Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse - Страница 14

11

Оглавление

Georgina gryp onwillekeurig na die armleunings toe die helikopter die volgende oggend bewend opstyg. Haar versoek om saam met William en Betsy met die motor te ry het op dowe ore geval en nou kan sy maar net kyk hoe Manhattan se wolkekrabbers kleiner onder hulle word. En dan swaai die helikopter in ’n noordwestelike rigting. Sy kyk na die twee mans in die voorste sitplekke. Greg het haar die dag op die lughawe ook kom haal, maar dis haar werkgewer se hande op die stuurmeganisme en Georgina wonder vir die soveelste keer of daar iets is wat hy nie kan doen nie. Maar as hy ’n straler kan vlieg, kan hy seker ’n helikopter ook bestuur. Dan glimlag sy skielik as sy vir ’n oomblik wonder of hy motor kan bestuur. Dit sal nogal lagwekkend wees, maar sy skud haar kop vir haar eie onsinnige gedagtes.

“Georgie!”

Georgina se kop ruk orent en dan sien sy André beduie na iets onder hulle en sy kyk by die venster uit. Hulle is besig om oor ’n groot gebou te sirkel en dan begin hulle stadig daal, reg bokant ’n baie groot groen grasperk. Sy is dankbaar toe hulle tot stilstand kom en die geruis van die motore begin bedaar. Sy en die kinders maak hulle handbagasie bymekaar en dan wag hulle totdat Greg en Chris uitklim en die agterste deur vir hulle oopmaak. Een vir een word hulle uitgehelp.

Georgina kyk vlugtig om haar rond. Dit lyk soos ’n reuse-park waarin hulle geland het, met die groot grasperke en reuse-bome en -struike, tipies van hierdie deel van die New England-platteland. Dan sien sy die gebou wat sy uit die lug ook gesien het en sy is seker sy het nog nooit so ’n mooi huis gesien nie. Dis ’n baie groot dubbelverdiepinghuis met rooi baksteenmure waarteen die klimop welig rank. En haar eerste gedagte is dat as dit haar plek moes wees, sy nêrens anders sou wou woon nie. ’n Jong man staan nader en toe die motore tot stilstand kom, steek Chris en Greg hulle hande na hom uit en die drie mans groet. Daarna groet hy die kinders en toe beduie Chris na Georgina.

“Juffrou Walters, dis Andy Connely – William en Betsy se seun.”

Georgina steek haar hand na die rooikopman uit en hy groet glimlaggend. Dan roep die kinders haar en begin sy agter hulle met die geplaveide paadjie na die groot huis aanstap. Die wind is koud en sy slaan haar jaskraag hoër teen haar nek op. Die voordeur is bedek met ’n klein oorhang en toe hulle die paar trappies opklim, gaan die groot houtdeur oop en kom William hulle tegemoet. Hy help vir Jean en Bertie met hulle pakkies en beduie dan dat hulle uit die wind moet kom.

Die portaal is baie ruim, met rooibruin kleiteëlvloere waarop donkerrooi Oosterse matte lê. Die trap loop met ’n boog na die boonste verdieping en Georgina verkyk haar aan die pragtige trapreling van ou eikehout. Die hout glinster geel en warm in die lig van die groot koperlamp wat bo die trap brand.

Die kinders loop opgewonde van vertrek na vertrek en Georgina volg verwonderd. Dis so anders as die kantoor of die woonstel in Manhattan. Daar is ’n verskeidenheid van sitkamers. En Georgina begin hulle in haar gedagtes name gee. Die groot, formele sitkamer wat regs uit die portaal loop, noem sy die groen kamer, na aanleiding van die mure wat ’n donkergroen geverf is. Die meubels is beslis antieke meubels, maar dit lyk of hulle hier hoort. Die stoele en banke is met ’n verskeidenheid interessante materiale oorgetrek. ’n Groot kaggel vorm die fokus van hierdie deftige vertrek. Sy herken van die skilderye wat teen die mure hang en wonder in haar stilligheid waarvoor hierdie huis verseker is. In die reuse-kombuis kyk Georgina verwonderd na die lang witgeskropte houttafel wat die lengte van die vertrek volstaan en sy wonder of iemand ooit hier eet. In die een hoek is ’n ingeboude houtstoof wat brand en sy gaan staan vir ’n oomblik met uitgestrekte hande en verlekker haar in die hitte. Dit herinner haar aan haar ma se plaaskombuis. Maar die kinders laat haar nie lank vertoef nie. Uit die kombuis loop ’n hele aantal deure, blykbaar na waskamers en opwaskamers en spense met ingeboude yskaste en nog ’n paar kleiner vertrekke.

