Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse - Страница 6
3
ОглавлениеBetsy Connely kom roep haar later vir ete en toe Georgina in die eetkamer kom, is die kinders reeds besig om kos te skep. Nie een van hulle kyk op nie, en toe hulle klaar ingeskep het, verdwyn die ouer twee in die gang af.
“Waarheen gaan hulle?” Georgina kyk na Bertie wat homself by die tafel tuismaak.
“By die televisie eet.”
Georgina skep vir haar ook kos en gaan sit oorkant die blonde seuntjie. Hulle neem die eerste paar happe in stilte en dan kyk sy skuinsweg na hom.
“Waarom is André en Jean so kwaai?” Haar stem verraai niks van die ergerlikheid wat sy teenoor die ander twee voel nie.
“Hulle hou nie van die juffrouens wat altyd hier kom woon nie. Almal is altyd so kwaai, en hulle wil eintlik net met my pa gesels en kan nie wag dat ons saans gaan slaap nie.”
Georgina moet haastig die glimlag keer. Uit die mond van die suigeling. “Ek kan darem nie glo álmal is kwaai nie.”
“Voor my pa is hulle altyd vriendelik, maar as my pa nie met hulle wil trou nie, dan raak hulle sommer baie kwaai.”
“Wie vertel vir jou al hierdie dinge?” Sy kan nie meer haar glimlag keer nie.
“Niemand. Ons weet dit net. Hulle dink ons weet nie, maar ons hoor hulle oor die telefoon praat … en soms met mevrou Connely.” Hy gee weer ’n paar happe en laat dan met ’n ernstige gesiggie hoor: “Jy is baie mooi. Het jy nie ’n man nie?”
Sy begin vinnig gewoond raak aan sy reguit manier van praat en sy glimlag. “Nee, ek het nie ’n man nie. Ook nie kinders nie.”
Hy sit sy mes en vurk neer. “Wil jy my kamer sien?”
Sy knik. “Ek sal graag jou kamer wil sien.”
Hy loop voor haar uit na die ander kant van die reuse-woonstel.
Sy kyk verstom in die kamer rond, seker daarvan sy het per abuis in ’n groot speelgoedwinkel beland. “Genade, Bertie, is dit alles joune?”
Hy knik. “Ja, my pa het dit vir my gekoop en juffrou Martins … sy het graag winkels toe gegaan. En my pa het gesê sy kan vir ons koop wat ons wil hê.”
Georgina tel versigtig hier en daar een van die indrukwekkende speelgoed op.
Toe hy tevrede is dat sy alles gesien het, stap hulle na waar die ander twee voor die televisie sit. Die borde kos is halfgeëet op die koffietafel gelaat. Hulle het nie lank gesit nie, of mevrou Connely kom binne en tel die borde op. Op haar vraag of hulle genoeg gehad het, knik albei woordeloos.
Georgina hou hulle onderlangs dop. Dis drie pragtige kinders. Die oudste, André, is sy pa se ewebeeld met sy donker hare en rookgrys oë, en iets aan sy houding ook – dieselfde ongeërgdheid met die mense rondom hom. Jean is nie so donker soos haar broer nie, en haar oë is meer ’n groenbruin mengsel, maar sy het ook dieselfde selfversekerdheid en selfs op tienjarige ouderdom is sy ’n besonder mooi meisietjie. Die ma moes voorwaar mooi gewees het, want klein Bertie lyk, met sy blonde krulhaartjies en blou ogies, net soos ’n engeltjie. Weliswaar ’n engeltjie met ’n sterk wil, maar nog steeds ’n engeltjie. Sy kyk weer na André en betrap vir ’n oomblik sy donker oë op haar. Dan kyk hy vinnig weg.
Haar pogings om met hulle te gesels, loop elke keer dood en na ’n ruk gee Georgina moed op. Sy het nie vanaand die energie vir hierdie twee nie. Sy het eers ’n nag se slaap nodig … dan sal sy besluit wat om met hulle te doen.
“Bertie, hoe laat moet julle gaan slaap?” wend sy haar na haar informant.
