Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse - Страница 10

7

Оглавление

“Hoe gaan dit in Washington?” Etiénne se stem klink geamuseerd.

“Ek is in Londen.” Georgina sak agteroor op die bed.

“Wat het van Washington geword?” Sy kan die verbasing hoor en glimlag. Miskien sal hy nou met haar moet saamstem dat haar werkgewer beslis nie by sy volle positiewe kan wees nie.

“Was daar. Vir vyf uur. Toe word ons sonder seremonie uit die hotel se warm swembad geruk en aangesê om ons tasse te pak. En hier is ons nou al twee dae in ’n koue, triestige Londen.”

“Jis, maar ek is jaloers. As ek jy was, sou ek nie daardie werk wou los nie.”

Georgina frons, want dis nie die antwoord wat sy verwag het nie. “Etiénne, dis alles behalwe opwindend om met drie kinders oor die aardbol gesleep te word. Ek weet nie of hy dink hy doen die kinders ’n guns nie, maar hulle gaan totaal sonder wortels grootword!”

“En dit nou van iemand wat soos ’n sigeuner rondtrek. Meet jy nie met dubbele standaarde nie?” Sy kan die spot in sy stem hoor en haar stem styg ergerlik.

“Ek is dertig jaar oud én ek het wortels! Ek is nie nog besig om te ontwikkel nie.”

“Georgie, die man weet sekerlik wat hy doen. Jy kan nie sy metodes veroordeel net omdat jy nie daarvan hou nie.”

“Ek gaan jou nou groet, want ek is nie lus om te hoor hoe jy ’n vreemdeling verdedig van wie jy nie die helfte weet nie!” En daarmee skakel sy die selfoon af en staan van die bed af op om die kinders te gaan soek. Bertie is al weer besig om ’n bordspeletjie uit te pak toe sy in die leefvertrek kom en sy is genoodsaak om by hom te gaan sit.

“Kom speel saam met ons.” Hy kyk van André na Jean. “Asseblief?”

Georgina is nogal verbaas toe die twee na ’n effense huiwering opstaan en by haar en Bertie om die groot koffietafel kom plaasneem. Georgina verduidelik vir hulle hoe die speletjie met die geld werk en alhoewel Bertie nie alles verstaan nie, laat hy hom nie keer nie.

Georgina hou die oudste twee onderlangs dop. En soos die minute ’n uur en later twee uur word, kan sy haar verbasing voel groei. Hulle is nog nie geselserig nie, maar hulle speel saam en gee selfs soms ’n kreun of ’n glimlag om hulle vreugde of teleurstelling te wys. Hoe het Mark gesê – hulle is nie slegte kinders nie; hulle het net iemand nodig wat tyd met hulle kan spandeer.

Hulle al vier verloor later tred met die tyd en vier gesigte draai verdwaas na die deur toe daar ’n bekende stem opklink.

“Pappa, kom kyk! Kyk wat is myne – ek het sewe huise en drie hotelle!” Bertie beduie opgewonde na die bord.

“Dan kan jy mos vir my geld leen!” Die groot man stap glimlaggend nader en neem op een van die stoele agter Bertie plaas. Hy vryf oor die ander twee se koppe en knik na Georgina.

“Ek kan ook. Ek het nog meer as hy!” Jean wys na die stapel papiernote voor haar.

Georgina sien hoe hy na sy oudste kyk en skelm knik toe hy al die note voor die donkerkopseun sien. Dié is duidelik die wenner in hierdie kompetisie. Sy sien die tevrede uitdrukking op André se gesig en voel weer hoe haar hart week word. Daar is iets aan die mooi seun wat maak dat sy hom graag beter wil leer ken. Dan kyk sy na haar eie benarde finansiële status. Geld was nog nooit haar sterk punt nie. Sy begin aanstaltes maak om die speletjie op te pak, maar Bertie laat dadelik sy misnoeë blyk.

“Ons is nog nie klaar nie!”

Sy kyk na die ander twee en al sê hulle nie iets nie, kan sy nie help om die afwagting op hulle gesigte te sien nie. Dan kyk sy na die man wat nog steeds agter Bertie sit.

