Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse - Страница 12

9

Оглавление

Etiénne bel die Dinsdagoggend. “As ek drie kaartjies kry, kan ek saamgaan?”

“Natuurlik! Maar ek dog hulle is so skaars soos hoendertande.”

“Dit wys jou net wat ek vir jou sal doen. Julle moet aantrek – dis vanaand.”

Georgina gee ’n uitroep van blydskap. “Ek glo dit nie! Jy is ’n skat! Wat skuld ek jou?”

“Wil jy rêrig weet?” Sy kan hoor hy glimlag.

“Jy het so ’n groot mond! Ek is seker jy skrik jou boeglam as ek eendag een van hierdie uitnodigings van jou aanvaar!”

Die diep lag laat haar ook onwillekeurig glimlag. “Georgie, my skat, waarom toets jy dan nie jou vermoede nie!”

“Hoe laat moet ons jou daar kry?” ignoreer sy die opmerking.

“Jy gaan my tog seker toelaat om julle te kom haal? Wanneer dink jy gaan ek weer die kans kry om in daardie huis te kom?”

“Nou goed, kom tot hier, dan gaan ons saam.”

Toe sy die telefoon neersit, tel sy dit weer op en skakel die kantoornommer. Sy vra om met Mark te praat.

“Georgie! Jis, dis lekker dat jy my bel. Ek verlang na jou ook!”

“Mark, ek wil graag vanaand vir Jean ballet toe neem. Wil jy nie asseblief vir jou baas vra of dit reg is nie? Dan bel jy my terug.”

“Waarom praat jy nie sommer self met hom nie? Ek sit hier by hom in die kantoor.” Sy hoor hoe hy aan die ander kant met iemand praat en voor sy kan keer, klink daar ’n ander bekende stem in haar oor op.

“Is iets verkeerd?” Sy hoor die bekommernis.

“Nee … nee, niks is verkeerd nie. Ek wil net weet of ek miskien vanaand vir Jean na die ballet in die operahuis kan neem. Betsy sal na die seuns kyk.” Sy staan op en loop met die koordlose foon tot by die venster. Haar ander hand is in ’n vuis gebal.

“Hoor net by Ann of daar vanaand plek is.”

Georgina kyk fronsend na die instrument in haar hand. Waarom moet sy vir Ann vra of daar plek is? Miskien het hy haar verkeerd verstaan.

“Ek hét kaartjies.”

“Dan is dit goed. Ek het net gedink die losie is dalk al vol. Sê dan net vir Ann hoe laat Edward julle moet oplaai.”

“Ek het gedink ons ry sommer met ’n huurmotor.” Sy vryf met haar hand teen die dik geweefde gordyne.

“Edward kan julle neem en gaan haal.”

Sy stem in en groet haastig.

Jean is eers uit die veld geslaan, dan kan Georgina die opgewondenheid in die bruin oë sien. Hulle stap saam na haar kamer en die volgende halfuur word daar deur die kas geblaai op soek na ’n geskikte uitrusting. Hulle besluit later op ’n swart fluweelrokkie.

Georgina se probleem is groter, want sy besit nie aandrokke nie. Die enigste geskikte uitrusting wat sy het, is ’n wynrooi satynbroek met ’n bypassende loshangende jas. Daarby sal sy ’n swart toppie aantrek. Dit sal vanaand moet doen. Etiénne sal seker baie te sê hê, maar sy gaan beslis nie ’n aandrok vir een aand koop nie.

Georgina het net uit die bad geklim toe André kom sê daar is telefoon vir haar. Dis ’n saaklike Ann Meyerson.

“Juffrou Walters, ek dink daar was ’n misverstand. Daar is nie vanaand plek in die losie nie. En ek is seker u het my ook nooit gevra om plek vir u en Jean te hou nie.”

“Watse losie?” Waarom verwys almal na ’n losie?

“Doktor se losie in die operahuis. Al die kaartjies vir vanaand is alreeds maande gelede uitgegee.”