Daar is weer ’n klein portaal, waaruit nog ’n sitkamer, hierdie keer ’n geel een, loop. Die meubels en skilderye is ook baie mooi, maar dis nie so formeel soos die eerste groot vertrek nie. Die geel sitkamer maak met twee glasdeure op ’n gesellige binnehof oop, waar ’n tuintafel en stoele staan. Dis ’n heerlike beskutte hoekie. In hierdie stadium is Georgina seker sy sal nie weer haar pad vind nie. En toe hulle ’n derde sitkamer, oorwegend blou, binnestap, weet sy werklik nie meer waar sy is nie. In dié ruim vertrek is ’n groot televisieskerm en ’n boekrak vol boeke. In die een deel van die vertrek staan ’n ronde eetkamertafel met agt stoele en Georgina wonder wie by al die tafels eet.

Bertie maak nog ’n deur oop en dan snak Georgina behoorlik na haar asem. Dit is ’n studeerkamer, maar een soos wat sy nog net in rolprente en in tydskrifte gesien het. Drie van die mure bestaan uit reuse-boekrakke wat van die vloer tot teen die hoë plafon strek. Die rakke is oortrek met boeke. Daar moet duisende boeke wees. Voor die groot boogvensters staan ’n kersiehoutlessenaar, met twee ou groot leerstoele voor die lessenaar. In die middel van die vertrek staan ’n leerrusbank en twee gestoffeerde stoele, met ’n koffietafel tussenin. Die lessenaar is in die vorm van ’n L, en op die kort been staan ’n uiters moderne rekenaar, ’n telefoon en ander kommunikasie-instrumente. Sy moet haarself wegskeur uit die vertrek, en tot haar verbasing is hulle weer in die portaal en ontdek sy dat hulle in ’n sirkel geloop het.

Jean is alreeds halfpad teen die trappe op en sy beduie vir Georgina om gou te maak.

“Ek wil jou my kamer gaan wys.”

Georgina klim die breë trap op, haar hand op die glimmende trapreling. Hulle stap in ’n breë gang af en Georgina probeer tel hoeveel deure hulle verbyloop, maar raak later deurmekaar.

Jean se kamer is ’n sagte geel geverf en al die meubels en gordyne is wit-en-geel. Georgina wonder wie die kamer so mooi gemaak het. Die boogvensters kyk uit op die groot grasperke, maar Georgina weet nie of dit die voorkant of die agterkant van die huis is nie.

Bertie en André het ook elkeen ’n eie kamer en Georgina is bly om te sien dit lyk nie ook soos die binnekant van ’n afdelingswinkel nie. André s’n is verskillende skakerings van blou en Bertie s’n ’n meer spelerige rooi, wit en blou.

“Wil jy my pa se kamer ook sien?” Jean loop na die onderpunt van die gang, maar Georgina skud haar kop.

“Nee, dankie, maar jy kan my wys waar ek moet slaap.” Op daardie oomblik kom Andy en William met hulle tasse teen die trap op en Betsy loop agterna en beduie vir Georgina om haar te volg. By die bopunt van die trap draai sy links en aan die einde van die gang maak sy ’n deur oop. Georgina snak vir die soveelste keer daardie dag na haar asem.

