Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 23

20

Оглавление

“Jak.” Daniël Stander se stem is laag, ernstig. “Ek het ’n tameletjie vir jou.”

“Dis nét wat ek nodig het.” Jak laat sy eie stem afgemat en gelate klink oor die foon. “Ek is net op die punt om op my ondergrondse toer te gaan. Kan dit wag?”

“Nee,” verseker Daniël hom. “Dis in elk geval op jou pad. Ek bel van die noodhulpstasie af by die skagbek. Kom hiernatoe.”

“Wat is dit?”

“Aanranding. Wit op swart.”

“Hemel tog.” Jak sit penorent op sy stoel. “Erg?”

“Sleg. Hy’t hom met ’n swaar hamersteel bygedam. Ek het 47 steke ingesit, maar ek’s bekommerd sy skedel is gekraak.”

“Wie het dit gedoen?”

“ ’n Kêrel genaamd Kowalski.”

“Daai swernoot!” Jak se asem jaag. “Nou goed, Daniël. Kan hy ’n verklaring aflê?”

“Nee. Nie vir ’n dag of twee nie.”

“Ek’s nou-nou daar.”

Jak plak die foon neer en loop na sy assistent se kantoor toe. “Dimitri.”

“Jak?”

“Kry vir Kowalski uit die werkgang uit. Ek wil hom so gou moontlik in my kantoor hê. Stuur iemand anders om sy skof klaar te maak.”

“Reg. Wat’s die probleem?

“Hy’t een van sy manne vet gebliksem.”

Dimitri fluit sag, en Jak hervat: “Bel vir Personeel, hulle moet die polisie laat kom.”

“Ek maak so.”

“Sorg dat Kowalski hier is as ek terugkom van my inspeksie af.”

Daniël wag vir hom in die noodhulpkamer. “Kyk self.” Hy wys na die figuur op die draagbaar.

Jak kniel langs hom, en sy mond vertrek in ’n bleek lyn.

Die swart steke strek netjies oor die geswolle snye in die man se vlees. Een oor is afgeskeur, en Daniël het dit weer vasgewerk. Daar is ’n swart gat agter die geswelde, pers lippe waar sy tande was.

“Die ergste is nou verby, jy sal dit maak,” sê Jak met deernis, en die man se oë draai na hom toe. “Die man wat dit aan jou gedoen het, sal gestraf word.”

Jak staan op. “Gee my ’n geskrewe verslag van sy beserings, Daniël.”

“Ek sal daarvoor sorg. Sien ek jou ná werk by die klub?”

“Beslis,” sê Jak, maar innerlik is hy siedend, en die woede bly dwarsdeur die ondergrondse toer in hom brand.

Goudmyn

Подняться наверх