“Asseblief, gaan aan, moenie dat ek julle pla nie. Ek kan dalk ’n paar wenke optel!” En daarmee skuif hy hom gemakliker op die stoel.

Georgina sien vir die eerste keer die moeë lyne langs sy mond en oë en sy wonder waarom dryf ’n mens jouself om so te lewe. Die geld wat hy jaarliks inkry, lyk seker soos die begroting van ’n middelslagland, maar sy wonder of dit die moeite werd is.

Jean se stem onderbreek haar gedagtes en toe sy opkyk, beduie die dogtertjie na die bord. “Jy lê op my eiendom. Jy moet my betaal. Laat ek sien – twee hotelle …”

Georgina sug hoorbaar. Haar stapeltjie note is besig om drasties te krimp.

“Georgie is baie arm,” lig Bertie sy pa in, en toe sy vlugtig opkyk, kan sy net die geamuseerde blik in die grys oë sien, maar hy maak gelukkig nie ’n opmerking nie.

Uiteindelik tree André as die wenner uit die stryd en Georgina sien weer die blik wat tussen pa en seun gewissel word.

Georgina sit stil aan tafel en luister na die kinders en hulle pa se gesprekke rondom haar. Sy verstaan hom werklik nie. As sy haar oë toemaak, kan sy dink dis ’n pa soos Leon wat na ’n dag by die kantoor met sy kinders gesels. Hy antwoord met groot geduld hulle vrae, en vra hulle met belangstelling na hulle dag uit. Sy wonder meteens of hy dalk net nie van haar hou nie. Miskien is dit waarom hy so kortaf met haar is, want klaarblyklik het niemand anders ’n probleem met hom nie. Maar sy kan haar nie moeg maak oor sy gevoelens nie. As hy nie van haar hou nie, kan hy net so sê en sy sal met plesier haar tasse pak. Alhoewel sy nogal jammer sal wees om Bertie nie weer te sien nie. Dan ruk sy orent toe daar skielik ander stemme in die vertrek is en sy glimlag effens toe sy Mark en Harry gewaar.

“Is jy reg?” Dis Mark wat vra.

Georgina kyk hom vraend aan. Nie seker hy het met haar gepraat nie.

“Chris het gesê jy kan vanaand saam met ons gaan rondloop.” Hy kyk na die donker man aan die kop van die tafel. “Het jy haar nie gesê nie?”

Die breë skouers word opgetrek. “Ek het vergeet.” Die woorde word sonder ’n sweem van apologie gesê.

“Georgie kan nie saam met jou uitgaan nie, sy moet met my speel!” Bertie se stem klink beslis langs haar op.

Georgie voel hoe sy magteloos van die een gesig na die ander kyk.

“Bertie, leen haar asseblief net vanaand vir ons. Ons sal mooi na haar kyk!” Mark en Harry kyk glimlaggend na die seuntjie wat met ’n frons die versoek oordink.

Dan knik hy. “Net een aand, en dan moet jy môreaand twee stories lees!” Hy kyk beslis na Georgina en sy kan net knik voordat sy haastig opstaan om iets anders te gaan aantrek.

Toe sy ’n paar minute later die sitkamer binnekom, voel sy hoe haar wange warm word toe Harry sag deur sy tande fluit en Mark sy arm om haar skouers sit. Met haar swart langbroek, swart rolnektrui en swart leerstewels, lyk sy soos duisende modieuse jong mense in die stede van die wêreld, maar die mans se oë rus nogtans waarderend op die prentjie voor hulle.

“Ek kan nie glo dat ’n man jou nog nie aan sy bedstyl vasgegespe het nie. Jy is darem deksels mooi. En dit terwyl ek nie eens kan sien of jy grimering dra …”

“Georgie, jy moenie laat terugkom nie.”

Georgina kan nie help om te lag vir die uitdrukking op Mark se gesig toe Bertie hom so wreed in die rede val nie.

