Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 14

11

Оглавление

Hy is nou oud, 78 lang, moeilike jare oud. Sy hare en wenkbroue is spierwit, sy vel is vol voue en plooie, vol merke en vlekke, en hang in sakkies onder sy ken en oë.

Sy lyf het uitgedroog, sodat hy lank en dun en krom staan soos ’n boom wat in sterk wind gegroei het, maar die onderliggende dringendheid spreek nog steeds uit sy houding, met dieselfde dringendheid wat vir hom die naam Hurry Hirschfeld verwerf het toe hy sestig jaar gelede die eerste keer die goudvelde getref het.

Op hierdie Maandagoggend staan hy voor die vollengte vensters in sy dakkantoor en kyk af oor Johannesburg. Reef House staan skouer aan magtige skouer langs die Schlesinger-gebou op Braamfonteinrif, bokant die middestad. Van hierdie hoogte af lyk dit asof Johannesburg voor Hurry Hirschfeld se voete neerbuig, wat heel gepas is.

Lank gelede, voor die Groot Depressie van die 1930’s, het hy al opgehou om sy rykdom in terme van geld te meet. Hy besit in sy persoonlike hoedanigheid meer as ’n kwart van Gekonsolideerde Sentraalrand se aandele. Teen die huidige markwaarde van R120 per aandeel is dit ’n asembenemende bedrag.

Daarby, deur middel van ’n ingewikkelde netwerk van trusts, volmagte en verweefde direkteurskappe, het hy beheer oor ’n massiewe blok van twintig persent van die maatskappy se stemreg.

Die interkom pieng saggies in die vertrek met sy sagte materiaal en ingetoë kleure, en Hurry skrik effe. “Ja,” sê hy sonder om van die venster af weg te draai.

“Doktor Steyner is hier, meneer Hirschfeld,” kom sy sekretaresse se fluisterstem, spookagtig in die luuksueuse ruimte.

“Stuur hom in,” snerp Hurry. Die verdomde interkom gee hom die horries. Die hele verdomde vertrek gee hom die horries. Soos hy al telkens hardop gesê het, dis soos ’n hoerhuis vir feetjies.

Vir 45 jaar het hy in ’n karige kantoor sonder ’n mat gewerk met ’n paar vergeelde foto’s van mans en masjinerie teen die mure. Toe het hulle hom hierheen geskuif. Hy kyk in die vertrek rond met weersin wat nog ná vyf jaar net so vars is as op dag een. Wat het hulle gedink, dat hy ’n verdomde vrouehaarkapper is?

Die paneeldeur gly geluidloos opsy en doktor Manfred Steyner tree netjies in die vertrek in. “Goeiemore, Oupa,” sê hy.

Tien jaar lank al, vandat Terry so besimpeld was om met hom te trou, noem Manfred Steyner hom só, en Hurry Hirschfeld haat dit. Hy onthou nou dat Manfred Steyner ook verantwoordelik is vir die ontwerp en binnehuisversiering van Reef House, en daarom moet pa staan vir sy huidige irritasie.

“Wat jy ook al wil hê, die antwoord is nee,” sê hy en hy loop na die lugreëling se beheerpaneel toe. Die termostaat is reeds hoog gestel, en nou draai Hurry dit so hoog as kan kom. Binne ’n paar minute sal die vertrek die ideale temperatuur hê om orgideë te kweek.

“Hoe gaan dit vanoggend, Oupa?” Dis asof Manfred nie gehoor het nie, sy uitdrukking is vaal en neutraal toe hy tot by die lessenaar kom en sy papiere daarop uitsprei.

“Verdomp aaklig.” Dis onmoontlik om die klein twak van stryk te bring, dink hy. Jy kan netsowel vir ’n stuk masjinerie beledigings toesnou.

“Ek is jammer om dit te hoor.” Manfred haal sy sakdoek uit en klad sy ken en voorkop. “Ek het die weeklikse verslae.”

Hurry hendsop en gaan na die lessenaar toe. Dis besigheid. Hy gaan sit en lees vinnig. Sy vrae is kortaf, priemend en word dadelik geantwoord. Manfred se sakdoek werk nou oortyd, hy klad en mop en vee op. Twee keer haal hy sy bril af en vryf die stoom van die lense af.

“Kan ek die lugreëling ’n bietjie koeler draai, Oupa?”

“As jy daaraan raak, skop ek jou gat,” sê Hurry sonder om op te kyk.

Vyf minute later staan Manfred Steyner skielik op. “Verskoon my, Oupa.” En hy flits oor die vloer en verdwyn in die badkamer langsaan.

Hurry spits sy ore om te luister, en dan hoor hy die krane ruis en grinnik tevrede. Ná tien jaar van leer en probeer is die lugreëling die enigste manier wat hy nog kon kry om Manfred Steyner te ontstig.

“Moenie al die seep gebruik nie,” roep hy, en verkneukel hom. “Jy’s die een wat altyd aangaan oor kantooruitgawes!”

Dit tref nie vir Hurry as belaglik dat een van die welvarendste en invloedrykste mense in Afrika soveel tyd en energie daaraan bestee om sy persoonlike assistent se lewe te versuur nie.

Om elfuur maak Manfred Steyner sy papiere bymekaar en begin hulle versigtig in sy varkleer-aktetas met die monogram terugpak.

“Oor die aanstelling van ’n nuwe hoofbestuurder vir Sonderkloof in meneer Lemmer se plek … U sal my memo onthou oor die aanstelling van jonger mans in sleutelposisies …”

“Nooit die verdomde ding gelees nie,” lieg Hurry Hirschfeld. Hulle weet albei hy lees alles, en onthou dit ook.

“Nou ja …” Manfred brei ’n ruk lank uit oor sy opvattings, en sluit dan af: “In die lig hiervan stel my departement, met my volle steun, voor dat ons vir Jakobus Joubert Stapelberg, die huidige ondergrondbestuurder, in die pos aanstel. Ek het gehoop dat u die voorlopige aanbeveling sal teken, en dat ons dit by Vrydag se vergadering ter tafel kan lê.”

Vernuftig laat gly hy die geel memo tot reg voor Hurry, skroef sy pen se doppie af en bied dit vir die ou man aan. Hurry tel die memo tussen sy duim en voorvinger op asof dit iemand anders se vuil sakdoek is, en laat val dit in die snippermandjie.

“Wil jy hê ek moet in besonderhede verduidelik wat jy en jou beplanningsdepartement met julle voorstelle kan doen?”

“Oupa,” vermaan Manfred hom sagkens, “u kan nie die maatskappy bestuur asof u ’n bendeleier is nie. U kan nie die span hoogsgeleerde manne ignoreer wat u van raad bedien nie.”

“Ek het dit vyftig jaar lank só bestuur. Wys jy vir my wie gaan dit verander?” Hurry leun genoeglik agteroor op sy stoel en vis ’n allemintige sigaar uit sy binnesak.

“Oupa, daardie sigaar! Die dokter het gesê …”

“En ek sê Fred Plummer kry die pos as Sonderkloof se bestuurder.”

“Hy gaan volgende jaar op pensioen,” protesteer Manfred Steyner.

“Ja,” stem Hurry in. “Maar wat maak dit saak?”

“Hy’s ’n ou ploeteraar,” probeer Manfred weer, met ’n desperate klankie in sy stem. Hy het nie verwag dat die ou man se hardkoppigheid sy planne in die wiele sal ry nie.

“Hy is twaalf jaar jonger as ek,” grom Hurry dreigend. “Hoe maak dit van hom ’n ou ploeteraar?”

Goudmyn

Подняться наверх