Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 21

18

Оглавление

Dis nou al ’n week dat Grootbul op Jak se opdrag nie in die werkgang is nie, vandat die dak in seksie 43 ingestort het. Die verskoning is dat die wit mynwerker in Grootbul se span in die rotsstorting dood is, en dat hy nou moet wag om aan ’n ander seksie toegewys te word. In werklikheid wil Jak hom ’n ruskans gee. Hy het tydens die reddingspoging die fisieke en emosionele spanning in hom gesien. Toe hulle saam die mynwerker se lyk ontdek, die man saam met wie Grootbul gewerk en gelag het, het Jak die trane onbeskaamd oor Grootbul se wange sien rol toe hy die lyk optel en teen sy bors vasdruk.

“Hamba kahle, ndoda,” het hy gemompel. “Gaan in vrede.”

Grootbul is ’n legende in Sonderkloof. Hulle spog oor hom – hoeveel bier hy in een sitting kan drink, hoeveel klip hy man-alleen in een skof kan laai, hoe hy enige ander man van sy voete af kan dans. Hy het al meer as duisend rand se toekennings vir dapperheid gekry. Grootbul gee die toon aan, ander probeer hom dit nadoen.

Jak het hom in beheer van ’n vervoerspan gesit. Vir die eerste paar dae het Grootbul die geleentheid geniet om kragtoertjies te doen en te kuier, want die vervoerspan gaan oral in die werksarea rond, sodat hy tydens die skof die meeste van sy talryke vriende te siene kry. Maar nou raak Grootbul verveeld. Hy wil teruggaan na die werkgang toe.

“Hierdie werk,” sê hy grootdoenerig vir die vervoerspan, “is vir ou mans en jong vroue.” En met een beweging tel hy ’n tweehonderd-liter-drom diesel man-alleen op en sit dit op die lokomotief se platform.

’n Tweehonderd-liter-drom diesel weeg ’n raps oor die 360 kilogram.

Goudmyn

Подняться наверх