“Nee, maggies, Bertie! Ek is besig om vir die vrou te vertel hoe mooi sy is! Gee my asseblief net eers kans om klaar te maak!”

Georgina buk by die klein seuntjie en druk ’n soen teen sy wang. “Jy moet lekker slaap.”

“Hoe laat kom jy terug? Sal ek nog wakker wees?”

Mark skud laggend sy kop. “Ek hoop nie so nie.” Dan tel hy die klein figuurtjie op en draai hom in die rondte. “Ek het nooit gedink jy gaan my grootste kompetisie word nie.”

“Wat is kompetisie?” Die blou oë frons vraend, maar Chris tree nader en neem die seuntjie by Mark.

“Kom, ek sal vir jou lees.”

Georgina knik na die ander twee wat intussen ook ingekom het. “Goeienag, en dankie vir die lekker dag.”

Albei paar oë hou haar net stil dop.

“Ek dog julle werk dag en nag?” Georgina sit tussen die twee mans agterin ’n swart huurmotor.

“Ons kan vanaand niks verder doen nie. Ons moet eers wag totdat die Japannese afvaardiging môre hier aankom. So, sit terug en geniet ’n lekker aand uit in Londen.”

“Waar woon julle hier in Londen?”

“Net langs julle. Chris het ’n paar jaar gelede die twee aangrensende huise gekoop omdat ons so dikwels hier is. Dit is eintlik sy hoofkwartier as hy in Europa moet werk.”

Georgina knik. “Waarheen gaan ons?”

“Sommer net rondloop en ’n lekker aand hê. Ek hoop nie jy het ’n inkomtyd nie.”

“Ek het nie, maar ek kan beslis ook nie môre lê en slaap nie. En julle moet sekerlik ook môre fris en vars wees, anders het julle dalk ook nie meer ’n werk nie!”

Mark trek haar laggend nader. “Juffrou Walters, jy gaan so ’n lekker aand hê dat jy nie eers sal omgee of een van ons môre nog ’n werk het nie.”

En dit was nie ydel beloftes nie. Sy kan sien hulle kom dikwels in die stad. In elke kuierplek is daar mense wat kom groet en so groei die groep deur die aand net groter en groter. Tot Georgina se blydskap loop sy self ’n paar kennisse raak en almal wil verbaas weet waarom sy hulle nog nie gekontak het nie. Niemand kan glo as hulle hoor wat sy daar maak nie en dit word een van die onderwerpe waaroor sy baie deur die loop van die aand gespot word.

Mark en Harry waak soos twee jaloerse broers oor haar. Sy weet ook nie of broederskap eintlik die gevoel is wat hulle teenoor haar voel nie, maar sy laat hulle begaan. Hulle is albei sulke lekker geselskap en sy kan voel hoe die afgelope week se spanning begin verdwyn. Dit raak twee-uur in die oggend voordat sy haar twee metgeselle oortuig kry dat sy huis toe moet gaan. Die groep neem met baie uitroepe van mekaar afskeid en almal belowe oor en weer om te bel.

Georgina kyk verbaas na die lig wat uit die studeerkamer skyn toe sy die voordeur agter haar toetrek. Miskien het hulle vergeet om dit af te skakel. Sy stap die vertrek binne en steek dan vas. Die donker kop sit gebukkend oor die lessenaar, terwyl ’n pen oor die papiere voor hom gly.

Hy kyk vlugtig op. “ ’n Lekker aand gehad?” Hy vryf oor sy oë.

Sy knik. “Ja. Dankie. Ek is jammer ek het u gesteur. Ek het gedink John het vergeet om die lig af te skakel.” Sy weet nie waarom sy verduidelik nie.

“Hoe gaan dit met jou en die kinders?” Die vraag betrap haar so onverhoeds dat sy vir ’n lang ruk net na hom kan kyk. Dan trek sy haar skouers op.

“Miskien moet u húlle die vraag vra,” probeer sy ’n direkte antwoord omseil.

“Ek het.”

Georgina vou haar arms voor haar bors. Asof sy haarself teen sy volgende woorde wil beskerm.

