Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 12

9

Оглавление

Jak steek die breë geplaveide stoep oor sonder om enigiets te sien of te hoor. Hy is in ’n dwaal terwyl hy oor die grasperk na sy kar toe loop. Sy gedagtes maal oor die pas afgelope gesprek, skeur dit uitmekaar soos ’n trop wildehonde wat ’n karkas toetakel.

Hy loop omtrent in Theresa Steyner vas voordat hy haar opmerk, en eensklaps dink hy glad nie meer aan die pos as hoofbestuurder nie.

Theresa het ander klere aangetrek, haar gesig gegrimeer, en die boksterte is versteek onder ’n lemmetjiegroen syserp – dit alles in die halfuur sedert hy haar laas gesien het. Sy staan by ’n blombedding met ’n mandjie aan een arm gehaak, helder en vrolik soos ’n heuningvoëltjie.

Jak is geamuseer en gevlei, ydel genoeg om te besef die verandering was om sy onthalwe, en genoeg van ’n kenner om die verbetering te waardeer.

“Hallo.”

Sy kyk op, en kry dit reg om tegelyk verbaas en ongekunsteld te lyk. Haar oë is regtig enorm, en die grimering is aangewend om hulle te beklemtoon.

“Jy’s ’n besige miertjie.” Jak laat gly sy kennersoog oor die geblomde broekpak wat sy dra, en sien die blos op haar wange vorm toe sy sy oë op haar voel.

“Was die gesprek suksesvol?”

“Baie.”

“Is jy ’n prokureur?”

“Nee, ek werk vir jou oupa.”

“Op watter terrein?”

“Ek delf goud.”

“Watter myn?”

“Sonderkloof.”

“Wat doen jy daar?”

“Wel, as jou man woord hou, dan’s ek die nuwe hoofbestuurder.”

“Jy’s te jonk,” sê sy.

“Dis wat ek ook gedink het.”

“Oupaps sal wel iets hieroor te sê hê.”

“Oupaps?” vra hy.

“My oupa.”

Jak lag voordat hy hom kan inhou.

“Wat’s miskien so snaaks?”

“Dat GSR se voorsitter ‘Oupaps’ genoem word.”

“Dis net ek wat hom so noem.”

“Daarvan is ek seker.” Hy lag weer. “ ’n Meisie soos jy kan seker allerhande stoutighede aanvang.”

Die seksuele moontlikhede van sy opmerking tref hulle albei en hulle raak stil. Theresa kyk af terwyl sy ’n blomsteel knip.

“Ek het dit nie só bedoel nie,” maak Jak verskoning.

“Nie hoe nie, meneer Stapelberg?” Sy kyk openlik na hom en vra die vraag met onnutsige onskuld, waarop hulle albei lag.

Die ongemak wyk dadelik.

Sy loop saam met hom kar toe en laat dit doodnatuurlik voorkom, en toe hy agter die stuur inklim, merk sy op: “Ek en Manfred kom volgende week Sonderkloof toe. Manfred gaan toekennings vir lang diens en dapperheid aan party van jou mense toeken.” Sy het reeds die uitnodiging om saam met Manfred te gaan van die hand gewys, en sal nou moet sorg dat hy haar weer nooi. “Ek sal jou seker dan sien.”

“Ek sien uit daarna,” sê Jak en laat skiet die koppelaar.

Met die wegry kyk hy in sy truspieëltjie. Sy is ’n merkwaardig aantreklike en aanloklike vrou. As ’n man nie oppas nie, kan jy in daardie oë verdrink.

Doktor Manfred Steyner het vir hom ’n helse probleem op die hals gehaal, besluit hy. Onse Manfred is seker so besig om sy toerusting in te seep en te skrop, dat hy nooit daarby uitkom om dit te gebruik nie.

Goudmyn

Подняться наверх