“My pa het gesê ons kan vir hom wag.”
Georgina is nie seker of sy veronderstel is om ook vir die pa te wag nie, maar weet ook nie waar meneer óf mevrou Connely is nie. Sy strek haar bene voor haar uit en kyk na die televisie om te sien waarna die kinders so aandagtig sit en kyk.
Sy moes ingesluimer het, want sy word wakker van stemme rondom haar en dit neem ’n lang oomblik voordat haar brein registreer waar sy is. Teen daardie tyd kyk sy al vas in nog ’n paar rookgrys oë. Hy knik in haar rigting voordat hy Bertie optel en na die seuntjie se stortvloed woorde luister. Na ’n rukkie sit hy weer die seuntjie neer en buk by sy dogter. Hy druk ’n soen teen haar wang en vryf dan oor sy oudste se kop. Dan gly die grys oë weer oor haar waar sy nog steeds sprakeloos staan.
“Ek hoop jy het jou voete gevind, juffrou Walters.”
“Sy is nie ’n juffrou nie!” laat Bertie laggend hoor. “Haar naam is Georgie. Sy teken prentjies.”
Die donker man kyk net vlietend na haar, voordat hy na sy oudste draai. “Het jy na vanaand se wedstryd gekyk – wat was die telling?”
En vir die eerste keer sien Georgina lewe in die seun se afgetrokke oë en is die mond nie meer op ’n ontevrede plooi getrek nie.
Halfpad deur sy verduideliking van die een of ander wedstryd, kyk Chris Parker meteens na Georgina en laat half geamuseerd hoor: “Juffrou Walters, miskien moet jy gaan slaap, voordat jy op jou voete aan die slaap raak en een van ons doodval.”
Georgina is net in staat om te knik voordat sy in haar spore omdraai en die vertrek verlaat. Maar nie voordat sy die glinstering in die dogtertjie se oë gesien het nie.
Gelukkig is sy so vaak dat sy dadelik aan die slaap raak, want as sy moes wakker lê, is sy seker sy het vanaand nog haar tasse ingepak. Skande of nie skande nie, sy gee nie om nie. Sy is seker Leon en Griet sal nie sy vriendskap mis nie.
“Juffrou Walters?” Die stem dring deur die slaapnewels en Georgina sukkel om haar ooglede van mekaar af te kry, maar die stem hou nie op nie, en uiteindelik fokus haar oë op die figuur voor haar bed en vee sy verward met haar hand oor haar oë.
“Doktor wil jou in sy studeerkamer sien voordat hy kantoor toe gaan.” Betsy Connely se gesig is op ’n ernstige plooi getrek.
“Wanneer … Hoe laat is dit?” Dit voel vir Georgina of haar tong aan haar verhemelte vassit.
“Nou. Hy wag in die studeerkamer. Dit is al sewe-uur. Hy wou al gery het.”
Sy swaai haar bene met moeite van die bed af en staan dronkerig regop, nie seker wat sy eerste moet doen nie. Maar met mevrou Connely se hulp, vind sy haar denim van die vorige aand en ’n hemp in die kas. Haar kort hare word met haar hande platgevee en twee hande koue water oor haar gesig, laat haar brein effens aanskakel.
Hy staan voor die groot glasdeure wat op die balkon oopmaak. Soos die vorige dag, is hy onberispelik geklee in ’n modieuse pak klere, kraakwit hemp en donkerrooi das. Op die groot antieke lessenaar staan ’n aktetas, gereed om opgetel te word.
“Goeiemôre.” Haar stem verstil toe sy in die grys oë kyk.
Hy knik afgetrokke. “Ek wil net hoor of jy jou pligte verstaan. Dit is ongelukkig nie vir jou ’n vakansie nie. Ek het ’n bedrywige paar weke voor, en sal dit waardeer as jy my kinders sal besig hou. Hulle het reeds hul leerplan vir hierdie termyn voltooi. Die nuwe onderwyseres begin in Februarie. Verder weet ek nie of Leon jou gesê het dat ek vir vier en twintig uur diens per dag betaal nie. ’n Af dag of naweek sal die uitsondering wees en nie die reël nie.”
