Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse - Страница 7
4
ОглавлениеGeorgina lê agteroor in die bad, terwyl haar vingers oor haar kloppende slape vryf. Wat ’n dag! Sy is net te moeg om in te pak, maar môreoggend gaan sy haar bedanking indien. Miskien is dit ook nie nodig nie; miskien is sy klaar ontslaan. ’n Klop aan die badkamerdeur laat haar vervaard orent kom.
“Juffrou Walters, meneer Anderson is hier om u te sien,” klink William Connely se stem huiwerig deur die toe deur.
Georgina wil eers sê sy ken nie ’n meneer Anderson nie, maar êrens lui tog ’n klokkie en sy klim teësinnig uit die warm water en begin haar afdroog. Sy trek ’n langbroek en hemp aan en vee met haar vingers deur haar hare.
Mark Anderson staan in die middel van die sitkamer, besig om sy das los te maak en sy baadjie uit te trek. Hy kyk op toe sy binnekom.
“A, juffrou Walters.” Die Amerikaanse aksent draal geamuseerd. “Jy het my vanaand baie moeite aangedoen.”
Georgina staar hom onbegrypend aan en hy wys na ’n stoel. Dan kyk hy na William wat in die deur huiwer. “William, is daar nie een van die baas se duurste en lekkerste wyne in die kas nie? Ek is baie moeg. En as daar ’n bietjie kos oor is, sal ek bly wees. Ek moes vanaand ekonomiese klas vlieg en die kos was verskriklik sleg.”
Die ouer man knik glimlaggend en verdwyn in die rigting van die kombuis. Georgina sit op die rand van die diep stoel en kyk na die man wat hom al gemakliker oorkant haar maak.
“Wát het jy vandag met die baas se kinders aangevang? Hy het ’n histeriese oproep van Jean gekry en ek moes op die eerste vliegtuig spring om te kom kyk wat aangaan.”
“Waarom het hy nie self kom kyk nie?” Georgina kan haarself nie keer nie.
Die man oorkant haar glimlag. “Hy is vreeslik besig, maar sou beslis gekom het as hy kon. Maar vertel my nou eers wat gebeur het.”
William kom egter die vertrek binne met ’n skinkbord, ’n bottel wyn en twee wynglase, gevolg deur sy vrou met ’n bord kos. Betsy groet die blonde man hartlik en Georgina kan sien hulle is ou kennisse. Die wyn word geskink en William hou ’n glas na haar uit. Sy huiwer net ’n oomblik, dan neem sy die fyn kristalsteel tussen haar vingers en kyk afgetrokke na die robynrooi vloeistof.
Mark Anderson neem ’n groot sluk, maar voordat hy begin eet, kyk hy verskonend op en Georgina knik haar kop. “Ek het al geëet, dankie.” Sy wag totdat hulle weer alleen is voordat sy praat. “Meneer Anderson, ek weet nie wat Jean haar pa vertel het nie, maar ek kan jou verseker dat hulle nooit in enige gevaar verkeer het nie.”
“My naam is Mark.” Hy neem weer ’n hap en beduie dat sy moet aangaan.
“Dit het by ’n koeldrankstalletjie begin. Hulle drink blykbaar nie uit bottels en blikkies nie. Daarna was dit die eetplek wat ek gekies het. Dit het volgens hulle nie aan hulle gewone standaarde voldoen nie. Hulle het daarop aangedring om in ’n deftige restaurant te gaan eet, wat ek belaglik vind.” Toe sy eers begin, is dit soos ’n stroom wat nie kan ophou nie. “En verder wou Jean ’n rok koop – sonder om dit aan te pas – teen ’n prys wat die hele Afrika kan voed! Dit het ek nog belagliker gevind. Sy is tien jaar oud!”
Hy vee sy mond met die servet af en sit die skinkbord op die koffietafel neer, tel sy glas wyn op en sak agteroor in die stoel. Sy blik bly belangstellend op haar gerig.
“En toe besluit jy om hulle in een dag te leer hoe die res van die bevolking lewe?” Sy stem sak geamuseerd in die glas weg.
“Ek wou hulle niks leer nie, maar ek dink nie ’n mens kan kinders van daardie ouderdom so gruwelik verwen nie. Daar is niks wat hulle meer opgewonde maak nie, want hulle het alles al gesien en gedoen.” Sy kan voel hoe haar wange verkleur en weet nie of dit die wyn of sy deurdringende blik op haar is nie.
“Terwyl ek en jy nou vanaand tyd het en ek al die pad gekom het, moet ek jou miskien die een of ander oor die kinders vertel. Dit kan jou net help as jy jou werk wil behou.”
“Na vandag het ek geen begeerte om hiérdie werk te behou nie. Inteendeel, ek oorweeg dit ernstig om op te pak. Ek sal die doktor vir die vliegtuigkaartjie vergoed.”
“Dit sal baie jammer wees. Hy was baie ingenome daarmee dat hy jou gevind het.”
“Hmf, hy het ’n vreemde manier om sy vreugde te wys,” snork Georgina.
