Читать книгу Karnaval en lent - T.T. Cloete - Страница 14

dronk gedraai

Оглавление

dit maak my weerloos

dit vang my onkant

hoe het die Idiopaat

tussen dit wat heilig en suiwer is beland

i diere

die giro draai my dronk

om sy lewe te vier pronk

die springbok in die gras

sy speelveld wei

hy morsmors word sy kittels uitgeskei

op sy kos hy vreet

hom vas in die jagluiperd die sierlike

sagmoedige atleet se wrede

tande en maag

hoeveel tande

van meer as een baaskok

is in hierdie onverteerbare gehaspel

gebrou fraai spel atletiese agteropskop

sappige gras sierlike

jagter en jag

die prag

van die mooi dierlike

giro wat eindig in ’n doodsbleek

drollige walglike afrondsel

ii ek

ek eet en drink die aarde

ek lyf haar daardeur in

neem haar so in besit

ek bevestig my afhanklikheid van haar

ek maak jolyt van my ondergang

deur die smaaklike Boerekosresepte

ons groot trotse kultuurbesit

ons Boerewors ons biltong

pannekoek koeksisters

en afval

ek reinig my

en gee die giftige oorskot

– voor sy my heelhuids terugvat –

aan die aarde terug

iii die gemeenskap

die tafels van die ondernemende jakkalse

die slim smouse wat die kloot besit

en sorg vir handelsbalanse

van die global village van la dolce vita

sak holrug onder hulle vrag

ons vleis wat uit Texas kom

is gesout met die sout van Israel

ons piesangs kom uit Honduras

ons voer druiwe in uit Egipte

olywe uit Italië

en appelsap uit Singapoer

ons drink tee uit Sri Lanka

met suiker van Suid-Amerika

en sojamelk uit die Kameroen

ons rook ná ete sigare uit Holland en Kuba

alles in een multinasionale broederlike maaltyd

iv die verbruikersgemeenskap

die verbruikersgemeenskap word gevoed

met gemanipuleerde kosse

behendige artse stop ons voos gevrete tande

met goud deur ingenieurs uitgetonnel

uit die aarde vleisjagters vlek die see

vol bloed van geslagte walvisse en vir die pot

word die sierlike marlyne roekeloos opgevreet

vir opgekikkerde ereksies en kilometers kolon

saag ons met die wildbewaarders

ryk boere en landdroste se samewerking renosterhorings

af om die keratien in ons eie naels of hare te kou

is goedkoper maar minder avontuurlik en verbeeldingryk

ons eet haaivinne in restourante

met dieselfde toerusting wat van party

van ons filosowe en interniste maak

ontdekkingsreisigers van ruimtestasies

ons skryf boeke oor ons rekords

vir toegewyde leesgieriges wat self

sat en passief is

voetbalkapteine popsterre en ikone

skryf outobiografieë vir en met hulle tande

ondergrondse are en kanale

voer ons goudgeel urine

humus en badwater

ver weg na opgaartenks

ons bemes daarmee ons supermarktuine

waaruit ons eet in ’n kringloop

superswaar vragmotors laai kos af

op ons tafels kruis en dwars oor die land

ons eet van tafels af wat bemes is

met die herwinning van ons eie afval en uitskot

vasgevang in die siklus wat deur ons papille

gedryf word

die onstuitbare kringloop van tafel >

toilet > tafel > toilet > seks > tafel >

die breiniakke ignoreer die indertydse

waarskuwing van Malthus teen die penis

en eierstok want Malthus was mal

ons die ondernemende ontwikkelaars konsumeer

die aarde met ons tande en tonge

die ongetelde onbenoemde kinders wat roekeloos

gebore is op die sekonde toe ons die rekordkerf

van 7 miljard bereik in Gauteng in Beijing en Kalkutta

is besig om aan die dor moedersbors van ontbering te sterf

Karnaval en lent

Подняться наверх