“Mevrou Meyerson, ek hét kaartjies. So u hoef nie bekommerd te wees nie.”

“Vir vanaand?” Sy kan die ongeloof in die koel stem hoor.

“Ja. En nou sal u my moet verskoon, ek moet aantrek.”

Soos Georgina verwag het, is Etiénne uiters smaakvol geklee in ’n moderne swart aandpak met ’n wit strikdas. En vir ’n oomblik wonder sy waarom sy nog nooit meer vir hierdie mooi man gevoel het nie.

Sy wenkbroue lig toe hy haar van kop tot tone bestudeer. “Nie wat ek verwag het nie, maar jy lyk steeds verruklik, my skat.” Dan draai sy blik na Jean wat skaam eenkant staan en hy gooi sy hande in die lug. “Nou dít is wat ek asemrowend noem!” Jean se wange word pienk van plesier en haar glimlag verlig haar andersins somber gesiggie.

Etiénne se blik dwaal van meubels na skilderye en dan laat hy sag in Frans hoor: “Kan ek jou werk kry as jy teruggaan? Hieraan sal ek gewoond kan raak! Is Sy Hoogheid hier?”

Georgina skud haar kop en beduie na die sitkamer. “Kom binne, ons is effens vroeg.”

William kom verneem of hulle ’n drankie sal drink en Georgina kan haar lag nie vir Etiénne hou wat sy oë vir haar rek nie. Albei sê hulle sal ’n sjerrie neem en toe die seuns die vertrek binnekom, staan Etiénne op en groet vrolik. William bring die twee glasies en dis as hy omdraai en “Naand, doktor” sê, dat die ander eers opkyk en die man in die deur gewaar.

Al vyf van hulle staan op. Die kinders om te gaan groet en Georgina omdat sy skielik uit die vertrek wil wegkom. Hy groet die kinders en dan kyk hy na Etiénne wat besonder stil langs Georgina staan. Dis eers toe Etiénne vorentoe tree en sy hand uitsteek dat Georgina haar stem vind.

“Doktor Parker, dit is Etiénne Druléz, ’n vriend van my.” Die twee mans skud vlugtig hand en dan kyk die groot donker man na sy dogtertjie. “Jy lyk baie mooi.”

Sy glimlag. “Ek is baie opgewonde!”

Hy knik en beduie vir Georgina en Etiénne om te sit en op William se vraag of hy iets sal drink, wys hy na die glasies in die ander twee se hande.

Bertie klim op sy pa se skoot. “Waarom kan ons nie saamgaan nie?”

Die groot hand rus op die blonde koppie. “Want ons drie is nie saamgenooi nie, ons sal maar iets anders moet doen.”

Georgina neem ’n groot sluk van haar sjerrie en vir ’n oomblik is sy seker sy gaan begin stik. Dan kry sy gelukkig weer asem, maar met haar oë probeer sy vir Etiénne beduie dat hy vinniger moet drink.

“Ek het jou nog nooit persoonlik bedank vir die twee mooi skilderye wat in my kantoor hang nie. ’n Mens kry nie meer aldag sulke besonderse werke te koop nie.” Chris Parker kyk na die man oorkant hom, ’n klein glimlaggie om sy mond.

Etiénne is vir ’n oomblik sigbaar sonder woorde, voordat hy breed glimlag. “Dit was my plesier. Ek self het nogal gedink dis besonderse werke.”

“Ek sal graag nog van sy werk wil aanskaf as jy weer daarvan in die hande kry.”

Etiénne se glimlag verbreed nog meer. “Ek sal my bes doen, maar het u al van Georgie se werke gesien?”

Georgina spring haastig op. “Ek dink Edward wag al vir ons.”

Chris draai na Jean. “Ek hoop jy geniet dit baie.”

Haar bruin ogies blink op in syne. “Ek dink ek sal.” Sy soen hom haastig.

In die voorportaal steek Etiénne sy hand uit en die twee mans groet.