Georgina se mond gaan oop om iets te sê, maar hy haal ’n koevert uit sy baadjiesak en sit dit op die lessenaar neer. “Daarin is kontant vir julle uitstappies, asook ’n kredietkaart vir enige aankope wat die kinders mag nodig hê. As die geld te min is, bel die kantoor en reël met Ann Meyerson.”
En voordat sy iets kan sê, tel hy die aktetas op en stap met lang treë deur toe.
By die deur draai hy vlugtig om en beduie met sy kop na die lessenaar. “Byna vergeet ek. Daar lê ’n selfoon. Hou dit asseblief by jou.” En daarmee draai hy om en net die reuk van sy naskeermiddel bly in die vertrek agter. ’n Aangename, vars geur, verbasend aards vir so ’n gesofistikeerde man.
“Mevrou Connely, dink jy ek sal my suster-hulle kan bel en net laat weet ek is veilig hier?” Georgina kyk onseker na die ouer vrou.
“Die telefoon is enige tyd tot jou beskikking. Jy kan sommer uit jou kamer skakel. En noem my asseblief Betsy.”
Georgina knik en stap ingedagte deur die portaal na haar slaapkamer waar die bed nog net so deurmekaar is soos toe sy so haastig moes opstaan.
Die telefoon lui lank voordat sy haar suster se stem hoor.
“Griet! Kan jy my hoor? Dis ek, Georgie!”
“Georgie! Hoe gaan dit?”
“Nie goed nie. Ek weet nie of ek gaan bly nie!”
“Georgie! Wag nou eers. Chris het gebel om te sê hy is jammer daar was ’n misverstand en jy moes op die lughawe wag. Is jy nou reg? Hoe lyk die kinders?”
“Wanneer het hy gebel?” Georgina kan voel hoe haar lyf warm word. Sy wag ’n oomblik vir die antwoord.
“Gisteraand. Het hy jou nie gesê nie? Hy sê jy het nie baie gelukkig gelyk toe jy by die kantoor aankom nie.”
“Griet, hoe goed kén julle die man?”
“Wat’s fout, Georgie?”
“Ek dink nie hy is reg nie. Ek dink daar skort ernstig iets met sy verstand. Geen mens kan so lewe nie! Hy luister na niemand nie, rammel bevele af, gee niemand ’n spreekbeurt nie en verder sleep hy die kinders oral met hom saam. Hulle kamers lyk soos winkels soos hy hulle bederf en hulle is nes hy, ongelooflik onbeskof, behalwe die kleintjie. Hy is nogal oulik.” Georgina bly uitasem stil en vir ’n oomblik dink sy die verbinding is verbreek, maar dan klink Magriet se stem weer in haar oor.
“Hy is ’n baie besige man, Georgie. Jy is nie daar om hom te kritiseer nie. Pas net sy kinders op. Dis net twee maande. Geniet dit, loop rond en sien die wêreld. Alles word vir jou betaal. Georgie, is jy nog daar?”
Georgina vee oor haar oë. “Ek dink nie julle ken hom nie. Ek sal my bes doen om julle nie in die skande te steek nie, maar moet my asseblief nie kwalik neem as ek nie enduit kan bly nie. Jy het nie ’n idee hoe dit hier gaan nie.”
“Ek is seker jy sal dit regkry. Sê groete vir Chris.”
Georgina snork vererg voordat sy groet. Met die telefoon in haar hand staar sy vir ’n lang oomblik na die dik mat. Hy het hulle laat weet sy is veilig en gesê hy is jammer hy het haar op die lughawe vergeet en dat sy kwaad was daaroor. Die verontwaardiging lê bitter in haar mond. Het hy nooit gedink hy behoort háár wat Georgina is, om verskoning te vra nie! Nie Leon óf Griet het op die lughawe gesit en wag nie … en moes toe teen nekbreekspoed met ’n helikopter tussen Manhattan se wolkekrabbers deur vlieg nie. Sy het skoon vergeet om dít vir Griet te vertel!
