Читать книгу Goudmyn - Wilbur Smith - Страница 8
5
ОглавлениеNá die reeks aardskuddende ontploffings vat Jak die manne terug na die werkgang. Teen negeuur herwin hulle twee masjienbedieners se lyke wat teen hulle eie rotsboor se metaal vergruis is. Drie meter verder kry hulle nog ’n mynwerker, sy lyf ongedeerd, maar sy kop platgedruk.
Teen elfuur kry hulle nog twee masjienbedieners. Jak is in die vervoerweg toe hulle die lyke deur die smal opening sleep. Hulle lyk skaars na mense, dis net hompe rou vleis wat in die grond gesmeer is.
Kort ná middernag gaan Jak en Grootbul weer na die werkgang toe om oor te neem by die manne aan die wand, en twintig minute later breek hulle deur ’n muur van los rotse in nog ’n kamer in wat op wonderbaarlike wyse heel gebly het.
Die lug daarbinne stoom van die hitte. Jak deins instinktief terug van die vuil, bedompige vlaag teen sy gesig. Dan forseer hy hom om vorentoe te kruip en by die opening in te loer.
Drie meter van hom af gewaar hy Frank Lemmer, Sonderkloof-myn se hoofbestuurder. Hy lê op sy rug. Sy helm is van sy kop af gestamp en daar is ’n diep sny bokant sy oog. Bloed uit die wond het in sy silwer hare ingeloop en swart saamgekoek. Hy maak sy oë oop en knip hulle soos ’n uil vir die helderte van Jak se lamp. Jak swaai vinnig die ligstraal weg.
“Meneer Lemmer,” sê hy.
“Wat de hel dink jy doen jy by die reddingspan?” blaf Frank Lemmer. “Dis nie jou werk nie. Het jy in twintig jaar se mynwerk nie ’n enkele bliksemse ding geleer nie?”
“Is als reg, meneer?”
“Kry ’n dokter hier. Hy sal my moet lossny van hierdie besigheid af.”
Jak skuifel nader, dan sien hy wat die baas bedoel het. Van sy elmboog af is sy arm onder ’n soliede rotslaag vasgepen. Jak voel aan die rots. Dit sal plofstof vat om dit te skuif. Soos gewoonlik is Frank Lemmer reg.
Jak wikkel terug uit die opening uit en roep oor sy skouer: “Kry die telefoon hier.”
’n Paar minute later kom hy deur na die stasie op vlak 95 wat as noodhulppos en rusplek vir die reddingswerkers ingerig is.
“Dis Stapelberg. Kry vir my vir dokter Stander.”
“Hou aan.”
Dan, oomblikke later: “Hallo, Jak, dis Daniël.”
“Jis, Daniël, ons het die ou man gekry.”
“Hoe gaan dit met hom? Is hy by sy positiewe?”
“Ja, maar hy’s vasgepen – jy sal moet kom sny.”
“Is jy seker?” vra Daniël Stander.
“Natuurlik is ek seker,” snou Jak.
“Stadig nou, ou kêrel,” vermaan Daniël hom.
“Jammer.”
“Nou ja, waar’s hy vasgepen?”
“Arm. Jy sal hom bokant die elmboog moet afsit.”
“H’m, tog te lekker,” merk Daniël op.
“Ek wag hier vir jou.”
“Goed so, ek sal so oor vyf minute daar wees.”