Georgina knik ook en dan vryf sy oor Bertie se hare. “Ek skuld jou ’n uitgaan. Dink jy solank waarheen.” Die seuntjie knik tevrede. Dan steek sy haar hand na André uit en hulle twee groet met die moderne handdruk van die jong mense.

Die oomblik toe hulle in die hysbak klim, laat Etiénne sy asem stadig uit. En uit vrees dat hy iets voor Jean gaan sê, laat sy onderlangs in Frans hoor: “Hou jou opinie vir jouself.”

“As ek vanaand ’n vrou was, was ek smoorverlief! Die man is ongelooflik sjarmant. Wat de duiwel is jou probleem met hom?”

“Dít is nie soos hy gewoonlik is nie! En kom ons verander asseblief die onderwerp!”

Toe Georgina laat daardie aand in haar bed klim, het sy ’n onverklaarbare hartseer in haar. ’n Hartseer vir ’n dogtertjie wat so bevoorreg is, maar wat vanaand met die blinkste oë alles en almal om haar ingedrink het, die verwondering duidelik op haar mooi gesiggie. En terwyl Georgina haar na die tyd gehelp het om uit te trek, het sy skielik haar arms om Georgina se nek gesit.

“Dit was die lekkerste aand van my lewe!”

Georgina het nie geweet wat om te sê nie. Sy kon net die skraal lyfie vir ’n oomblik vashou.

Die volgende dag laat sy die kinders by Betsy en dwaal heeldag deur die winkels op soek na die regte geskenke vir hulle. Haar grootste kopseer, egter, is wat om vir haar werkgewer te gee, en of sy iets vir hom moet gee. Etiénne reken aangesien sy in die man se huis gaan wees met Kersfees, behoort sy die een of ander vorm van geskenk te gee. Niks persoonliks nie. Ook nie te duur nie, maar ook nie goedkoop nie. Dit het haar nie veel gehelp nie. Maar een aand toe sy in die bed lê, het sy tog op ’n plan gekom en hoe meer sy daaraan gedink het, hoe sekerder was sy dat dit die oplossing vir haar probleem was. Selfs Etiénne was tevrede.

Harry en Mark daag die Woensdagaand saam met Chris by die huis op en kondig aan dat sy die aand af het en dat hulle haar uitneem. Georgina weet nie wat om te sê nie. Sy kyk vlugtig na haar werkgewer, maar hy is te besig om die kinders te groet en beantwoord nie haar blik nie.

“Chris, sê vir haar sy het die aand af, anders staan ons môre nog hier.”

“Jy is welkom om vanaand uit te gaan, juffrou Walters.” Hy sê dit sonder om na haar te kyk en Georgina draai vererg om.

Soos in Londen, kuier hulle soos nomades van die een gewilde kuierplek na die volgende. Êrens deur die aand beland hulle darem ook by ’n restaurant en Georgina is bly om vir ’n rukkie tot stilstand te kom en iets te eet.

“Waarom het jy my nie vertel jy het ’n kêrel hier nie?” Mark moet sy mond teen haar oor hou om in die rumoer rondom hulle gehoor te word.

“Waar kom jy aan so iets?” Georgina draai haar kop. Hulle oë digby mekaar.

“Saam met wie was jy dan ballet toe?” Hy speel met die hare in haar nek.

Georgina lag. “Jy is nes die kinders!”

“Chris was baie verontwaardig.” Toe sy hom net onbegrypend aankyk, gaan hy voort: “Waarom het jy hom nie gesê jy en Jean wil ballet toe gaan nie? Julle kon in die losie gesit het. Maar nee, juffrou Walters vra haar kêrel om vir haar kaartjies te kry!”

“Hoe moes ek geweet het die man het ’n privaatlosie?” Sy frons ergerlik en hy skud laggend sy kop.

“As jy meer met die man gesels, sal jy dalk baie meer weet.”

“Mark, kan ons oor iets anders praat? Asseblief.”

Voordat sy kan keer, rus sy lippe vir ’n oomblik sag teen haar slape en toe hy terugsit, is daar ’n ondeunde glimlag in sy oë. “Dis nie ’n wonder die arme man weet nie wat om met jou te maak nie.”