“Dit sal jammer wees as jy nou weer weggaan. Die volgende paar weke gaan hel vir hom wees en die kinders gaan hom min sien. Ek weet nie waar hy nou weer iemand gaan kry nie.” Hy sit regop en skink weer hulle glase vol.
“Vir die geld wat hy betaal, kan dit nie moeilik wees om iemand te kry nie.”
“Dit is nie, maar jy sal ook nie jou kinders by enige mens wil los nie. En glo my, ek sien almal wat aansoek doen. Dis vreeslik. En om die een of ander rede kry hulle altyd die indruk dat hulle ’n kans het om die vrou van die huis te word.” Sy oë draai hemelwaarts en Georgina kan nie help om te lag nie.
“Jy klink nou net soos Bertie. Hy sê al die juffrouens wil met sy pa trou.”
Mark knik. “Hy is nie ver verkeerd nie.”
Georgina se gesig versober weer. “Waarom trou hy nie maar en laat die kinders ’n normale lewe lei nie? Hulle kan mos wraggies nie vir ewig agter hom aan pendel nie!”
Mark se kop skud stadig heen en weer. “Hy sal nie maklik weer trou nie. Ek weet nie of jy sy geskiedenis ken nie, maar hulle het baie probleme gehad. In elk geval is hy op die oomblik so besig, geen vrou sal so wil lewe nie.”
Georgina draai die glas in haar hand in die rondte en kyk hoe die lig in rooi strale opbreek. “Dit los nou nog nie my probleem op nie. Ek kan nie hierdie kinders oppas nie. Ons sal mekaar uitroei. En jy sal baie heen en weer moet vlieg – dalk weer ekonomiese klas!” Haar gesig is ernstig, maar haar oë lag ondeund en sy oë begin ook verkreukel.
“Hoe oud is jy?”
“Maak dit saak?”
“Chris het iemand ouer as vyf en twintig gesoek.”
“En jy dink nie ek is vyf en twintig nie?”
Hy neem ’n sluk en skud sy kop. “Jy kan nie ouer as twintig wees nie. Ek het eintlik gedink negentien, maar sê maar twintig. Chris was net so verbaas. Hy sê hy het vir Leon gesê ten minste vyf en twintig.”
“Wel, dan is daar nie sin in dat ek langer bly nie. Duidelik het Leon hom verkeerd verstaan. Dit is miskien ook waarom ek en die kinders nie oor die weg kom nie. Hulle het iemand ouer nodig.” Georgina steek die glimlag agter die glas weg.
Hy kyk haar ’n oomblik agterdogtig aan. “Ek het ’n vermoede ek het jou so pas ’n groot gaping gegee en jy is besig om blitsvinnig daardeur te glip. Jy is nie twintig nie?”
“Vir tien jaar al nie. Maar as die doktor dink ek is te jonk … Laat hom asseblief maar so dink. Jy sien, ek het my suster belowe ek sal hulle nie in die skande steek nie, maar as ek ontslaan word, dan is dit nie my skuld nie.”
Sy diep lag weerklink deur die luukse vertrek. “Ek het ’n vermoede jy is net wat hierdie kinders nodig het!”
“Dis maar net omdat jy my nie ken nie. Jy sal ’n ander deuntjie sing as jy my ken.”
Mark kyk na die leë bottel. “Wag net hier, ek gaan nog een haal. Ek begin nou eers lekker kuier.”
Sy begin om van haar kloppende hoofpyn te vertel, maar hy het reeds opgestaan, en toe hy oomblikke later met nog ’n bottel terugkom, skink hy hulle albei se glase vol en dan lig sy oë belangstellend. “Vertel my van juffrou Walters. Wat maak sy as sy nie bedorwe kinders oppas nie?”
“My naam is Georgina, eintlik sommer Georgie. Ek het nog nooit voorheen kinders opgepas nie, behalwe soms Leon en Magriet se twee seuns. Soos Bertie sê, ek teken prentjies. Wat wil jy nog weet?”
“Jy is nie getroud, verloof of so iets nie?”
Georgina skud haar kop.
“En waar woon jy?”
“Ek het ’n woonstelletjie aan my suster-hulle se huis in Kaapstad en is gewoonlik so drie maande van die jaar daar. Die res van die tyd loop ek sommer net rond. Waar die gees en my finansies my lei.”
“En niemand kla nie?”
“Daar is niemand wat kan kla nie. Maar dis nou genoeg oor my. Waar pas jy in hierdie vreemde man se wêreld in?”
“Ken jy die term right-hand man? Of liewer, persoonlike slaaf! Iets soos ’n persoonlike assistent, iemand om te keer dat hy nie heeltemal waansinnig raak nie.”
“Ek is jammer om vir jou te sê,” onderbreek sy hom, “maar jy is nie baie goed in jou werk nie.”
Hy lag hardop. “Jy is baie uitgesproke vir iemand wat eintlik in die moeilikheid by haar baas is!”
“Terwyl ek nou verbrou het, kan ek net sowel sorg dat ek dit behoorlik doen.”
“Jy kan nie nou weggaan nie. Saam met wie gaan ek weer so lekker wyn drink?”
“Die nuwe juffrou.”
