Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 5

2

Оглавление

Selfs met die elektriese waaier wat ’n orkaan uit die hoek uit blaas, is dit snikwarm in Jak Stapelberg se kantoor. Hy steek sy hand uit na die termosfles vol yswater op sy lessenaar se rand, maar vries toe die fles begin beweeg voordat sy vingers daaraan raak. Die metaalfles wikkeldans oor die gepoleerde houtoppervlak; die lessenaar self skud só dat die papiere daarop ritsel.

Die vertrek se mure vibreer en die vensters klater in die rame. Vier sekondes lank hou die skudding aan, en dan is dit weer stil.

“Liewe hemel,” swets Jak en gryp een van die drie telefone op sy lessenaar. “Dis die ondergrondbestuurder hierso. Gee my die rotsmeganikus se laboratorium, en maak gou, ’seblief. ”

Hy trommel ongeduldig met sy vingers op die houtblad terwyl hy wag om deurgesit te word. Sy kantoor se middeldeur gaan oop en Dimitri loer om die kosyn.

“Het jy daai een gevoel, Jak? Dit was ’n bielie.”

“Ek het, ja.” Dan krys die telefoon in sy oor.

“Doktor Wessels hier.”

“Pieter, dis Jak. Het jy daai een gemeet?”

“Ek het nog nie ’n finale syfer nie … hou net bietjie aan.”

“Jip.” Jak bedwing sy ongeduld. Hy weet Pieter Wessels is die enigste een wat kop of stert kan uitmaak van die hoop ingewikkelde elektroniese toerusting in sy laboratorium. Die laboratorium is ’n gesamentlike navorsingsprojek, befonds deur vier van die grootste goudmynmaatskappye. Saam het hulle ’n kwartmiljoen rand ingesit om navorsing te doen oor klipstrukture en seismiese aktiwiteit onder groot druk. Hulle het die Sonderkloof Goudmynmaatskappy se terrein as die ligging vir die laboratorium gekies. Nou het Pieter Wessels sy mikrofone honderde meter onder die aarde opgestel, en sy opnemers en wysters is gereed om enige ondergrondse woeling neer te pen.

Nog ’n minuut tik verby. Jak draai op sy stoel en staar deur die venster na die nommer 1-skagtoring, tien verdiepings hoog.

“Komaan, Pieter, komaan,” por hy. “Ek het twaalfduisend man daar onder.”

Met die telefoon nog steeds teen sy oor gedruk, kyk hy op sy horlosie.

“Halfdrie,” brom hy. “Die slegste tyd denkbaar. Hulle sal nog in die werkgang wees.”

Hy hoor hoedat die gehoorbuis aan die ander kant opgetel word, en Pieter Wessels se stem is amper verskonend. “Jak?”

“Ja.”

“Ek’s jammer, Jak, jy het ’n drukbars van mag-sewe op drieduisend meter gehad, in sektor Sierra sewe Charlie twee.”

“Verdomp!” roep Jak uit en plak die gehoorstuk neer. Hy spring op, sy gesig verbete.

“Dimitri,” blaf hy vir sy assistent wat nog by die deur rondhang, “ons gaan nie wag dat hulle ons bel nie, dis ’n noodgeval. Daar was ’n mag-sewe-skudding, met sy middelpunt reg in die middel van die oostelike langfront op vlak 95.”

“Moeder Maria,” hyg Dimitri en koes in sy kantoor in. Hy buk met sy glansende swart krulkop oor die telefoon en Jak hoor hoedat hy die eerste van die nodige reeks oproepe begin maak: na die mynhospitaal, noodspan, hoof-ventilasiebeampte en hoofbestuurder se kantoor.

Jak draai en sien sy buitedeur oopgaan.

Jimmy Paterson, sy elektriese ingenieur, kom in. “Ek het hom gevoel, Jak. Hoe lyk dit?”

“Sleg,” antwoord hy, en dan bondel die ander lynbestuurders ook in sy kantoor in. Hulle praat onderlangs, steek sigarette aan, kug en skuif hulle voete rond, maar almal hou die wit telefoon op sy lessenaar dop. Die minute kruip verby soos afbeen-insekte.

“Dimitri!” roep Jak om die spanning te verbreek. “Het jy ’n hyser by die skagopening?”

“Hulle hou die dienshyser vir ons.”

“Ek het vyf man wat die hoëspanningskabel op vlak 95 vir ons dophou,” sê Jimmy Paterson.

Hulle ignoreer hom. Almal se aandag bly op die wit telefoon.

“Het jy al die baas opgespoor, Dimitri?” Jak tree op en af voor sy lessenaar. Dis net wanneer hy naby ander mans staan dat ’n mens sien hoe lank hy is.

“Hy’s ondergronds, hy’t om halfeen afgegaan.”

“Sit ’n alle-stasies-berig in dat hy my hier moet kontak.”

“Ek het dit klaar gedoen.”

Die wit telefoon lui. Net een keer, ’n skril noot wat op Jak se senupunte skraap. Dan het hy die gehoorbuis teen sy oor. “Ondergrondbestuurder,” sê hy. Daar is ’n lang stilte en hy kan die man aan die ander kant hoor asemhaal. “Praat, man, wat is dit?”

“Die hele duiwelse ding het ingestort,” sê die stem. Dis hees, grof van vrees en stof.

“Waarvandaan bel jy?” vra Jak.

“Hulle is nog daar binne,” sê die stem. “Hulle gil daar binne. Onder die klip. Hulle skree.”

“Wat’s jou stasie?” Jak maak sy stem kil en hard, hy probeer deur die man se skok dring.

“Die hele werkgang het op hulle ingeval. Die hele duiwelse ding.”

“Verdomp! Jou bliksemse idioot!” bulder Jak. “Sê my wat’s jou stasie!”

Daar heers ’n oomblik van geskokte stilte. Dan kom die man se stem weer, nou meer beheers, vies oor die belediging. “Vlak 95, hoofvervoerweg. Seksie 43. Oostelike langfront.”

“Ons kom.” Jak sit die foon neer en tel sy geel glasveselhelm en lamp van die lessenaar af op.

“Seksie 43. Die rotsdak het ingestort,” sê hy vir Dimitri.

“Enigiemand dood?” vra die klein Griek.

“Vir seker. Ons het kermgatte onder die klippe.”

Jak plak sy hoed op sy kop.

“Vat oor hier bo, Dimitri.”

Goudmyn

Подняться наверх