Die kamer is wasig in wit en room, met net enkele spatsels van geel en groen in die stoffering van die stoele. Teen die oorkantste muur staan die grootste hemelbed wat sy nog gesien het, met wit gordyne wat van die dakkie afhang en teen die bedstyle vasgebind is. En soos met die kinders se kamers is daar ’n badkamer en suite en kyk die boogvensters ook op die tuine uit.

Georgina kyk huiwerig na die ouer vrou. “Betsy, is jy seker ek moet hier slaap?”

“Doktor het so gesê.” Betsy kyk onseker na Georgina. “Is iets verkeerd?”

“Nee, goeiste! Dis net vreeslik mooi.” Georgina se kop draai in die rondte en die ander vrou knik.

“Dit ís baie mooi. Doktor het al die slaapkamers laat oordoen.”

“Waar woon julle?”

“Ons het ’n ruim woonstel aan die ander kant van die huis. Andy woon alleen daar as ons in New York is.” Sy kyk vir ’n oomblik peinsend na Georgina, dan kug sy liggies en haar stem is ongekend ernstig toe sy praat.

“U is baie goed vir die kinders. Ek is baie jammer dat u weer moet weggaan. Ek weet dit is nie my plek om hieroor te praat nie, maar ek is self ’n ma … en dis nie reg dat die kinders so alleen gelaat word nie. Die onderwyseresse gee nie altyd om nie. Hulle kry baie geld, maar wil nie iets ekstra daarvoor doen nie. Ek is dankbaar dat ons Kersfees hier kan wees – ’n mens kan nie Kersfees in die stad vier nie.” Sy bly meteens stil asof haar woorde opgedroog het en draai sonder ’n verdere woord in haar spore om.

William en Andy klop liggies aan die deur en kom dan met haar tas binne. Georgina wonder skielik wat hulle van haar deurleefde tas dink. Die kinders het pragtige leertasse waarmee hulle reis, en sy het ook al Chris en Mark se tasse gesien. Almal dieselfde sagte kalfsleertasse.

Jean loer om die deur en wil weet of sy van haar kamer hou.

“Ek is seker ek gaan in ’n prinses verander as ek hier slaap,” laat sy gemaak-ernstig hoor.

Jean maak haar giggelend op een van die stoele tuis en kyk hoe Georgina uitpak.

“Waarom bly jy nie vir altyd by ons nie?” Die bruin oë is skielik ernstig.

Georgina maak die deur na die aantrekkamer oop en verdwyn vir ’n oomblik daarin. Toe sy uitkom, is daar ’n glimlag om haar mond, maar haar oë is ook ernstig. “Ek is nie ’n onderwyseres nie en julle moet skoolgaan. Julle wil tog nie eendag dom mense wees nie. En in elk geval sal julle na ’n rukkie vir my ook moeg word.” Sy vryf spelerig oor die dogtertjie se hare.

“Waarom kan jy dan nie net by ons bly nie? Ons kan iemand anders kry om ons te leer.”

Georgina gaan sit op die ander stoel. “En wat moet ek doen as julle klas het?”

“Jy kan teken, of foto’s neem of winkels toe gaan, en as ons klaar is, kan die juffrou huis toe gaan en jy kan na ons kyk.”

Haar oplossing word so sonder huiwering uitgespreek dat Georgina wonder wanneer die meisietjie al hierdie dinge uitgedink het.

“Het julle al die nuwe juffrou ontmoet?” verander Georgina die onderwerp.

Jean knik. “Maar ons hou nie van haar nie. Sy is nes al die ander – lyk voor my pa so vriendelik, maar as hy weg is, is sy kwaai en nors. Jy was ten minste nooit voor hom vriendelik en agteraf kwaai nie. Jy was sommer met ons almal kwaai.”

