Читать книгу Karnaval en lent - T.T. Cloete - Страница 10

die drie stadia

Оглавление

EEN

i

andoelie kom eerste

andouille nothing on life’s menu is more popular

honger was ons eerste versoeking

eet was ons eerste sonde

ons eerste opstand teen die Heilige

uiteindelik sal ons sterf met vet om ons lippe

en vleis tussen ons tande as die armaggeddon kom . . .

ii

eskatologie a

jy glo met jou maag

onbegryplik hang die begryp van die heilige en ewige

af van vleis en brood . . .

ek staan verstom dat grond

vol minerale vol plante en diere

geheimsinnig in my omgelyf word in vleis

in my gebeente en spiere tot in my murg

dan ná dié omlywing

in ’n raptus mentis

blom my maaltye van kool en ’n stuk varkvleis

of van ’n vis bo alle begrip úit

in ’n tweede geheimsinnige onvleeslike omwentel

in eteriese ekstatiese musiek en in

skilderye en gedigte

uiteindelik in geloof in God

en in ’n geroep na Hom op ons knieë

selfs ons gebede is uit brood

en uit varkvleis gebak

hoe onrein en aards is die grondstof

van my sublieme bepeinsing

maar gereinig en geheilig

God alleen weet hoe

deur ’n lewenslange wonderwerk styg ek

elke moment van my bestaan uit bo die klei

– al val ek van tyd tot tyd daarin terug –

waaruit ek abiogeneties

God alleen weet hoe

gemaak is

in agape en sublieme Liefde

eskatologie b

Mozart swerf tussen hertoë se ryk belaaide tafels

wat kreun en herberge wat vuil en viesig is

met kos wat ontbind en walg

Mozart dink en dig en musiseer uit

die klankkas van sy so skerpsinnig beplande

buik

hoe indrukwekkend is daardie krop ontwerp

met sy ensiem pepsien sy meesterlike skeil

sy voue en kurwes sure en bakterieë

die liggaam met niere en longe

die lewer maak Mein Kampf maar ook

’n Heilige Komedie en ’n Requiem K626

iii

skatologie

nadat die goed bedeeldes alles uit die plant en dier

verteer

alles wat suiwer is

word in die sat Maldives een hele eiland

vir die lyf se afstootlike uitskot

met sy giftige smeul afgesonder

menslike afval waarmee die opstandiges

selfs skrywers

vandag hulle monde dik maak

in ons land

die skatool lê in ons voedsel reeds gehaspel

met wat goed en geurig is en smaaklik

ek walg daarvan

anorexia nervosa is ’n opstand daarteen

bulimia nervosa die slagoffer daarvan

die koringkorrels lê ná eeue nog

in die Ysman van Ötzi se ingewande

en in Ramses s’n

ek braak daarvan

Twee

“’n Nuwe studie toon die moderne mens het sy ontwikkeling aan vuur en vleis

te danke . . . En dis heel waarskynlik waarom ons menslike voorouers se

breine omstreeks 2 miljoen [jaar] gelede drasties begin vergroot het . . .

‘Proteïen is breinkos,’ sê Thackeray.” – “Eerste braai steek die breinvuur aan”

(opskrif in Beeld, 2012-09-06, n.a.v. ’n artikel van F. Thackeray in Nature)

die gebraaide ivoorkissie

die palatum voed die gekoekte grys murg

wat stil en afgeslote

dánksy die braai

ná die braai

ontwaak in sy bros ivoorkoepel

dié mooi grys groeisel wat alles wil oopwring

oopwrik oopwurg ooppeil

oopvlam met sy weerlig

met sy boorwortels oopbeur soos geboortes

begryp homself nie en moet nederig swig

voor die insig dat sy self dit nie self gemaak het nie

dit huisves alles

– ook wat verwronge en veragtelik is –

paulinies en sag

Drie

die mandator die wilde tirannieke derde oksel

“How is your sex life now?”

“Hush, man, most gladly indeed I am rid of it all, as though I had

escaped from a mad and savage master.” – Sofokles

nóg later word die derde

vlesige krag in die derde oksel wakker

beenloos maar met murg se sagte geweld

eiers en semen dring oorweldigend

die ivoorkissie binne

bedwelm die grys stof maak dit magteloos

verlam dit en skakel dit uit

maak al meer semen al meer eierstokke

al meer binnegoed wat snak na braai en bry

al meer dors en honger

en ongemerkte grafte

wat alle name en selfstandigheid uitwis . . .

in die verfynde versteekte kannibalisme eet

die een mens die brood uit sy broer

en suster se mond

die libido die hiperpotente mandator

maak bedelaars wat broodkorsies soek

in vulliskonkas

ribbes en skouerknoppe wat uitsteek

soos gebalde vuiste wat beskuldig

die skootwalm van mense hyg kop toe

Karnaval en lent

Подняться наверх