“Ek dink nie hulle weet mooi hoe om jou te hanteer nie. Jy is nie juis die tipiese onderwyseres wat hulle ken nie.”

“Miskien omdat ek nie een is nie.” Georgina kan haarself nie keer nie. Sy weet nie waarom hy in die middel van die nag met haar oor haar en die kinders praat nie.

“Ek is bevrees André is besig om die geveg te verloor. Ek dink hy sal op die oomblik saam met Bertie drake vir jou doodmaak.”

Georgina kan nie die uitdrukking agter die donker wimpers lees nie.

“Hulle is oulike kinders.” Sy weet nie wat om verder te sê nie.

“Jy sal maar geduldig met Jean moet wees. Sy is nie so kwaai soos wat sy wil voorgee nie.”

“Sy is maar net baie beskermend teenoor haar pa. Dis normaal.” Die lang aand en die nagure maak haar tong skielik losser. “Elke jong meisie is maar bang daar kom ’n ander vrou in haar pa se lewe.”

“Sy voel egter baie beter nadat jy haar blykbaar verseker het dat jy beslis nie met my wil trou nie.” Sy stem is ernstig, maar toe sy opkyk, kan sy die spot in die grys dieptes sien en sy voel hoe haar wange warm word.

“Doktor Parker, het jy dit al ooit oorweeg om die kinders ’n normale skoolopleiding te gee? Ek meen, hulle kan tog nie vir die res van hulle lewe so van land na land swerf nie. Kinders het tog maats nodig – hoe anders gaan hulle sosiale vaardighede aanleer?” En toe sy eers begin, is dit soos ’n stortvloed en sy sien nie hoe die gesig oorkant haar stil word en die grys oë kil op haar rus nie. “Hulle is slim kinders. Hoe lank gaan hulle nog tevrede wees met ’n onderwyseres wat hulle jaar na jaar deur ’n formele leerplan neem, sonder enige ekstra stimulering van ’n portuurgroep? Skool gaan tog nie net oor die kennis wat jy daar opdoen nie. Dis tog ook waar jy leer om met ander mense oor die weg te kom. Waar jy leer om op ’n gesonde wyse te kompeteer. Hulle word in ’n kunsmatige kou groot, en ek is bevrees dit gaan hulle nie voorberei op die lewe daarbuite nie.” Haar hande beduie nou lustig saam. Haar donker oë ernstig en vol emosie. Uiteindelik sak haar woorde tussen hulle neer en vir ’n oomblik is daar ’n doodse stilte.

“En ek was al die tyd onder die indruk dat jy net prentjies teken! Waarom het jy my nie lankal op my dwalings gewys nie?” Sy stem sny deur haar. Om sy lippe huiwer ’n sardoniese glimlag, terwyl sy oë twee donker skrefies is, en Georgina voel hoe haar nek warm word onder die trui. In die helder daglig sou sy waarskynlik nooit hierdie goed vir hom gesê het nie, maar dis baie laat in die nag en hy kan dit net sowel vanaand hoor. Miskien voel sy ook daarna beter.

“Ek mag miskien nie kinders hê nie, en ek kan miskien net prentjies teken, maar ek was ook ’n kind. En ek kan nog onthou wat belangrik en lekker vir my was.” Haar lang, skraal vingers vee deur haar hare. “Kinders moet die kans gegun word om hulleself te leer ken. Hoe kan hulle ’n selfbeeld vorm as hulle nie ’n spieël het nie? En daardie spieël is hulle portuurgroep! Hulle word omring deur uiters suksesvolle grootmense, teenoor wie hulle sekerlik baie minderwaardig moet voel.”

“Jy sal my nou moet verskoon.” ’n Ysige klank het in sy stem kom lê. “Ek het nog werk om te doen, maar laat ek jou net gerusstel, jou verantwoordelikheid teenoor my kinders sluit beslis nie hulle opvoeding in nie.”

Sy kan voel hoe haar mond oopgaan, maar die donker kop het reeds weer oor die dokumente gebuk en sy draai om.

Wilna Adriaanse-omnibus 1

Подняться наверх