Georgina kan net lag. Sy het nie antwoorde vir die dogtertjie nie. Al wat sy weet, is dat haar hart ook baie seer gaan wees as sy hulle die dag moet groet. Snaaks dat sy nooit daaraan gedink het dat sy dalk aan die kinders geheg sal raak nie. Sy het gehoop sy sal goed met hulle oor die weg kom, maar sy het nooit verder as daardie punt gedink nie. Miskien as die kinders nie so ’n vreemde lewe gelei het nie … miskien is dit wat haar so jammer vir hulle laat voel.

“Waaraan dink jy?” onderbreek Jean se stem haar gedagtes.

“Sommer aan julle. Ek is bly ons het vriende geraak. Dis vir my baie lekker om saam met julle te wees.”

“Dan kan jy mos bly. Asseblief, Georgie, jy kan met my pa trou – ek sal nie meer omgee as hy met jou trou nie. Dit sal baie lekker wees.”

“Jean,” Georgina se stem is skielik streng. “Ek wil nie hê jy moet sulke goed sê nie. Dis Kersfees en ons gaan ’n paar lekker dae hier hê en dan gaan ek nog vir die hele Januarie by julle wees, en teen daardie tyd sal julle al opgewonde wees om weer te begin leer.”

Die dogtertjie staan vinnig uit die stoel op en druk haar hande in haar sye. “Ek wil nie ’n ander juffrou hê nie!” En daarmee draai sy om en stap met ’n regop ruggie by die deur uit.

Georgina bly ’n oomblik sit voordat sy opstaan en die res van haar klere uitpak. Haar arms voel skielik moeg en swaar.

Daardie aand eet hulle om die ronde tafel in die televisiekamer. Die kinders is geselserig en selfs Jean lyk nie meer so kwaad nie. Hulle vertel vir hulle pa van alles wat hulle herontdek het. En Georgina luister stil na hulle vertellings. Hulle het haar in die tydjie voordat dit begin donker word het, die gronde gaan wys. Of soveel as wat hulle kon inpas. Die dam met die vet wit eende is duidelik Bertie se gunstelingplek. Georgina kon haar net verkyk aan die pragtige landskap. Sy weet nie hoe groot die grond is nie, maar sy het wel uitgevind dat daar nie regtig met iets geboer word nie. Daar word blykbaar groente verbou, maar dit klink vir haar ook net vir huisgebruik. Daar is wel twee perde. ’n Blou-skimmel merrie, Missy, wat André blykbaar vir sy tweede verjaardag gekry het, en ’n groot swart hings, Phantom, wat aan sy pa behoort en wat volgens die kinders kwaai is.

En nou sit hulle aan tafel en die kinders gesels met blink oë. En Georgina wonder vir die soveelste maal waarom sy jammer vir die kinders voel. Dis beslis nie of hulle gebrek ly nie. Dis ook nie asof hulle pa nie lief vir hulle is nie. Selfs sy moet erken dat hy baie erg oor sy kinders is. Maar êrens in die prentjie is daar iets wat weg is. En dan besef sy sy het dieselfde gevoel oor die huis. Dit is ongetwyfeld die mooiste huis waarin sy al was, maar dis ook asof daar tussen al die mooi iets kortkom. En dan tref dit haar. Daar is geen foto’s in die huis nie, niks regtig persoonliks nie. Miskien is dít waarom sy vir die gesin jammer is. Die prentjie van buite is volmaak, maar daar kort ’n warmte. Almal is so ordentlik met mekaar. Almal probeer so hard, maar in die proses kan hulle nie regtig hulself wees nie.

Na ete is Bertie baie vaak en Georgina stap saam met hom kamer toe. Op die trap keer André haar egter voor en sê sy pa wil haar sien as sy klaar is.

Die studeerkamer se deur staan oop, en sy klop liggies. Op sy antwoord stap sy huiwerig die indrukwekkende vertrek binne. En net vir ’n oomblik gaan sy staan om die prentjie voor haar in te neem. Chris Parker sit agter die groot lessenaar en ’n leeslamp gooi ’n ligkol op die papiere voor hom. Verder brand daar net twee staanlampe in die groot vertrek.

