Читать книгу Karnaval en lent - T.T. Cloete - Страница 12

Оглавление

die uiteinde

death is the price we pay for having sex – Robert Winston

die onsigbare krag in sy onhoorbare afsondering

in ons porseleindakkie

goddelik getroetel

word die dupe van sy eie doepa wat hy brou

in opdrag van die genitalieë

’n selfmoord

deur die geweld van semen en ovum

testosteroon dopamien

estrogeen serotonien

’n paar sekondes flikker

sterre in ons oë dan stort ons oor in

la petite mort

terug aarde toe in ’n akute oksitosien

die chemie van seks

is vrylik en kosteloos beskikbaar gestel

ook aan die armstes van die armes

en maak van die armes ’n plaag

lastig knaag

die onromantiese ánder boelie

ook kranig bedenk

die leë gepynigde ingewande

God wou ons deur ons verhemelte

die smak van ons lippe vas aan sy aarde heg

die geniale semenvissie en die eier

waarmee Hy ons vertroulik toegerus het

vat ons sewende hemel toe

laat val ons op afvalhope in vulliskonkas

vol korsies brood

ons voer ’n skelet-en-vleesbestaan

agter die ploeg en planter aan

en in die tien vuilste smeulende stede wat ons ná

die migrasie uit Afrika dwarsoor die aarde gestig het

jy sal tot met uiteindelik ’n vermoeide penis

en uitgeholde eierstok jou brood verdien

jy sal werk en aanhoudend werk

tot jy moeg is werk in die sweet en aas

van jou genitalieë en anus

jy sal jou oor ’n mik

werk as jy van brood

van manna en kwartels

en die konfyt van die libido alleen lewe

die groot dood

die einde van ’n sinlose wrede bestaan

sal opdaag

op ’n volle maag

Karnaval en lent

Подняться наверх