Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 19

16

Оглавление

Op vlak 100 spuit en vee Joseph M’Kati die grond op wat van die groot vervoerband afgeval het. Hy doen al vyf jaar lank hierdie werk, en is ’n tevrede en ingenome man.

Joseph is ’n Sjangaan van byna sestig jaar oud, die eerste wit ryp begin in sy hare sit. Lagplooie wys om sy oë en sy mondhoeke. Hy dra sy helm agtertoe gestoot op sy kop, sy oorpak is handgeborduur en swierig blou en rooi gelap, en hy loop met ’n opgewekte wip in sy stap.

Die vervoerband is baie honderde meter lank. Van al die hoër vlakke af word die verbrokkelde gouderts van die werkgang af gelaai en in koekepanne met die vervoerweë langs gestuur. Uit die koekepanne word dit in die bek van die ertsglybaan uitgekantel. Dit is ’n vertikale skag wat afgaan tot op vlak 100, honderde meter deur die rotse, om die erts op die vervoerband uit te spoeg. ’n Stelsel van staaldeure reguleer die vloei van erts tot op die vervoerband, en die band voer dit met die tonnel langs tot in enorme opslagbakke. Van hier af word dit outomaties tot in die ertshyser gevoer, en elke vier minute word die volgende vrag van vyftien ton na die oppervlak toe gehys.

Joseph werk onder die ruisende vervoerband. Dis nie baie wat uitmors nie, maar dis belangrik. Goud het die eienaardige manier om vanweë sy groter soortlike gewig sy pad deur ander materiaal te vind, ondertoe. As jy dit lank genoeg los, sal dit in die vaste aarde self in verdwyn.

Dis hierdie eienskap van goud wat deels verantwoordelik is daarvoor dat Joseph M’Kati so ingenome voel. Hy het tot by die einde van die vervoerband gevorder, heelpad langs gewas en gevee, en nou kom hy orent, sit sy besem eenkant neer, vryf met albei hande aan sy niere en kyk gemaak doodluiters rond om seker te maak dat daar niemand anders in die vervoerweg is nie.

Langs hom is die opslagbak waarin die vervoerband sy vrag stort. Die bak kan duisende ton vat.

Sodra hy seker is dat hy alleen is, sak Joseph hande-viervoet af en kruip onder die opslagbak in, ondanks die geweldige geraas van die vallende klip bokant hom, en kruip dieper totdat hy die gate bereik.

Dit het hom baie maande gevat om die koppe van vier klinknaels af te beitel wat die naat in die bak se bodem bymekaarhou. Só het hy daarin geslaag om ’n eenvoudige, maar hoogs doeltreffende swaarmedia-afskeier te bou.

Vry goud in die erts wat in die opslagbak gestort word, begin dadelik en vinnig sy pad deur die klip daaronder soek, aangedryf deur die vibrasie van die vervoerband en die bak as die erts daarin val, en dit vind Joseph se vier klinknaelgaatjies, waaronder hy ’n stuk plastiek uitgesprei het.

Die goudryke stof maak vier keëlvormige hopies op die plastiek, en lyk net soos swart roet.

So hande-viervoet plaas Joseph die swart poeier versigtig oor in sy tabaksak, sit die plastiek terug om die volgende filtrering op te vang, sit sy tabaksak in sy broeksak en skarrel onder die opslagbak uit.

Hy begin ’n tradisionele deuntjie fluit toe hy sy besem optel en weer met die eindelose taak van vee en afspuit begin.

Goudmyn

Подняться наверх