Georgina besluit dat die vertrek op daardie oomblik selfs mooier as in die dag lyk. Die hout en die boeke skep ’n ryk en warm agtergrond.

Chris Parker staan op, stap om die lessenaar en beduie na die gemakstoele en rusbank.

“Ons sit sommer hier.” Hy wys na die skinkbord met koppies en ’n glaskan met koffie. “Betsy het koffie gemaak.”

Georgina neem op die punt van die stoel plaas en op haar vraag of sy die koffie kan inskink, knik hy net. Terwyl sy daarmee besig is, lig hy haar in dat hy die volgende middag weer Londen toe vertrek en wil hy weet of daar iets is wat sy nodig het. Vir die eerste keer vandat sy hierdie vreemde man ontmoet het, ervaar sy êrens ’n roering van jammerte.

Toe sy opkyk en sien hoe hy oor sy oë vryf, laat sy stil hoor: “Ek sal mooi na die kinders kyk.” Sy het skielik die begeerte om hom gerus te stel.

“Daaroor het ek nie twyfel nie.” Hy rek sy bene lank voor hom uit en neem ’n sluk. “Kan ek jou ’n persoonlike vraag vra?” Sy oë gaan oor haar gesig.

Toe sy woordeloos knik, vra hy reguit: “Waarom is jy nie getroud nie?”

Georgina voel die bekende beklemming in haar keel en sit vir ’n oomblik sprakeloos na hom en kyk. Dan laat gaan sy haar oë na die rye boeke teen die mure. Iemand anders sou seker teen hierdie tyd al om verskoning gevra het vir die vraag, maar hy wag in stilte. Sy hande om die warm koppie geskulp.

“Ek is seker nie die troutipe nie.” Haar stem klink onnatuurlik in haar eie ore en sy kug.

“Is daar ook nie êrens iemand met romantiese verwagtinge nie?”

Sy weet nie of sy haar die verbasing in sy stem verbeel nie en sy skud haar kop.

“Maar ek neem aan dit ís deel van jou toekomsplanne?” Hy sit steeds onverstoord na haar en kyk. Sy verskuif op die sagte stoel, nie seker wat sy moet antwoord nie en ook nie lus om met hom hieroor te praat nie.

“Doktor Parker, ek is nie seker wat hierdie gesprek met my verantwoordelikheid teenoor u kinders te doen het nie.” Haar wange verkleur nou ligrooi.

“Dit het niks met my kinders te doen nie, ek is net nuuskierig. En jy het nog nie my vraag beantwoord nie.”

Sy sit haar koppie op die koffietafel tussen hulle neer en begin orent kom. “Nee, dis nie deel van my toekomsplanne nie.”

“Jy is baie goed vir die kinders. Baie dankie.”

Georgina sak weer in die stoel neer, asof die onverwagse opmerking haar vir ’n oomblik verlam het. Sy probeer aan ’n gepaste reaksie dink, maar haar tong is ook ver- lam.

“Jy weet seker hulle wil jou nie weer laat weggaan nie.”

Georgina kan net haar skouers optrek. “Seker maar omdat ons net saam vakansie hou. As ek die onderwyseres was, sou hulle nie so opgewonde gewees het nie.” Sy weet nie wat sy moet sê nie. Die atmosfeer is skielik te intiem.

Voordat hy iets kan sê, staan sy op en wens hom van die deur af ’n goeie nagrus toe.

Toe sy na ’n lekker lang bad in die groot bed klim en die spierwit lakens en donssagte komberse tot teen haar keel trek, wonder sy waarom hy vanaand vir ’n oomblik die skanse laat sak het. Miskien het dit met die rustigheid van die huis te doen, weg van die onmoontlike gejaag van sy stadslewe, en sy wonder waarom hy nie hier kom woon nie. Waarom so ’n plek besit en jy kan dit nie self geniet nie? Watter soort vrou was die kinders se ma dat sy nie van hierdie plek gehou het nie?

Wilna Adriaanse-omnibus 1

Подняться наверх