitestorte. Sommige huise is opgeknap, uitgebrei, versier met torinkies, dakvensters, sonpanele, weerhane, maar meestal is die oorspronklike blokvorm en staandak behou. Die meeste dakke is rooi en spog met televisieskottels, bewys van in-voeling-bly met die wyer wêreld.

Bome in tuine, bome in parke, bome op sypaadjies.

’n Bielie van ’n akkerboom staan op ’n straathoek teen ’n steilte byna ín ’n besige straat. Om sy dik stam loop, jaag, pendel en raas die lewe lustig voort. Bewonderenswaardig!

Van die groter huise is in besighede omskep, met parkeerterreine waar eens tuine was. Hoekhuise het hier en daar plek gemaak vir woonstelblokke met drie tot vier verdiepings, selde meer. Aan wasgoeddrade op draaiende stellasies wapper lappies kleur.

Daar: ’n ou trekkerband gevul met sand, ’n lank vergete speelplek vir kleuters.

Styg jy nog hoër, sien jy meer geografiese kenmerke: ’n treinspoor, kerke, ’n straat of drie met winkels, die grense van die woongebied, repies veld wat nie mooi by die dorpsbeplanners se netjiese kaartpatroon wou inpas nie. ’n Klein vliegveld. ’n Renbaan vir perde. Mynhope wat geleidelik afplat en verdwyn namate elke kriesel goud daaruit herwin word, soos sandkastele wat deur die gety verspoel word. ’n Aftree-oord.

Die onderliggende heuwelagtige aard van die landskap onthul die skouer van ’n groot rots, ’n afgrond. Daar steek ’n radiotoring in die lug, skaars blokke weg van ’n selfoontoring gekamoefleer soos ’n bloekomboom. Die watertoring op ’n ry klipkoppies wat al baie keer deur weerlig getref is, die sypaadjie ’n blok verder waar ’n tuinier doodgeslaan is. ’n Uitkykpos waar ’n plaaslike profeet sononder sy sjofar blaas en die seën afbid oor sy buurt. Daar seil ’n spruit met wilgerbome op sy oewers onder straatbrûe en deur ’n park langs ’n snelweg, ’n waterweg wat in die reëntyd sy walle oorstroom. Kyk hoe is die paaie deur die boggels van die Hoëveld gedwing om plek-plek skeef of dwars te loop, haarnaalddraaie en esse te gooi of stomp in ’n cul-de-sac te eindig.

Uit die lug gesien: ’n rustige buurt. Nie welgesteld nie, ook nie ’n krotbuurt nie. Nie poskaartmooi nie, nie ’n industriële woestyn nie. ’n Ouerige deel van die dorp wat eintlik soebat om anoniem te bly. Die soort plek waar almal brand om pad te gee, onrustige tieners sowel as afgetredenes.

Van al die honderde, duisende klein dramatjies – huishoudelike intriges, vetes, inbrake en selfmoorde, ’n gesinsmoord of twee, ’n magdom mediese krisisse, sterftes, geboortes, spoelende toilette, kragonderbrekings, al die eensame lewens, versteekte misdade, grafte van troeteldiere, patetiese geheimpies, gloeiende rekenaarskerms, gemorspos en elektroniese pornografie, verkragting, al die rondrol en rits agter toe deure, gedagtestrome en tandekners van families, oumense se mymerings, opgaarders, vullisdromme, rondloperhonde, al die gekruiste lyne en gemeenskaplike projekte, gewoeker en stokperdjies, verstopte pype, kerkdienste, bidure, boekklubs, rugbywedstryde, ringtennis, aquarobics, satanistiese rituele, vriendskappe, afloerdery, gefluisterde haat en naamlose hartseer, onwettige rommelstortings, dronkmanstwiste, saadstortings, kroeggevegte, aanrandings, buurtwagpatrollies, skote in die donker én helder oordag, die brul van motorfietse en getoet van karre by hekke, slaapwandelroetes, wedersydse afkeer tussen bure wat gesigloos agter heinings bly – van al hierdie barensweë en alledaagse nietighede is daar uit die lug absoluut niks sigbaar of hoorbaar nie, dis eenvoudig te ver weg en buite bereik.

’n Verligting!

Want dis die aard van ’n kaart: om afstand te gee. ’n Abstrakte prentjie van ’n samelewing wat saam leef, saam sterf, saam én apart.

Die bome omsoom, verfraai en definieer die landskap op die kaart doer onder, dit gee amper iets sag en vriendelik daaraan. Dit laat jou glimlag, want dit vang jou oog en dis mooi.

Die bome verskaf die nodige grein aan die reguit lyne en blokke, dit verbreek die simmetrie van eenderse lewens, vul die groter spasies in.

’n Kleuterprojek van groen wattewolkies geplak met slymerige gom.

Ja, die bome maak alles mooi.

Boomkastele

Подняться наверх