Hy snork hard deur sy neus. “Jy kan dit nie aan my doen nie. Jy wéét nie hoe erg hulle is nie. Dié wat slim en goed in hulle werk is, is gewoonlik lelik en oninteressant en die mooies is gewoonlik onuitstaanbaar verwaand. So jy is ’n welkome verandering.”
“Mark …” Sy naam lê gemaklik op haar tong. “Dit gaan nie werk nie. Ek gaan nie hierdie kinders verder die verderf in help en spring as hulle of hulle pa so sê nie, en die gevolg gaan nog sulke histeriese oproepe wees en selfs jy sal dit later ook nie kan uithou nie.”
Die blou oë wat so maklik glimlag, is meteens ernstig. “Hulle is nie slegte kinders nie. Hulle is maar net die produk van ’n baie ontwrigte lewe. Dis moeilik vir Chris om pa én ma te wees, veral omdat hulle nog nooit eintlik ’n ma gehad het nie.”
Georgina wys met haar arm na die vertrek waarin hulle sit. “Hoe baie geld wil ’n mens maak? Moet hy nie maar minder werk en meer tyd by hulle spandeer nie?”
“Toe sy vrou destyds begin het met haar … rondlopery, was werk sy enigste troos. En na haar dood en met die drie kinders het hy sekerlik gedink hy kan geldelik probeer vergoed vir hulle hartseer. Maar moet nooit die fout maak om te dink hy is nie lief vir hulle nie. Hulle is die belangrikste ding in sy lewe.”
“Hoe lank werk jy al vir hom?”
“Tien jaar. Ek was twee en twintig en net klaar met universiteit toe ek by hom begin het, en ek is maar steeds hier. Dit behoort jou ook iets van hom te vertel. Hy is ’n ongelooflike werkgewer en … vriend.”
“Of jy is net ’n baie lojale persoon.”
Sy blou oë vernou merkbaar. “Waarom is dit vir jou so moeilik om iets goeds van hom te glo? Julle het seker nog nie honderd woorde met mekaar gepraat nie.”
Georgina trek haar skouers op. “Ek het seker net nie ’n voorliefde vir mense wat bo-oor ander loop nie. En glo my, hy loop nie net bo-oor mense nie, hy trap sommer nog op hulle ook. En hy het uiters swak maniere. Hy het my nou nog nie verskoning gevra vir die misverstand gister met my aankoms nie, en gisteraand het hy my soos ’n slaaf uit die geselskap verskoon en gesê ek moet gaan slaap want hy is bang ek val een van hulle dood!” Haar oë blink onstuimig en haar wange word warm.
En vir die derde keer in een aand weerklink sy lag in die sitkamer. “Toe die helikopter opstyg, het hy nogal gesê hy is seker as jy nou ’n geweer gehad het, het jy ons afgeskiet!”
“En hy was doodreg. Ek is net verbaas hy het geweet ek is daar.”
“A, daardie fout moet jy nooit maak nie. Hy mis niks nie. Om vir hom te werk is soms hel, want hy het ’n geheue soos ’n olifant en hy weet van alles wat rondom hom aangaan. Dit lyk maar net of hy van die helfte nie bewus is nie. Ek dink dis waarom hy so goed is in sy werk.”
Georgina kan net stil na hom sit en kyk, want sy besef hulle deel nie dieselfde gevoel oor die donker man met die grys oë nie. Dan gaan haar hand na haar mond om ’n gaap te keer en hy kyk op sy horlosie.
“Genade! Kyk hoe laat is dit! Ek moet môreoggend vroeg terug Washington toe en jy moet drie kindertjies gelukkig maak. Maar dit was ’n heerlike aand, dankie! Ek hoop ons sal nog vele sulke aande kan hê.”
By die hysbak in die portaal kyk sy hulpsoekend na hom. “Wat gaan ek met die kinders doen?”
“Laat jou instinkte jou lei. Ek het groot vertroue in jou.”
“En wat gaan jy jou baas vertel?”
Sy oë verkreukel weer en sy mond glimlag lui. “Dat ek mal is oor Georgina Walters en dat sy die beste ding is wat met die kinders kon gebeur het, en miskien sommer met my ook.”
Georgina kan net kreun en sy kan hoor hoe hy lag toe die hysbakdeure toeskuif.
’n Paar minute later lê sy met oop, starende oë in haar bed. Die slaap ontwyk haar en haar gedagtes dwaal na haar gesprek met Mark. Dis maklik om van hom te hou. Hy het soos ’n lewensredder hier opgedaag, te lojaal na haar sin, maar sy is bereid om dit te vergewe. Die gesels het haar goed gedoen en sy voel aansienlik beter. Sy weet nie waarom sy na hierdie vlug so moeg was nie. Sy word selde in haar lewe moeg. Eintlik net as sy te veel dink en voel – emosies maak haar moeg en die afskeid in die Kaap was moeilik. Die vier maande was te lank. Daar het weer bande gevorm en die losmaak word al pynliker. Dis waarom sy verkies om nie so lank te bly nie.
Nog steeds nie seker wat haar plan van aksie die volgende dag gaan wees nie, sluit sy – aansienlik rustiger – na ’n halfuur haar oë.