Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 18

15

Оглавление

Terwyl hierdie groep hulle week se werk beplan, is hulle manne in die grond onder hulle aan die werk.

Op vlak 87 loop Kowalski soos ’n groot beer in die dofverligte strekgang af. Hy het sy koplamp afgeskakel, en hy beweeg geluidloos vir so ’n groot man. Hy hoor stemme in die tonnel voor hom, en gaan staan stil om mooi te luister. Hy hoor nie die geluid van grawe wat in die los klippers skrop nie, en Kowalski se Neanderdal-gelaatstrekke vertrek skrikaanjaend.

Bliksems, gaan dit deur sy gedagtes. Hulle dink ek is in die werkgang, of hoe? Hulle dink dis kans vir hulle om op hulle vet agterente te sit, g’n klip te grawe nie, of hoe?

Hy beweeg weer vorentoe, ’n beer op katvoete.

Hulle kry nou iets nuuts om oor te dink, sommer gou-gou! belowe hy homself.

Hy tree om die tonnel se hoek en skakel sy lamp aan. Daar is drie van hulle wat hy aangesê het om die los erts van die grond af in die koekepanne in te laai. Twee van hulle staan teen die koekepan, rustig aan die rook, terwyl die derde hulle vermaak met ’n storie oor ’n bierdrinkery die afgelope Kersfees. Hulle grawe en voorhamers staan teen die muur.

Al drie vries stokstyf toe die lamplig oor hulle speel.

“O so!” plof die woorde uit Kowalski se mond, en hy gryp ’n swaar voorhamer in een massiewe vuis, keer dit om en stamp die steel teen die grond. Die hamer se staalkop val af, en laat hom met ’n swaar houtsteel van meer as ’n meter in die hand.

“Jy, spanleier!” bulder hy, en sy los hand skiet uit en gryp die naaste man aan die keel. Met een beweging ruk hy die kêrel van sy voete af op sy knieë en begin hom in die tonnel af sleep. Selfs in sy woede maak Kowalski seker dat daar nie getuies is nie. Die ander twee mans bly sit waar hulle is, te verskrik om te beweeg, terwyl hulle metgesel se gekerm en geskree in die donkerte verdof.

Dan eggo die eerste hou in die nou tonnel, gevolg deur ’n pynkreet.

Nog ’n hou, en nog ’n skreeu.

Die gedoefdaf hou ’n ruk lank aan, maar die skreeue wat daarmee saamgaan, kwyn tot ’n sagte gekreun en gekerm, en raak dan heeltemal stil.

Kowalski kom alleen met die tonnel langs terug. Hy is natgesweet in die lamplig, en die hamer se steel in sy hand is donker en glinster van die bloed.

Hy smyt dit voor hulle voete neer.

“Werk!” blaf hy, en dan is hy weer weg, groot soos ’n beer in die skadu’s.

Goudmyn

Подняться наверх