Wel, sy kan óf hier bly sit óf sy kan stort en aantrek en hierdie ryk kinders ’n ding of twee probeer leer. Dit sal haar pas as hy haar dienste so gou moontlik wil beëindig, dan het sy nie skande op die familie gebring nie!
Georgina groet die deurwag vriendelik en skud haar kop toe hy vra of hy ’n huurmotor kan laat kom.
“Nee, dankie, ons gaan sommer stap.” Dan steek sy haar hand na die gryskopman uit. “Ek is Georgie Walters, ek gaan vir die volgende twee maande hier woon.”
Die man steek effens verbaas sy hand uit, en dan verhelder ’n glimlag sy gesig en die blou oë vonkel laggend. “Aangename kennis, juffrou Walters. Ek hoop jy geniet jou verblyf hier. My naam is Leonard.”
Sy knik en beduie vir die kinders om haar te volg.
“Waarheen gaan ons?” Bertie kyk vraend op na haar toe hulle buite op die sypaadjie staan.
“Ons gaan bietjie rondloop. Ek was lanklaas hier.”
“Waarom ry ons nie met die motor nie?” Dit is die eerste woorde wat die tienjarige Jean met haar praat en Georgina kyk vir ’n oomblik na die dogtertjie wat met ’n ontevrede gesig na haar staan en kyk.
“Ek is lus vir stap.”
“My pa laat ons nie toe om in die stad rond te stap nie. Dis gevaarlik.” Die koppie is omhoog en die bruin ogies flits uitdagend.
“Ons sal nie na die gevaarlike dele toe gaan nie. Kom, ons gaan eers deur die park stap.” Veiligheidshalwe neem Georgina tog Bertie se hand en sorg dat sy die ander twee die hele tyd in die oog het.
Bertie verkyk hom aan die bedrywighede in die groot park. Mense wat vinnig heen en weer loop, rollemskaatsers wat by hulle verbyflits, drawwers … en mense wat sommer net soos hulle kuier-kuier loop. Die koue lug verdryf die sufheid na die lang vlug en Georgina voel aansienlik beter as die vorige aand. By ’n meer met eende gaan Bertie staan en verkyk hom aan die groot, vet lywe wat op die gras wei en met ’n plons terug in die water gly. Georgina kry hom met moeite daar weg en ook net met ’n belofte dat hulle weer sal kom. Die ander twee praat nie ’n woord nie.
Toe Bertie later kla dat hy dors is, beduie Georgina na ’n koeldrankstalletjie.
“Wat wil julle drink?”
“Is hier nie ’n restaurant nie? Ons drink nie uit bottels en blikke nie!” Jean staan met haar hande op haar heupies.
“Dan moet julle maar dors bly.” Sy kyk na Bertie en hy draai huiwerig om na die verkoper en vra ’n gaskoeldrank. Georgina wys na die vrugtesappe en sê hy kan een daarvan kies, nie ’n gaskoeldrank nie. En vir die eerste keer sien sy dieselfde ontevrede trek om die klein mondjie en die blonde koppie wat beslis agteroor gegooi word.
“Vrugtesap of niks, Bertie. Besluit self.”
Iets aan haar stem moes hom gewaarsku het, of hy was baie dors, want hy beduie na ’n lemoensap en begin dorstig drink toe Georgina die botteltjie vir hom oopmaak. Die ander twee staan afkeurend na hom en kyk en Georgina besluit om hulle te ignoreer. Hoe gouer hulle vier mekaar verstaan en uitsorteer, hoe gouer kan sy dalk huis toe gaan. Sy begin verder stap, en toe hulle uiteindelik die park verlaat, wys sy na ’n klein eetplekkie waar sy dikwels geëet het toe sy vir ses maande in Manhattan gewoon het.
“Ek gaan nie hier eet nie. Ek wil in ’n ordentlike restaurant eet. My pa het vir jou geld gegee!” Jean steek in die deur vas. Haar oë rus op die informele tafeltjies en stoeltjies en Georgina voel hoe dit warm onder haar krag word en ’n krapperigheid in haar kom lê.