Georgina draai haar kop weg. Nie seker wat hy bedoel nie, maar ook nie lus om hom te vra nie.

“O ja, net voor ons van die onderwerp afstap. Jy kan hom gerus gelukwens. Die New York Persklub het hom as Nuusmaker van die Jaar aangewys. Dis ’n baie groot eer!”

Georgina knik net stil haar kop en dan laat Mark laggend in haar oor hoor: “Dis darem baie moeilik om jou te beïndruk, juffrou Walters!”

Gelukkig begin die man aan haar ander kant met haar gesels en kan sy wegdraai van Mark se spelerige blik.

Dis lank na middernag toe Mark saam met Georgina uit die huurmotor klim. “Ek kan nie verstaan waarom jy nie saam met my huis toe wil gaan nie.”

Op die ingewing van die oomblik buk sy oor en soen hom op sy wang. “Waarom ’n lekker aand teleurstellend laat eindig?”

“Teleurstellend vir wie?” Sy oë vernou en sy draai laggend om.

“Dalk vir my, Mark!”

“Jou mond is hopeloos te glad! Eendag is eendag … Jy kan nie vir altyd soos kwiksilwer deur al die mans se hande glip nie!”

Sy lig net haar hand in ’n groet en stap haastig die gebou binne. Die deurwag op nagdiens groet vriendelik. Georgina vra hoe dit gaan en vir ’n paar minute ruil hulle nuus uit.

Toe sy in haar bed klim, dink sy weer oor die aand. Soms voel dit vir haar sy is in ’n droom vasgevang. Hierdie opset is so ver verwyderd van die lewe waaraan sy gewoond was. En in haar wildste drome sou sy nie gedink het sy sal dit so geniet om drie kinders op te pas nie. Sy geniet hulle kinderlikheid. Sy verluister haar aan hulle geselsies. So sonder inhibisies. En noudat hulle haar nie meer as ’n bedreiging sien nie, geniet sy dit om sommer net saam met hulle kind te word. Om met oorgawe te geniet. Sy besef nou dat sy die afgelope jare nooit regtig enige emosie ervaar het nie. Dis nie dat sy ongelukkig was nie, dis net dat sy ook nie juis gelukkig was nie. Sy was maar net.

André kom wys die volgende oggend trots die koerant vir haar. “My pa het ’n prys gewen!”

Georgina neem die koerant en lees die berig, lees die beskrywing van ’n man wat sy nie ken nie. “Dis baie goed. Julle kan baie trots op hom wees.”

“Hy is baie slim en alles wat hy doen, doen hy goed.”

Georgina luister verwonderd na die kinderlike lofprysing. Sy wonder of hy dit vir al sy pa gesê het. Griet sê altyd mans weet nie wat om met hulle emosies te doen nie. Hulle moet geleer word.

Later daardie middag tel sy die telefoon op en skakel ’n nommer en is dankbaar toe sy na ’n rukkie deurgeskakel word.

“Mark, is jy alleen?”

“Ek het geweet jy sal die een of ander tyd swig!”

“Hou op grappies maak. Ek wil jou iets vra.”

“Vra maar, ek is alleen. Maar ek wil net sê my ego is baie gekrenk.” Hy sug in haar oor, maar sy ignoreer dit.

“Die oorhandiging van die persklub se toekenning – dink jy daar is ’n moontlikheid dat ek die kinders daarheen kan neem? André is baie trots op sy pa en ek dink dit sal vir hulle lekker wees om iets van sy wêreld te sien. Ons hoef nie die hele aand daar te bly nie, net vir die oorhandiging.” Sy rammel die sinne vinnig af en toe sy klaar is, haal sy diep asem.

“Ek weet nie … ek sal uitvind en jou terugbel.”

“Mark, ek wil nie hê hy moet weet nie. Hy kan na die tyd vir my kwaad wees.”

“As jy so sê.” En dan groet hulle.

Wilna Adriaanse-omnibus 1

Подняться наверх