Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 22
19
ОглавлениеAl die moeite net hiervoor. Dawie de Lange hou ’n oomblik lank op om die Dynagel in die skietgate in te stop. Hy leun vorentoe om die rif te inspekteer. Op die werkgang se wand is dit ’n swart streep in die blou kwartsklip.
Die koolstof-gidsrif is wat hulle dit noem. ’n Dun lagie koolstof wat nooit meer as ’n klompie sentimeter breed is nie. Swart roet, dis wat dit is. Dawie skud sy kop ingedagte. ’n Mens kan nie eens die goud daarin sien nie.
Dawie is twee jaar ouer as sy broer Johnny, en daar is geen ooreenkoms tussen hulle wat voorkoms of ingesteldheid betref nie. Dawie se ligte hare is konvensioneel kortgeknip aan die kante. Hy dra geen juwele nie, en is stil en terughoudend van aard.
Johnny is lank en skraal, Dawie kort en gespierd. Johnny is uitspattig, Dawie versigtig, selfs suinig. Hulle enigste gedeelde eienskap is dat albei eersteklas-mynwerkers is.
As Johnny meer rots breek as Dawie, is dit net omdat Dawie versigtiger is as hy; hy waag nie dieselfde kanse nie, hy volg al die veiligheidsprosedures wat Johnny goedsmoeds verontagsaam.
Dawie verdien minder geld as Johnny, maar spaar elke sent wat hy kan. Vir sy plaas. Hy gaan eendag ’n plaas koop. Hy het al klaar meer as 49 000 rand daarvoor gespaar. Nog vyf jaar, dan het hy genoeg. Dan kan hy vir hom ’n plaas koop en ’n vrou kry om hom te help boer.
In teenstelling spandeer Johnny elke sent wat hy verdien. Hy is gewoonlik teen die einde van elke maand in die skuld by sy broer. “Leen daar vir my honderd tot betaaldag, ag toe, Dawie.”
Teësinnig leen Dawie dan maar vir hom die geld. Hy keur alles omtrent Johnny af – sy voorkoms, kleredrag en gewoontes.
Dawie hou op om die gidsrif so te bestudeer en begin weer die plofstof in die skietgate indruk. Hy werk versigtig en presies, want dis ’n hoogs gevaarlike proses.
Die plofstofkerse is toegerus met slagdoppies en gereed om te skiet. Volgens wet kan net die myner in beheer hierdie operasie doen. Dawie doen dit werktuiglik terwyl hy oor Johnny se jongste vergryp dink. Hy het sy huur opgestoot.
“Honderd rand per maand!” protesteer Dawie luidkeels. “Ek is sommer lus en trek weg en soek ander blyplek.”
Maar hy weet hy sal niks van die aard doen nie. Hettie kook te lekker, en haar teenwoordigheid is te vroulik en aanloklik. Dawie sal by hulle bly.