Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 9
6
Оглавление“Dis snaaks, jy sien hulle keer op keer so sny, maar jy’s seker dit sal nooit met jou gebeur nie.” Frank Lemmer se stem is rustig en sterk. Die arm moet sy gevoel verloor het, dink Jak terwyl hy langs sy baas in die werkgang lê.
Die man draai sy kop na Jak toe. “Hoekom gaan boer jy nie, ou seun?”
“U weet hoekom.”
“Ja.” Lemmer glimlag effens, net ’n trekking van sy lippe. Met sy los hand vee hy sy mond af. “Jy weet, ek het nog net drie maande voordat ek aftree. Ek het dit so byna gemaak. Jy sal ook nog in hierdie posisie beland, boet, in die grond met jou bene verbrysel.”
“Dis nie die einde nie,” sê Jak.
“Is dit nie?” Hierdie keer grinnik hy. “Is dit nie?”
“Wat’s die grap?” vra Daniël Stander, en kyk deur die opening na hulle.
“Genade, dit het jou lank genoeg gevat om hier te kom,” brom Frank Lemmer.
“Help ’n bietjie, Jak.” Daniël gee sy dokterstas aan. Dan, terwyl hy deurkruip, praat hy met Frank Lemmer: “Unie Staal het vanaand op 98 sent gesluit. Ek het gesê jy moet koop.”
“Te duur, oorgekapitaliseer,” snork die ouer man.
Daniël gaan lê op sy sy en pak sy instrumente uit, terwyl hulle oor aandele kibbel. Toe hy die spuit vol Pentanol getrek het en die seningrige arm ontsmet, draai Lemmer weer sy kop na Jak se kant toe.
“Ons het goed gemyn hier, Jakobus, ek en jy. Ek wens hulle wil dit nou vir jou gee, maar hulle sal nie, jy’s nog te jonk. Maar wie hulle ook al in my plek sit, sorg dat jy ’n ogie op hom hou. Jy ken die grond hier, moenie dat hy dit opfoeter nie.”
En die naald gaan in.
Daniël sny binne vier-en-’n-half minute deur die arm. Sewe-en-twintig minute later sterf Frank Lemmer weens skok en ontbering in die dienshyshok, op pad oppervlak toe.